Daniël 4:1-37
Iemand vertel my van ‘n ontstellende droom wat sy gehad het. Pas nadat sy wakker skrik, lui die telefoon, en toe sy haar swanger dogter se stem hoor, weet sy dat die droom ‘n waarskuwing was, en sy het geweet hoe om op te tree. Ons het reeds verlede week gesels oor drome, en gesê dat God selde met mense praat deur drome - dit is iets wat slegs by uitsondering gebeur. Tóg lees ons in die Bybel van mense wat boodskappe van God in hulle drome gekry het. Met ou Nebukadnesar het dit twee keer gebeur, en ‘n mens sou dink dat hy geleer het van die eerste keer. Maar nee! Uiteindelik het hy tóg wel geleer op die harde manier, en die gevolg was dat hy later ‘n omsendbrief (’n e-pos?) deur sy koninkryk gestuur het sodat almal kon weet wat met hom gebeur het.
In die koning se omsendbrief vertel hy dat hy hierdie verskriklike droom gehad het van die reuse boom wat in die middel van die aarde staan. Dit was ‘n móói boom wat skadu en vrugte en nesmaakplek gegee het vir ‘n magdom diere en voëls. En toe kom daar op ‘n dag ‘n engel en hy beveel dat die boom vernietig moet word, maar dat die stomp gespaar word. Die stomp moet met ‘n metaalband gebind word.
Hy skryf verder dat hierdie droom bly maal het in sy kop, en hom verskriklik ontstel het, en dat hy al sy raadgewers laat kom het om die droom uit te lê, maar niemand kon dit doen nie. En toe onthou hy van Daniël - die man wat sy vorige droom vir hom uitgelê het, en hy laat haal hom, want “die gees van die heilige gode” is immers in hom.
Daniël was verstom toe hy die droom hoor, en vir eers was hy half bang om die droom uit te lê, want die uitleg was selfs meer ontstellend as die droom sélf. Nebukadnesar por hom aan, en dan vertel Daniël:
“U is daardie boom, Majesteit”, verduidelik Daniël. Hy vertel vir die koning dat God ‘n besluit oor hom geneem het. Hy sal verstoot word uit die samelewing, en sy verstand sal soos ‘n dier s’n word, sodat hy in die veld sal bly en gras vreet soos diere. Dit sal aanhou totdat Nebukadnesar erken dat God die Een is wat al die mag het. Hy pleit by die koning dat hy breek met sy sonde sodat hierdie verskriklike ding nie oor hom kom nie.
Maar Nebukadnesar het Daniël se waarskuwings verontagsaam. ‘n Jaar later sien ons hom waar hy op die dak van sy paleis staan en sy handewerk bewonder. “Kyk net wat het ek alles in my lewe vermag”, het hy tevrede gedink, “ek het hierdie stad ‘n ware koningstad gemaak, en ek is skatryk.”
Maar Nebukadnesar het nie met God rekening gehou nie. Skielik hoor hy ‘n stem uit die hemel wat vir hom sê dat die tyd gekom het, en dat hy soos ‘n dier gaan word. Dit het presies net so gebeur! Wat ‘n verskriklike ding om oor ‘n magtige koning soos Nebukadnesar se lewe te kom! Hy is gestroop van al sy waardigheid en beroof van sy briljante verstand. Uiteindelik, na ‘n lang tydperk het Nebukadnesar erken dat God die Een is wat al die mag het, en nie hý, Nebukadnesar nie. Hy het dan ook sy verstand en waardigheid teruggekry, en hy kon getuig van die grootheid van God. Lees gerus die volle verhaal in Daniël 4.
Hierdie verhaal het subtiele ondertone, en dit het absoluut ‘n immergroen boodskap. Ons kan dalk die hooftema van die verhaal sien as: “Hoogmoed kom tot ‘n val en nederigheid bring herstel,” soos dit ook in Spreuke 29:23 geskryf staan. Nebukadnesar se herstel kom egter eers wanneer hy God as Oppergesag erken. Nebukadnesar was ‘n magtige wêreldheerser met ‘n baie hoë dunk van homself. Maar hy was steeds in die hande van God. Die boodskap wat die skrywer vir sy lesers wou gee, is dat die oormoedige Antiogos IV Epifanes wat oor hulle regeer het toe die boek geskryf is, op dieselfde wyse ook maar in God se hande was. Dit moes hulle hoop gee dat God steeds in beheer is!
Vir my en jou vandag, is die boodskap in die eerste plek dat hoogmoed nie deel mag vorm van ‘n gelowige se lewe nie. Ek het al verskeie kere te doene gekry met gelowiges wat hulleself verhef bo die “gepeupel” - die “gewone Christene” wat nog nie bereik het wat hy in die geloof bereik het nie. Nederigheid is ‘n wonderlike deug! Ek het eenmaal die voorreg gehad om ‘n Voortrekkerkamp by te woon waar die hoofleier van die beweging by was. Jy kon die man kry waar hy in die kombuis met skottelgoed besig was of sommer met die kinders grappies gemaak het. Nie lank daarna nie was hy aangestel as Moderator van die NG Kerk. ‘n Doodgewone, plat-op-die-aarde mens. Geen hoë posisie durf ‘n gelowige verhef bo iemand anders nie!
Die tweede boodskap wat ons vandag hieruit kry, is dat daar vandag ook troos vir ons is, waar politieke leiers hulleself verhef bo enige lewende wese. Ek was ’n rukkie gelede byna van die pad af gery deur ’n swart voertuig met ’n blou liggie. Moenie moedeloos raak nie - hulle hoogmoed sal ook tot ‘n val kom!
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike troos uit hierdie verhaal. Maak my asseblief opreg nederig!