Gróót fees!

11 April, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Gróót fees!

Nehemia 8:14-19

VIDEO | OUDIO

Ek hoop hierdie afgelope Paasfees was vir jou ook so ‘n asemrowende gebeurtenis as wat dit vir my was! Ons het verlede week elke aand ‘n “adoramus diens” gehad. Dit was aanbiddingsgeleenthede waar die gemeente kon stil word voor die Here met die oog op die naderende Paasfees. Die kerkgebou se ligte was alles af, buiten vir drie verligte kruise voor in die kerk. Verder was daar slegs ‘n aantal kerse. ‘n Gewyde stilte is deurgaans gehandhaaf. Die diens het bestaan uit voorlesings uit verskeie Skrifgedeeltes en die voordra van ‘n paar treffende gedigte van bekende digters. Die sang was gewyd en amper gedemp. Dit alles het ‘n wonderlike atmosfeer van gewydheid geskep, wat Goeie Vrydag en Paassondag twee groot hoogtepunte in my lewe kon maak!

Nadat die Wet aan die volk voorgelees was, het die leiers van die volk met die priesters en Leviete bymekaargekom om te gesels oor wat hulle gehoor en beleef het. Natuurlik was Esra ook daar, en hy het hulle gesprekke gelei. Toe maak hulle ‘n interessante ontdekking, dat daar ‘n spesifieke fees was waarvan almal vergeet het, een wat Moses nog ingestel het tydens hulle omswerwinge in die woestyn. Op die sewende maand moes almal vir hulle hutte bou van boomtakke en vir sewe dae lank daarin bly! Dit moes hulle herinner aan die tyd toe hulle in die woestyn moes oorleef ná hulle uittog uit Egipte.

Dit was nou juis die sewende maand, en dit was ‘n gulde geleentheid om weer hierdie fees in te stel. Maar omdat niemand meer geweet het van hierdie fees nie, moes almal regdeur die land baie vinnig daarvan vertel word. Daar was natuurlik nie moderne kommunikasiemiddels soos TV, radio of selfone nie, dus moes boodskappers regdeur die land die nuus gaan vertel. Elke persoon in Judea móés weet hiervan, en almal moes duidelike instruksies gegee word oor wat hulle te doen gestaan het. Hulle moes na die berge gaan en takke gaan haal om hulle hutte te bou. Dit kon olyfbome, wilde olywe, mirtebome, dadelpalms of enige welig-groeiende plante wees. Die doel was om iets te bou wat beskerming kon bied teen die elemente.

Dit sou nie juis saakmaak waar hulle hierdie hutte bou nie. In ‘n digbeboude stad soos Jerusalem, kon hulle dit sommer op hulle huise se platdakke bou. Hierdie hutte moes hulle herinner aan God se beskerming en bewaring tydens hulle woestyntog. Maar dit moes hulle verder ook hoop gee vir die toekoms omdat hulle op God kon vertrou om hulle verder nog steeds so te beskerm en bewaar!

Met groot ywer het die hele volk die berge ingevaar om takke te soek, en toe begin die bouwerk. Daar het ‘n feestelike atmosfeer geheers, en baie gou was elke gaatjie in Jerusalem gevul met groen hutte. Die voorhof van die tempel was van hoek tot kant bebou en al die stadspleine, veral dié by die Waterpoort en die Efraimspoort was oortrek van hutte en nogmaals hutte! Daar was jolig feesgevier en die vreugdevure het hóóg gebrand. Ek kan my die prentjie voorstel van hoe daar sekerlik vrolik gesing en gedans was, en hoe die vrolike gelag saans rondom die kampvuurtjies opgeklink het.

Dit was egter nie alles net pret en plesier nie, Esra het elke dag vir almal voorgelees uit die boekrol van die Wet van God. Dit was immers waaroor dit alles gegaan het! Dit was oor die wonderlike God wat hulle gered en bewaar het en hulle weer teruggebring het na hulle geboorteland. Verder moes dit vir hulle op ‘n baie besonderse manier aan God verbind het, deur die agste dag van die fees as ‘n gewyde rusdag deur te bring.

Nehemia vertel dat daar sedert Josua se tyd toe hy die volk die beloofde land ingelei het, nog nooit weer só ‘n groot huttefees gevier was nie!

Dit laat my só terugdink aan die tyd toe ek ‘n jong seuntjie was. Ons het elke jaar op Waterval Boven die Geloftefees gevier. Dit was nét so ‘n jolige fees wat elke keer ‘n volle week aangehou het. Daar was kampvure en Boeresport en volkspele. Dit was ‘n gróót makietie wat een en elk met gróót entoesiasme en vrolikheid aangepak het. Maar dan, wanneer 16 Desember aangebreek het, het alles skielik verander in ‘n stil, stemmige, gewyde atmosfeer. Die hele omgewing se mense was bymekaar op die feesterrein in die veld skuins oorkant ons skool. Die feessaal was gepak van hoek tot kant om Geloftedag te gedenk, díé dag toe God ons op wonderbaarlike wyse gered en bewaar het!

Eintlik moet elke dag vandag vir ons ‘n “huttefees-dag” wees. Die uitbundige blydskap oor ons verlossing uit die slawerny van sonde moet uit ons harte borrel, en dit moet op ons lippe wees en straal uit ons gesigte. Terselfdertyd moet daar by ons ‘n gewyde erns wees om die wil van God te doen. Eintlik is dit gladnie so moeilik om hierdie twee gedagtes te kombineer nie, want hulle loop hand-aan-hand met mekaar!

Gebed:

Here, my hart loop vandag oor van vreugde omdat U my U kind gemaak het en dat ek nou ál die voorregte kan beleef van ware kind-wees! Dankie dat U my in U hand van bewaring hou. Help my om my vreugde ook te kan deel met elkeen wat my pad kruis!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026