Jakobus 1:19-27
Hoe luister ‘n mens? In die eerste plek moet jy kennis neem van dit wat vir jou gesê word. In my geval neem ek dikwels nie eers kennis nie - dit waai sommer by die een oor in en die ander uit sonder dat dit êrens kante geraak het! Om te luister beteken egter ook nie net ‘n passiewe hoor en kennis neem nie. Dit beteken boonop dat jy iets doen omtrent dít wat jy gehoor het. As ek in die oggend in die spieël kyk, sien ek ‘n angswekkende gesig, een met dikgeslaapte oë, ‘n stoppelbaard en deurmekaar hare. As ek nou net omdraai en vergeet wat ek gesien het en só die dag instap, sal ek baie gou daarvan hoor! Daardie gesig in die spieël spoor my egter aan om minstens my gesig te was, my vergeelde ry mieliepitte te skrop, te skeer en my hare te kam. Nét so moet ek ook, wanneer ek God se stem hoor, reageer daarop. God se Woord is soos ‘n spieël vir my waarin ek my eie lewe kan sien, maar dit help nie dat ek maar net sien en kennis neem nie. Ek moet gaan regmaak wat ek daarin verkeerd sien!
Mans kyk gewoonlik net so skrams na ‘n spieël, en sien net die oppervlakkige, terwyl die skoner geslag hulle kan verdiep in wat sy in daardie spieëlbeeld sien. So moet ons ook luister na God se stem uit die Woord. Nie woerts-warts oppervlakkig soos ‘n man in ‘n spieël kyk nie, maar ons moet ons verdiep daarin sodat ons elke plooi en rimpel behoorlik kan raaksien. En dan moet ons dit gaan regmaak!
In die praktyk beteken dit dat ‘n gelowige moet gaan kyk wat in die Woord staan, en dan gaan regmaak waar hy nie leef volgens God se wil nie. As ons byvoorbeeld lees wat Paulus skryf in Kolossense 3, waar hy sê dat die gelowige woede, haat, nyd, gevloek, vuil taal en leuens moet laat staan, dan moet ons nie maar net kennis neem nie maar werk maak daarvan. En waar hy verder skryf dat ons meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, geduldig, verdraagsaam en vergewensgesind moet wees, moet ons waarlik skouer aan die wiel sit en werk daarvan maak om hierdie mooi dinge in ons lewens te implementeer.
Dit bring ons terug na die begin van daardie gesprek van gister, want een van die belangrikste foute wat in ‘n mens se lewe is, is juis die feit dat jy baie meer praat as luister. Gewoonlik is jou tong totaal buite beheer, en jy sê dinge wat ander mense seermaak. Jakobus sê dat as jy dink dat jy godsdienstig is, en jy nie jou tong in toom kan hou nie, dan bedrieg jy jouself. Dan is jou godsdiens waardeloos! (Jak. 1:26)
O die liewe ou tong van ons! So ‘n handige instrument, maar terselfdertyd net so gevaarlik. Paulus het die tong beskryf soos ‘n skip se roer, ‘n relatief klein instrument maar hy kan die skip stuur nét waarheen die stuurman die roer draai. En so is die tong ook maar ‘n ou klein weggesteekte deeltjie van die liggaam, maar sy krag is baie groot. Sê jy iets kwetsend vir iemand, kan dit vir daardie persoon soos ‘n dolk-steek wees. Jy kan hom baie seer maak met blote woorde. Deur die waarheid te verdraai kan jy veroorsaak dat iemand onskuldig in die moeilikheid kom. En selfs deur die waarheid te praat op die verkeerde tyd en konteks, kan verskriklike gevolge inhou!
Maar daar is ook ander maniere om jou tong verkeerd te gebruik. Sekere van ons land se top kunstenaars (laat ek liewer maar nie name noem nie) is baie gewild, júís oor hulle vieslike taalgebruik. Vuil taal, gevloek en selfs die ydellike gebruik van God se heilige Naam, is dikwels die algemene gang van hulle vertonings. Jy voel skoon vuil as jy net na hulle luister! Dit wat God mooi en rein en heilig geskep het, word bevuil en afgekraak en tot ‘n blote vloekwoord gereduseer deur sulke kunstenaars. En deur die ydellike gebruik van die Here se Naam, maak hulle ook van Hom ‘n bespotting en deel van hulle walglike gesprekke.
Die hartseer is dat ons naderhand gewoond raak aan sulke taal, en dan hoor jy dit nie meer nie. Of erger nog, dat jy dit ook self begin gebruik! Dikwels word ‘n goeie, skoon grappie besoedel deur onnodig ‘n paar vieslike vloekwoorde in te gooi.
En met daardie selfde tong waarmee ons sulke vuil taal gebruik, loof ons ook vir God wanneer ons tot Hom bid en wanneer ons lofliedere sing. Dit is in die eerste plek waarvoor die tong gemaak is, om God te eer en aan Hom hulde te bring. Maar alles kom uit die hart. Wat die hart van vol is, loop die mond mos van oor - is dit nie waar nie?
As ek in die eerste plek bereid is om te luister na God se Woord, en my hart daarvoor oopmaak, sal dit my ore, my hart en ook my tong aanraak. Dan sal ek die noodkrete van ander mense begin hoor, dit ter harte neem en my woorde en dade aanwend om goed te doen eerder as om seer te maak. En om God te loof en prys, eerder as om vuil taal te gebruik.
Gebed:
Here, maak dit asseblief stil in my hart dat ek U stem kan hoor in my lewe. Help my asseblief om te lewe soos wat U van my vra, en ook om my tong in toom te hou en reg te gebruik.