Het Jy MY Lief?

21 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Het Jy MY Lief?

Johannes 13:31-38

VIDEO * OUDIO

Moeder Theresa word deur die wêreld gesien as ‘n ikoon van diensbaarheid. Sy was vereer met ‘n Nobel Prys toekenning - die hoogste eer wat enigeen kan kry. As ons egter na haar lewe gaan kyk, dan sien ons eintlik ‘n vaal bestaan van harde werk en swaarkry. Sy het daagliks te doene gehad met die armstes van armes. Haar maer, verrimpelde gesig was beslis nie dié van ’n filmster nie. In haar lewe was daar absoluut géén glorie nie!

Wanneer Jesus vir Sy dissipels sê dat Sy tyd van verheerliking aangebreek het, dan moet ons ook hierdie heerlikheid in perspektief stel. In menslike terme sien ons ‘n verheerliking as glans en glorie en alles wat blink. By ‘n gala-aand is almal uitgedos in die mooiste en duurste klere, en die edelstene skitter soos die sterre. Die verheerliktes word net mooi dinge toegedig, al is hulle soms vrot van binne. En die kroon wat hulle ontvang, mag dalk pragtig lyk en glorie uitspel, maar dit is ook maar verganklik en hol van binne.

Jesus se verheerliking werk totaal anders: ‘n Nag van angs in Getsemane, waar Hy bloed sweet en worstel met God, lei Sy verheerliking in. Dan volg die veragtelike daad van verraad deur een van Sy vertrouelinge. Hy word gevange geneem en na die hof gesleep waar valse getuienis voor Hom geslinger word. Die vriend waarop Sy hoop gebou was om die uitgestuurdes te lei, verloën Hom in sy grootste uur van nood.

Ja, dit was maar die begin van Jesus se verheerliking! Dit sou egter nog baie erger word! Hy is gespot en hulle het op Hom gespoeg en Hom geslaan. Die hoogtepunt van Jesus se verheerliking sou aanbreek wanneer die soldate ruwe spykers deur Hom kap teen die vloekhout vas, waar Hy moes hang as die bespotting van die ganse wêreld, op ‘n plek bedoel slegs vir die slegste van misdadigers. Is dit verheerliking?

Nie alleen was hierdie grusame gebeure ‘n verheerliking vir Jesus nie, maar ook vir God almagtig. Want hierin kry die grootste liefdesdaad van alle tye gestalte. Watter pa sal bereid wees om sy enigste seun, die een wat hy liefhet, te laat offer op ‘n grusame wyse sodat slegte mense gered kan word? Abraham was wel bereid om sy enigste seun Isak te offer, maar dit was vir God, en dit was baie edel. Nogtans het hy nooit tot die daad oorgegaan nie. Wanneer God dus Sy enigste Seun, die Een wat Hy liefhet, ter slagting stuur om geoffer te word sodat slegte mense wat Sy vyande is, gered kan word, dan kan Hy alleen bekroon word met die hoogste eer en verheerliking wat daar óóit moontlik is. En Jesus, wat Hom vrywillig aan hierdie grusame marteling en vernedering onderwerp, móét net eenvoudig hiervoor verheerlik en vereer word met die hoogste eer denkbaar. As Moeder Theresa ‘n Nobelprys kon kry - hoeveel te meer Jesus!

Alles kom eintlik neer op liefde. Dit was die grootste liefdesdaad van alle tye! Jesus verbind hierdie liefdesdaad ook aan ‘n nuwe gebod wat Hy die dissipels gee op daardie skrikwekkende aand: “Julle moet mekaar liefhê.” Ons sou dalk wou sê dat dit mos al ‘n ou gebod is uit die Ou Testament, dat ons God moet liefhê en ons naaste soos onsself. Maar die liefde waarvan Jesus hier praat, is baie dieper as dit. “Soos ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê!” Hoe lief het Jesus hulle (ons)? Só lief, dat Hy bereid was om die verskrikking van die kruis te trotseer vir hulle (en ons). Hoe lief het ek en jy ons medegelowige? So lief dat ons selfs die ergste marteling sal ondergaan vir hom?

Hierdie soort liefde het eintlik nie eers die tien gebooie nodig nie, want outomaties sal jy nie iemand anders se eiendom vat, hom doodmaak of seermaak nie en dit sal tweede natuur wees om niks sleg van hom te sê nie. Maar hierdie liefde is nog véél dieper, want die soort liefde waarvan Jesus hier praat, word verwoord in Paulus se gedig oor liefde in 1 Korintiërs 13.

Ons sê baie maklik dat ons Jesus so liefhet dat ons bereid is om enigiets te doen vir Hom of ons medegelowige en medemens. In teorie is dit maklik, maar in die praktyk raak dit ‘n totaal ander storie! Ja, selfs die grote ou Petrus, die Rots, die een met die sleutels van die Koninkryk, moes dit uitvind op die harde manier. “Ek sal my lewe vir U aflê!”, sê hy vol selfvertroue vir Jesus. Maar dan moet Jesus hom hard neerbring aarde toe, want voor daardie droewige nag verby sou wees, sou die einste Petrus nie minder nie as drie keer vir Jesus verloën. “Ek sal my lewe vir U aflê!” Werklik?

Petrus was werklik lief vir Jesus. Sy optrede het dit nie rêrag gewys nie en hy het hard geval! Nogtans het Jesus hom steeds lief en ná Jesus se hemelvaart tel Hy vir Petrus op en maak hom sterk deur die Heilige Gees. Die vraag aan elkeen van ons is of ek Jesus waarlik liefhet? Hoe groot en sterk is my liefde vir Hom en hoe groot is my liefde vir my medegelowige?

Gebed:

Here, my liefde vir U en my medemens skiet so ver tekort. Hef my op, asseblief Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026