1 Samuel 22:1-23
Vir Dawid was die Filistynse stad, Gad ‘n noue ontkoming. Hy het nie lank tevore nie 200 Filistyne doodgemaak en dit moes sékerlik nog vars in hulle geheues gewees het. Dawid moes dus weer inderhaas vlug om daar weg te kom. Maar waarheen? Hy vlug na die Adullamgrot toe, sowat 16km suid-wes van Betlehem, op die grens tussen Juda en die Filistynse gebied. Hier was Dawid veilig en hy laat sy familie ook kom sodat hulle Saul se vervolging kon vryspring. Die woord het baie gou versprei oor waar Dawid weggekruip het, en baie gou begin daar ‘n streep mense na Dawid uitwyk. Dit was sekerlik maar ‘n rowwe klomp, want ons lees dat dit almal was wat op die een of ander manier in die moeilikheid was - mense wat moes vlug voor hulle skuldeisers of wat verbitterd was oor iets. In Dawid het hulle ‘n leier gesien wat hulle ’n veilige hawe kon bied in hulle beproewing. Aanvanklik het daar omtrent 400 manne opgedaag, maar weldra groei die groep tot 600 manne en al hulle aanhangsels.
Dawid was egter besorg oor sy ouers by hom in die grotte want hulle kon nie onbepaald daar bly nie. Toe gaan lê Dawid ‘n besoek af by die koning van Moab. Dis immers waar sy eie Oumagrootjie, Rut vandaan gekom het - miskien sou die koning hom goedgesind wees? En inderdaad het dit gewerk, en Dawid se ouers kon by die koning bly so lank as wat hy in die bergvesting geskuil het!
Op ‘n dag kom die profeet Gad na Dawid toe: “Dawid, jy kan nie langer hier in die grot wegkruip nie.” Dawid moes uitkom in die ope en na Juda gaan. Tussen sy eie mense moes hy hom gaan vestig sodat hy hulle vertroue kon wen vir die dag wanneer hy koning sou word. Hierdie profeet sou later ‘n baie groot rol in Dawid se lewe speel.
Dawid moes op die harde manier leer dat ‘n mens nie hoë doelwitte kan bereik deur jou te onttrek uit die samelewing nie. Vandag is dit steeds so en God wil ons gebruik júís binne die samelewing. Dis dáár, tussen mense waar ons eers werklik ons Christenskap kan uitleef.
Intussen was ‘n tragedie besig om te ontvou by Saul. In Gibea het Saul in die skadu van ‘n Tamarisk gesit, spies in sy hand. Hy was op soek na Dawid om hom dood te maak. Die swart wolk oor Saul se gemoed het weereens die oorhand oor hom gekry en hy het begin om sy amptenare en die lede van sy stam, Benjamin daarvan te beskuldig dat hulle besig was om teen hom saam te sweer. Niemand het hom vertel dat sy eie seun met Dawid ‘n verbond gehad het nie. Niemand het medelye gehad met hom, arme Saul nie. Almal was teen hom! Só het Saul voortgeteem en die manne moes maar net luister hoe hulle afgekraak word.
Skielik tree die slaaf Doëg na vore! Hy was mos by toe Agimelek die brood en Goliat se swaard vir Dawid gegee het. Nou was Saul woedend. Hy laat ontbied Agimelek en sy hele familie asook al die priesters van Nob. Hulle moes kom rekenskap gee waarom hulle sy grootste vyand gehelp het.
Toe Agimelek voor Saul staan, kon hy nie sy verbasing verberg oor hierdie verskriklike aantygings nie. Ja, natúúrlik het hy vir Dawid gehelp, want Dawid was mos Saul se groot generaal, en boonop sy skoonseun! Wat was dan nou verkeerd daarmee?
Maar Saul wou géén rede verstaan nie! Hy beveel sy amptenare om Agimelek en sy hele gevolg dood te maak! Maar nie een van die amptenare het kans gesien daarvoor nie – hierdie was dan manne van God! Dan word Doëg beveel om die grusame taak te verrig. Daardie dag wis hy vyf en tagtig priesters uit. Ook hulle gesinne word nie gespaar nie, en almal, selfs die babas en diere in die dorpie Nob word verteer deur die bloedige swaard van Saul. Slegs een enkele priester, Abjatar, Agimelek se seun ontsnap en vlug na Dawid. Hy het later ‘n groot invloed in Dawid se regering gehad.
Saul, die man wat eenmaal ‘n man na God se hart was, het nou alles wat heilig was verwerp. Hy het selfs géén ontsag meer gehad vir priesters of profete nie. Dawid, aan die ander kant, was besig om rondom hom al die uitgeworpenes van die samelewing te versamel. Hy het hom ontferm oor almal wat vervolg word en wat swaargekry het. Hy het vir hulle ‘n tuiste en gemoedsrus aangebied. Hy het dan ook al hoe meer steun gekry van die gewone mense, want hulle het baie gou raakgesien dat hy omgee vir hulle. Dawid se steun het uiteindelik uitgebrei na al die vlakke van die samelewing - beswaardes, vlugtelinge, priesters, profete en selfs prinse!
Wie is die mense wat onder jou vriendekring tel? Is dit slegs diegene wat iets in die lewe bereik het? Is dit slegs die invloedrykes of “goeie” mense? Dawid se vriendekring was baie verdag. Maar só was Jesus se vriendekring - daar was prostitute, tollenaars, egbreeksters en allerhande gure karakters. Dit is die soort mense met wie Jesus Hom opgehou het, en só ook Dawid! Is dit nie dalk ook wat Hy vandag van my en jou vra nie? Moet ons nie ‘n slag gaan herbesin oor wie ons mee meng nie? Gee ek werklik nog om vir diegene wat swaarkry of wat iewers in die lewe gestruikel het?
Gebed:
Here, help my asseblief om my hart oop te maak vir mense wat minder bevoorreg is as ek - dat ek nie sal anderpad kyk wanneer iemand my nader om hulp nie!