Voor 'n groot kerkvergadering neem ek my eenmaal voor om ‘n paar dinge te sê wat my grief: “Ek sal reguit sê wat my pla. Hierdie saak moet reggestel word!” Toe die vergadering egter aanbreek, begewe my moed my, en kon ek met die beste wil nie praat nie. Ek was so bang dat ek dalk op iemand se tone sou trap! Ek wou niemand seermaak nie. Hierdie is dalk een van my baie swak punte. As ek moet praat in so ‘n situasie, struikel ek oor my eie tong, en dan kom dinge skeef uit. Gee my liewer ‘n stuk papier, dan skryf ek vir die man ‘n brief, en verduidelik my probleem, daarmee is ek gemaklik. Op papier kan ek my gedagtes rustig formuleer, en as daar dalk ‘n verkeerde woord inglip, dan is dit maklik om te verander voordat ek die “STUUR” knoppie druk. Die probleem is dat jy so maklik die verkeerde ding sê in ‘n oomblik van swakheid, en dan maak jy seer terwyl jy nooit werklik bedoel het om seer te maak nie.
Wanneer ek dan ook ‘n ernstige brief skryf, laat ek hom verkieslik eers ‘n dag oorstaan voordat ek hom stuur, sodat ek eers kan seker maak dat ek nie iets sê wat nie gesê moes wees nie.
Dalk het Paulus dieselfde probleem gehad, of so het die Korintiërs ten minste gedink. Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy baie braaf is wanneer hy vir hulle skryf, en dan sê hy soms baie harde dinge vir hulle. Dan is hy nie bang om hulle die Leviete voor te lees nie. Wanneer hy hulle egter in die oë kyk, is hy so mak soos ‘n lammetjie - g’n skewe of harde woord uit sy mond nie!
Iemand wat hard aangespreek word, pluk egter gewoonlik onmiddellik ál sy wapens uit en veg terug. Al waaraan hy op daardie oomblik dink, is om homself te verdedig, en natuurlik is aanval die beste strategie van verdediging. Gewoonlik kom jy nêrens deur iemand hard aan te spreek nie. Harde woorde is nie die werk van die Heilige Gees nie, maar die produk van jou eie menslike denke.
As jy met iemand wil praat oor iets wat hy verkeerd gedoen het, dan verg dit waarlik die wysheid van Salomo. Aanval is beslis nié die antwoord nie. Het jy al gesien wat gebeur met ‘n kind as jy met hom raas? Hy raak bang vir jou, en beplan dan om dieselfde verkeerde ding volgende keer op só ‘n skelm manier te doen dat hy nie weer uitgevang gaan word nie. Gesels jy egter sag en rustig met hom, en verduidelik waarom dit verkeerd is om te doen wat hy gedoen het, mag hy dit dalk oorweeg om uit eie vrye wil tot ander insigte te kom.
Daar is egter ‘n baie belangrike faktor waarmee jy moet reken wanneer jy so ‘n gesprek aanknoop: Die werk en plek van die Heilige Gees. Geen geestelike gesprek durf plaasvind sonder dat die Heilige Gees daarby betrek word nie. Persoonlik is ek en jy net eenvoudig te swak om enige mens te kan oortuig van sonde. Die Heilige Gees is die enigste Een wat dit kan doen. Daarom is dit van uiterste belang dat wanneer ons met iemand gesels, ons dit biddend sal doen en die Heilige Gees sal vra om die spreker te wees in die gesprek. “Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig,” skryf Paulus 2 Kor 10:4.
Dit bly egter steeds moeilik om iemand mondelings te oortuig. My eie ondervinding is dat elke keer as iemand my so aanvat oor ‘n ding, dan slaan ek bottoe. Ek wil sélf die saak uitklaar met die Here. Kry ek die gesprek egter op papier, dan het ek tyd om dit te herkou en te ondersoek en daaroor te bid. Dit gee my ook die geleentheid om te gaan kyk wat die Bybel daaroor sê.
Dalk is dit juis om hierdie rede wat Paulus, en ek sélf ook, dit baie gemakliker vind om ‘n moeilike situasie op skrif te hanteer. Wanneer dit gebeur dat ek vir iemand moet skryf, dan skryf ek die brief biddend. Ek lees dit weer en weer deur, en maak baie, baie seker dat ek die stem van die Heilige Gees reg verstaan, en dat ek nie skryf uit menslike oorwegings nie, maar dat my gedagtes gelei word deur die Here. Terselfdertyd moet ek ook een honderd persent seker maak dat die dinge wat ek skryf absoluut Skrifgebonde is, en dat dit nie maar dinge is wat ek voel, of uit my duim suig nie. Dit is natuurlik ook makliker om skriftelik ‘n ding reguit te sê, want die kanse is baie kleiner dat die persoon sommer die gesprek gaan kortknip en nie verder luister nie. En al doen hy dit, kan hy altyd later weer teruggaan en lees wat jy geskryf het, wanneer die Heilige Gees eers met hom begin werk het. Natuurlik is die voordeel ook dat hy die boodskap oor en oor kan lees.
En dan wonder jy waarom ek dagstukkies skryf? Die Here het my hierdie wonderlike geleentheid en metode gegee om met jou te kan praat. En die bonus is dat jy kan reageer hierop en vir my terug skryf nadat jy dit herkou het. Ek dank die Here elke dag daarvoor.
Gebed:
Dankie Here, dat U my die geleentheid gee om so met baie mense te kan praat. Help my asseblief om slegs te skryf wat U my beveel.