Help Asseblief!

28 August, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Help Asseblief!

1 Korintiërs 16:1-12

Jerusalem was in groot nood: die gelowiges het in armoede verval. Paulus sê nie pertinent wat gebeur het nie, ons kan maar net raai. Dalk was die verwagting op Jesus se wederkoms so groot, dat mense bloot ophou werk het. Nou sit hulle en wag dat Hy hulle moet kom haal. Die verklaring wat dalk meer sin maak, is vervolging! Die Jode het baie sterk familiebande gehad, wat nie alleen die naby familie ingesluit het nie, maar ook ‘n wye uitgebreide familie. Hierdie familie het deur dik en dun bymekaar gestaan, mekaar ondersteun en gedra.

Maar toe gebeur die “verskriklike” ding, dat van die familielede hulle geloof “verraai” en Christene word. Vir die stoere Jode was dit een te veel, en alle familiebande is met hierdie “wegbrekers” verbreek. As jy nie meer familie is nie, dan word jy op géén wyse meer ondersteun nie. Die probleem was dat die mense só afhanklik van mekaar was, dat die arme Jode wat Christene geword het, skielik totaal sonder enige inkomste gesit het, want niemand wou meer met hulle handel dryf of hulle op enige wyse ondersteun nie. Hulle was nou slegs aangewese op hulle nuwe familie, hulle mede-Christene. Ongelukkig was omtrent almal van hulle in Jerusalem in dieselfde bootjie. Hulle het mekaar gehelp, maar uiteindelik was daar net eenvoudig nie meer middele om mekaar te kon help nie.

En dit is waar die gemeentes in die buiteland ingepas het. Hulle het nie dieselfde probleme van verwerping gehad wat in Jerusalem geheers het nie, en hulle lewe kon dus normaal voortgaan. Paulus doen nou ‘n beroep op die gemeente in Korinte om ook te maak soos die ander gemeentes. Wanneer hulle Sondae bymekaar kom, moes hulle geld saambring vir die gelowiges van Jerusalem. Wanneer daar dan genoeg is, sal ‘n paar manne dit wegbring na die Jerusalemgemeente.

Wanneer Paulus hierdie brief skryf, is hy in Efese. Maar soos gewoonlik, is sy plan om weer binnekort aan te skuif. Die lang pad wink vir hom, en hy besef dat daar nog vir hom ‘n groot sendingveld ooplê. Hy beplan om met ‘n groot ompad deur Masedonië te reis om gemeentes daar te besoek, en dan uiteindelik by Korinte aan te doen. Daar wou hy dan ‘n tydjie deurbring. Dinge het egter vir hom anders uitgewerk as wat hy beplan het. Die probleme in Korinte het later baie groter blyk te wees as wat hy gedink het, en toe moes hy inderhaas op ‘n skip klim en die Egeïese see oorsteek na Korinte om dinge daar te gaan regmaak. Dit was egter nie ‘n baie geslaagde besoek nie!

Intussen stuur Paulus vir Timoteus na Korinte om sake daar in orde te probeer bring. Timoteus moes ook Paulus se brief in Korinte gaan aflewer. Paulus maak dus voorbrand in sy brief by die Korintiërs om Timoteus vriendelik en gasvry te ontvang. Hulle moes hom ook finansiëel bystaan solank hy daar was. Timoteus was nog maar ‘n jong man, en die mense kon dalk op hom neersien. Daarom vra Paulus pertinent dat hulle hom sou respekteer, en nie op hom sou neersien nie.

Paulus en Timoteus kom natuurlik al ‘n langpad saam. Paulus het hom ontmoet tydens ‘n besoek aan Listra. Sy ma was ‘n Jodin wat tot bekering gekom het, en sy pa ‘n Griek. Timoteus was toe ook reeds ‘n gelowige, en Paulus het sommer dadelik gesien dat hierdie man baie potensiaal het as ‘n evangelis. Toe begin sy onderrig onder leiding van die groot meester, Paulus. Wat ‘n wonderlike voorreg! Vir Paulus was Timoteus van onskatbare waarde op sy sendingreise. Ná sy terugkeer uit Korinte het Paulus vir Timoteus in Efese agtergelaat om daar as leraar op te tree.

Aan die einde van Paulus se brief maak hy melding van Apollos, en dat hy hom na Korinte wou stuur, maar dat Apollos geweier het. Ons sal dalk maklik vir Apollos daaroor wou veroordeel, maar dit was nie so eenvoudig nie. Daar was ernstige groepvorming in Korinte, en Apollos het geweet dat as hy daarheen sou terugkeer, sou dit sake net vererger. Daarom bly hy liewer weg en bewaar die vrede.

Deur hierdie stukkie geskiedenis praat die Here vandag ook met jou en my. In die eerste plek moet ons weet dat daar vandag, net soos in Paulus se tyd, groot getalle gelowiges is wat wreed vervolg en onderdruk word, bloot omdat hulle Christene is. Geopende Deure en Inkonteks vertel die hartseer verhale van miljoene sulke mense. Hulle het ons hulp en ons gebede dringend nodig. Wat doen ons daaromtrent? Bibles for Believers vertel weer aan die ander kant van baie miljoene gelowiges wat nog nooit in hulle lewe ‘n Bybel besit het nie. Hierdie organisasie versprei Bybels waar mense so arm is dat niemand ‘n Bybel kan bekostig nie. Ons sit met ‘n oorvloed! Kom ons help, en maak ‘n reuse verskil in iemand se lewe.

Gebed:

Here, in ons oorvloed vergeet ons so dikwels van ander wat niks het nie. Maak asseblief ons oë en hande en beursies oop vir ander se nood.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026