Genesis 42:1-38
‘n Verwoestende hongersnood tref die Midde-Ooste. Mense is radeloos! Die aarde lewer absoluut niks op om van te oorleef nie. Vir jare al bly die reën net weg. Selfs die skatryk Jakob en sy kinders word hard deur die droogte getref, sodat hulle laaste bietjie graan naderhand gedaan is. Moedeloos roep die gryse ou man sy seuns bymekaar: “Ek het gehoor dat daar graan in Egipte is,” deel hy hulle die nuus mee. “As ons wil oorleef, dan sal julle daarheen moet gaan en vir ons gaan koop”.
En so begin een van die grootste dramas van alle tye, ‘n aangrypende drama wat keer op keer vir my ‘n knop in die keel besorg en trane. Josef se klein boetie, Benjamin moet agterbly by Pa Jakob. Hy is die enigste herinnering wat Jakob nog oor het van sy geliefde Rebekka. Die ander tien seuns vertrek op hulle lang reis na Egipte.
In Egipte aangekom, word hulle verwys na die Premier. Hy hanteer persoonlik al die verkope van graan omdat dit so ‘n geweldige belangrike saak is. Die ganse wêreld rondom Egipte se lewe en toekoms hang af van die graan in Josef se skure. Wanneer die tien broers in die deftige saal instap, word hulle begroet deur ‘n baie belangrike “Egiptenaar”, uitgedos in die beste klere en behang van goud. Alles aan hierdie man wys dat hy naas Farao die belangrikste man in Egipte is. Hulle buig diep voor hom - hier moet hulle darem nou hulle passies ken! Twintig jaar het verbygegaan sedert hulle vir Josef verkoop het. Nie alleen het die seun ‘n volwasse man geword nie, maar hy lyk nie eers naastenby meer soos die woestynbewoner-seuns van Jakob nie. Maar die jare het niks aan hulle verander nie, en Josef herken hulle onmiddellik as sy broers. Hy kry die begeerte om op te spring en hulle te gaan omhels en soengroet, maar dan is dit asof ‘n stem vir hom sê: “Moenie!”
Josef behou sy streng gesig, en sonder om van stryk gebring te word deur sy emosies, vra hy bars: "Waarvandaan kom julle?” Josef se gesig sê dit nie, maar binne-in hom is alles ‘n warboel. Skielik onthou hy die droom van twintig jaar gelede, toe sy broers se koringare voor syne kom buig het. Die wiel het reg rondom gedraai! Wat moet hy maak? Nou is hierdie skarmunkels almal in sy mag! Maar Josef koester geen wraakgevoelens nie. ‘n Pikdonker put, slawerny, die tronk - al hierdie pynlike dinge het almal vir Josef gevorm. Pyn verander mense. Pyn kan mense vernuwe, tot totaal ander insigte lei. Maar dit gebeur alleen wanneer jy besef dat God jou dwarsdeur hierdie pyn nooit in die steek laat nie. Dan raak gebrokenheid sinvol.
Skielik besef Josef dat sy broers na hom gestuur is met ‘n doel. Hulle moet getoets word of hulle steeds so vol venyn, afguns en twis is. Hy speel briljant toneel as hy ‘n vyandige houding teenoor hulle inslaan. Hulle word beskuldig van spioenasie. Hulle ontken dit natuurlik heftig, en dan verduidelik hulle dat hulle almal broers is, kinders van een pa. En hulle vertel van die een broer wat dood is (dis nou Josef waarvan hulle praat). Hy glimlag heimlik, maar hulle merk dit nie op sy gesig nie. Josef brand om te hoor hoe dit met Pa en klein Benjamin gaan, maar hy durf nie vra nie. Dan vertel hulle van die jongste seun wat by Pa is. “Pa leef dus nog!” Josef se hart slaan ‘n slag bollemakiesie.
En so kry Josef inligting oor hoe dit met sy familie gaan, maar steeds weet hy nie hoe hulle gesindheid verander het nie. Alleen iets wat hulle hard slaan, sal hierdie sy van hulle openbaar. Dus laat smyt hy hulle in die tronk.
Vir drie dae los hy hulle in die kerker sodat hulle behóórlik tyd kan kry om te besin oor die verlede. Josef wil eers die spul in die tronk hou, en net een terugstuur na Pa toe, maar dan besef hy dat dit nie prakties sou wees nie. Hy is besorg oor sy familie wat swaarkry. Maar hy gaan beslis een agterhou. Hy laat roep hulle, en deel hulle mee dat een van hulle in aanhouding gaan bly. Wanneer hulle onder mekaar praat, hoor Josef dat Ruben hom nooit wou verkoop nie. Hy hoor hoe die beeld van ‘n boetie wat om genade smeek daar by die put, weer voor hulle opdoem. En hy hoor dat hulle berou het oor hulle daad.
Nou kan Josef sy emosies nie meer in bedwang hou nie, en hy moet haastig die vertrek verlaat sodat hulle dit nie raaksien nie. As Josef weer sy emosies onder bedwang het, is hy weer die streng heerser. Hy sal nie vir Ruben in die tronk hou nie, maar eerder vir Simeon. Ongemerk laat plaas hy die broers se geld weer in hulle sakke, en hulle word huistoe gestuur. Terug by die huis skrik hulle hulle yskoud as hulle die geld kry. Pa Jakob word meegedeel van Simeon, en dat daardie Egiptenaar daarop aangedring het dat Simeon slegs vrygelaat sou word as hy eers vir Benjamin sien. Jakob is verslae: nie Benjamin ook nie! Hy wil hom nie óók verloor nie. Benjamin sal nié na Egipte gaan nie! Jakob sit sy voet neer!
Hierdie drama gryp jou aan die hart, en dit laat jou onwillekeurig terugdink aan die duister dinge uit jou eie verlede. Het jy al God se vergifnis daarvoor beleef? As jy waarlik berou het, is God bereid om alles te vergewe en te vergeet. Lees gerus maar in Jesaja 1:18 en Romeine 8:1 hoe volkome God se vergifnis is.
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag kan weet dat U al my sondes reeds vergewe het - dat ek vandag vry is.