Handelinge 28:16-31
Hierdie is ons laaste dagstukkie vir die jaar. Ons beplan om DV weer middel Januarie te begin met ‘n nuwe reeks. Ons behoort ook binne die volgende paar dae die reeks oor Handelinge as ‘n E-boek te publiseer.
Drie maande gelede het ons met die eerste dagstukkie oor die opwindende boek, Handelinge begin. Persoonlik het ek geestelik baie ryker anderkant uitgekom. Al my lof en dank aan Hom wat groot is, want dit is alleenlik die wonderlike inspirasie van die Heilige Gees wat my elke dag die woorde gegee het vir hierdie reeks.
As ons terugdink oor wat ons gelees het in Handelinge, dan kom die vraag op: waaroor het die boek nou eintlik gehandel? Jy het seker agtergekom dat Lukas deurgaans probeer wys het hoedat die Evangelie binne ‘n kwessie van dertig jaar oor die ganse bekende wêreld versprei het. Alhoewel ons meestal van Paulus se doen en late lees, is hierdie géénsins ‘n biografie oor Paulus nie. Dit was nie Lukas se bedoeling nie, alhoewel Paulus tóg op die oog af die hoofrol speel in hierdie verhaal. Ons sien dit byvoorbeeld duidelik in die feit dat Lukas sy verhaal afsluit waar Paulus in huisarres is, maar dat hy steeds die Evangelie vryelik verkondig in Rome. Niks word vermeld van sy latere marteling en van Paulus en Petrus se marteldood nie, alhoewel Lukas wel deeglik bewus moes gewees het daarvan terwyl hy die boek geskryf het. Vir Lukas het dit eenvoudig beteken dat die Evangelie nou die uiteindes van die wêreld bereik het en dat die verhaal dus daar kon afsluit.
Eintlik het die verhaal ook nie hier geëndig nie. Volgens oorlewering het Paulus ook die Evangelie in Spanje verkondig na sy eerste vrylating. En daar is die gruwelike marteling van gelowiges deur Nero!
In die laaste perikoop in Handelinge beskryf Lukas hoedat Paulus vir twee jaar in huisarres geplaas is. Hy het ‘n huis gehuur en ‘n soldaat het hom daar bewaak. Daar was ‘n gedurige stroom van besoekers wat met hom kom praat het en Paulus het ook verskeie briewe geskryf wat na die gemeentes gestuur is wat hy deur die jare gestig het.
Skaars drie dae na sy aankoms in Rome, nooi Paulus die Joodse leiers in die stad uit om met hom gesprek te voer. Paulus se doel was om uit te vind of hulle al ‘n amptelike klag teen hom ingebring het by die keiser. ‘n Verdere motief vir hierdie ontmoeting was natuurlik ook om die Evangelie aan hierdie Jode te bring. Paulus het enige moontlike geleentheid gebruik om die Evangelie uit te dra! Tydens die ontmoeting verduidelik Paulus waarom hy hier ‘n gevangene is en dat hy onskuldig is en uit nood homself op die keiser moes beroep, anders was hy beslis doodgemaak. Terselfdertyd onderstreep Paulus ook sy lojaliteit teenoor die Joodse volk en al hulle leerstellings en tradisies. Wanneer hy hulle vertroue gewen het, maak hy met hulle ‘n afspraak om vir hulle alles omtrent die Christelike geloof te vertel, aangesien hulle laat blyk het dat hulle graag meer wou hoor.
Op die gegewe dag daag daar toe vroeg die oggend ‘n groot klomp Jode op om na Paulus te kom luister. In detail verduidelik Paulus vir hulle alles wat daar was om te weet en die gesprek gaan die hele dag voort tot laat die aand. Etlike Jode neem die geloof aan, maar die oorgrote meerderheid bly skepties. Om sommer so jou tradisies wat oor jare en jare in jou ingedril is op te gee, is nie maklik nie. Die manne het hulle koppe geskud en begin uitloop. Maar Paulus moes eers die laaste woord inkry: Uit Jesaja 6 haal hy vir hulle aan, waar die profeet voorspel het dat daar vir hierdie volk (dis nou die Joodse volk) gepreek is, maar dat hulle sintuie sodanig afgestomp het dat hulle onaangeraak is deur God se boodskap en dat hulle lewens dus nie vernuwe kon word nie.
Maar dan maak Paulus dit vir hulle baie duidelik dat hulle ongehoorsaamheid baie beslis nie die voortgang van die Evangelie aan bande kon lê nie. Inteendeel, God se boodskap van redding sou voortaan verkondig word aan diegene wat nie aan die Joodse volk behoort nie. O ja, daardie mense sou wél luister! Die finaliteit van Paulus se woorde oor die ongeloof van Israel bring gelykertyd ook hoop vir die mense buite die grense van Israel. Vir Lukas is die kerk dus nou die nuwe Israel en van nou af is almal wat in Jesus glo, ongeag van hulle volksverband, ras of taal deel van hierdie ware volk van God!
Handelinge vertel nie bloot die verhaal van die stryd en oorwinning van ‘n klompie Christene in die eerste eeu nie. Nee, dit is die verhaal van die Here se betrokkenheid in ons wêreld. Dit is die verhaal van mense wat gehoorsaam geword het aan die wil van God. Die “handelinge” van die opgestane Jesus is nog geensins klaar nie. Hy is nog steeds met die Evangelie op pad na mense toe en Hy gebruik steeds gewone gelowiges soos ek en jy om Sy doel te bereik. Die persepsie dat dit slegs ‘n Paulus, ‘n dominee of ‘n pastoor is wat die Evangelie mag verkondig is ‘n totale wanpersepsie. Ek en jy is Sy werktuie en ons moet oefen om fyn te luister na die influistering van die Heilige Gees om so agter te kom hoe en waar die Here ons wil gebruik in die uitvoering van Sy “handelinge”.
Gebed:
Here, dankie dat ek vandag waardig geag is om in U diens te mag staan. Help my om elke moontlike geleentheid aan te gryp om U Evangelie uit te dra!