Opspraakwekkende hofsake is aan die orde van die dag. En nou praat ek nie oor 'n hofsaak soos dié van Oscar destyds nie. Ek praat oor siviele hofsake waar mense mekaar aanvat oor die een of ander geskil. Boetíé, dan word die vuil wasgoed gewas dat jy net sien sop spat! Die afgelope paar jaar was daar al verskeie sulke sake. En die tragedie is dat nie een van die twee partye werklik daar uitstap as 'n wenner nie. Albei kry gewoonlik ewe seer! Die enigste wat al die pad bank toe lag is die advokate!
Ons is eintlik baie gelukkig in Suid-Afrika dat die mode van hof-toe-slepery wat in Amerika heers, ons nog nie werklik getref het nie. Daar kan jy die nag nie eers ‘n bietjie lekker snork nie, dan sleep jou buurman jou hof toe vir pyn en lyding en verlies van inkomste oor hy nie behoorlik kon werk nie. Jy hou hom mos uit die slaap! Ek dink die enigste rede waarom daar by ons nie baie van hierdie soort hofsake is nie, is omdat dit dikwels baie jare kan neem voordat jou saak voor die hof kan kom. Dit is bloot nie die moeite en die astronomiese koste werd nie.
In Paulus se tyd was daar ‘n baie ingewikkelde en effektiewe regstelsel in plek, bedryf deur die Romeine. Vir gelowiges was die groot probleem egter dat die stelsel bedryf was deur heidene, ongelowiges. Paulus se argument is dat ongelowiges tog nie kan oordeel tussen die sake van gelowiges nie? Hulle het net eenvoudig nie dieselfde standaarde nie. Die kerk of gemeente sou tog die aangewese persoon wees om ‘n dispuut tussen gelowiges op te los. Paulus probeer nie hiermee voorspraak maak vir kerklike howe nie. Die regte ding sou eintlik wees om die dispuut in liefde uit te praat, en as daar nie ‘n oplossing is nie, moet jy dit aan God oorlaat om as Regter op te tree en as dit dan moet, dan ly jy maar jou skade om liefde en vrede te bewaar.
Die groot probleem met dispute is, dat al die vuil wasgoed gewoonlik uitgeslinger word. Beskuldigings word heen en weer gegooi, en al die ou koeie van baie jare gelede word opgegrawe en vertoon aan die wêreld. Gewoonlik word daar ook nog ‘n bietjie bygelieg om jou saak meer diepte te kan gee, en dan is dit nie net die twee partye wat mekaar in die hare vlieg wat seerkry nie, maar dikwels ‘n hele klomp ander mense wat ook in die stof byt.
Alles kom eintlik neer op liefdeloosheid. As ons tog maar net wil gaan luister wat die Here in die Woord sê, dan kan bitter baie pyn, vernedering en seerkry gespaar word. Jesus het die wet van God opgesom deur te sê dat jy God en jou naaste moet liefhê soos jouself (Mat 22:37-40). Hy het verder gegaan met die skokkende uitspraak, dat jy selfs bereid moet wees om jou vyande lief te hê (Mat 5:43-44). Daar moet nóg groter liefde wees teenoor jou medegelowige. “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Joh 13:34-35).
Groot woorde hierdie, en woorde wat ons gerieflikheidshalwe totaal vergeet wanneer ons deur iemand verontreg word. Kom ons vergeet vir eers van die eerste twee, jou vyand en jou naaste, wat ook ongelowiges kan beteken. Die derde voorbeeld van liefde wat Jesus hier noem is iets baie intiem tussen gelowiges, bloedfamilie, boeties en sussies in Jesus. Natuurlik kan boeties en sussies vir mekaar kwaad word, want nie een van ons is engeltjies nie. Dit is egter hoe ons hierdie kwaadword vir mekaar hanteer. Kan ons die dinge wat krap in liefde uitpraat en mekaar vergewe? Dit is wat ware broederliefde beteken. Jesus het ons leer bid: “en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree” (Luk 11:4). Hoe kan ons hierdie gebed bid, as ons nie bedoel wat ons sê nie? Hoe kan ons verwag dat God ons talle sondes moet vergewe, as ons nie eers bereid is om die klein sondes wat iemand anders teen ons doen te vergewe nie? Dankie tóg dat God soveel groter as ons is, en Sy genade so groot dat Hy selfs bereid is om ons onvergewensgesindheid te vergewe!
Die feit is dat ek bereid moet wees om die ding te gaan uitpraat met my medegelowige. En as dit dan so sou gebeur dat hy hardkoppig is en weier om na my kant van die saak te luister, dan is die regte ding om te doen, om hom te vergewe. En as dit moet, dan moet ek selfs bereid wees om maar skade te ly. Die saak is baie groter as ek, nietige mensie, want dit is God se Koninkryk wat in gedrang is. Die wêreld hou ons met valkoë dop. As gelowiges in ‘n hofgeding kom, is dit voorbladnuus: “Kyk wat maak Christene!” Ter wille van die heilige Naam van God durf ons nie in sulke dinge beland nie, want dit maak ‘n klad, ’n swart inkkol op die vlekkelose kleed van Jesus.
As daar géén oplossing is vir ‘n geskil tussen gelowiges nie, is die aangewese ding om dit na die kerkraad te neem, sodat die gemeenteleiers kan besluit, en die saak dus tussen gelowiges hou. Sodoende word God se Naam ten minste beskerm.
Gebed:
Here, leer my om waarlik lief te hê, en om te kan vergewe, selfs al is die onreg teen my baie groot.