Die wêreldberoemde astrofisikus, Prof. Steven Hawking, word allerweë gesien as een van die wêreld se héél slimste mense, die Einstein van ons tyd. Hy was totaal verlam deur motorneuronsiekte, ‘n kwadropleeg, en hy kon slegs kommunikeer deur sy oë te beweeg, en só ‘n rekenaar te beheer om te praat en skryf. Hy is eenmaal die vraag gevra, wat van die mens word die dag wanneer hy sterf. Sy antwoord was, dat die mens soos ‘n rekenaar is: wanneer die prop die dag uitgetrek word, skakel die rekenaar af. Dan is hy morsdood!
Hoe tragies dat ‘n man met soveel wysheid nie die eenvoudige boodskap van die Evangelie kon begryp nie. Volgens hierdie slim man is die mens dus sonder siel of gees, bloot ‘n robot wat werk net totdat sy tyd om is en dan ashoop toe gaan.
Paulus handhaaf aan die ander kant ‘n dualistiese siening. Dit beteken in kort dat daar gewoonlik twee kante van elke saak is. So is byvoorbeeld ruimte dualisties, met ‘n sigbare wêreld asook ‘n onsigbare wêreld. Die harde werklikheid waarmee ons elke dag te doene kry het ook ‘n teenpool van ‘n onsigbare geesteswêreld. Die liggaam is die tasbare deel van die mens, maar hy het ook ‘n onsigbare geestelike sy. In die geesteswêreld is daar weereens aan die een kant God en Sy engelemagte, en aan die teenpool die duiwel en sy demone. Mense word ook dualisties ingedeel: daar is diegene wat vrygespreek is en diegene wat veroordeel is. Daar is nie ‘n goue middeweg nie!
Ons het die afgelope paar dae keer op keer die woordjie “eenvoud” gehoor. Tóg is daar opgesluit in daardie eenvoud, ‘n skatkis vol wysheid. Maar daar is ‘n reuse verskil tussen wêreldse en Goddelike wysheid. Omdat ons in ‘n dualistiese wêreld leef, is ons geneig om slegs die sigbare, tasbare raak te sien en te ervaar as die enigste werklikheid. Daarom is die wêreldse wysheid vir ons so belangrik. Ons vergeet dus dikwels van die onsigbare, ontasbare Goddelike wysheid wat soveel groter is as die wêreldse.
Die heersers van hierdie wêreld het juis die hoogtes bereik as gevolg van hulle wêreldse “wysheid”. Dit is niks nuut nie, hulle was al daar in Paulus se tyd. Die wysheid wat hulle verkondig is dikwels op die oog af baie mooi en edel. Humanitêre wyshede wat hulle voorstaan, is dikwels selfs aanvaarbaar volgens Bybelse standaarde. Menseregte laat die man op die straat juig, want daar word “liefde” aan hom betuig, en daar word na hom omgesien. Politici wat egter só veg vir menseregte doen dit gewoonlik net om een enkele rede: om hulleself te verryk en vir hulleself groot naam te maak. Daar is uitsonderings, maar hulle is so skaars soos hoendertande! Humanisme is ‘n liefde vir mense sonder dat God daarby betrokke is, en dit is nie wysheid nie maar dwaasheid. Mense word versorg en na omgesien op die tydelike vlak, maar die werklike belangrike, die geestelike, word nie alleen afgeskeep nie maar totaal weggelaat.
Op ‘n ander vlak is wêreldse wysheid die nastreef van wetenskaplike ontwikkeling. Dit is nie op sigself verkeerd nie, maar dikwels word die Skepper van alle dinge totaal hierin geïgnoreer. Prof. Louw Alberts het bewys dat wêreldse wysheid en Goddelike wysheid hand aan hand kan loop as die wetenskaplike maar nét bereid is om die skeppende hand van God raak te sien in die wetenskap. Hy was onder meer Hoogleraar in Fisika, Vise-President van die Raad op Atoomkrag, President van Mintek en Direkteur-Generaal van die Departement van Mineraal- en Energiesake. Maar ten spyte van al sy prestasies, word hy eerder onthou vir die Goddelike wysheid, dat hy, ten spyte van wat hy in die wetenskap bereik het, steeds tyd gemaak het om die Woord van God aan veral die jongmense uit te dra. Dit is ware wysheid!
Maar waar kom hierdie soort wysheid vandaan?
Paulus antwoord hierdie vraag in 1 Kor 2:10: “Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God.”
Is dit dan net ‘n paar uitverkore mense aan wie die Heilige Gees daardie wysheid gee, en die geheimenisse van God bekend maak?
Nee! Dit is aan almal wat “die Gees het”. Dit is ook nie maar net ‘n paar uitverkorenes wat die Gees ontvang nie. Elkeen wat in Jesus is, wat met ander woorde ‘n gelowige is, het die Heilige Gees in hom. Die groot geheim is egter dat ‘n gelowige moet leer om die stem van die Heilige Gees te kan onderskei. Ons leer dit aan deur naby aan God te leef. Hoe meer ek my toelê daarop om volgens God se wil te leef, hoe duideliker hoor ek die stem van die Heilige Gees in my lewe. Ons het reeds gesê dat ware wysheid alleen van God kom, dus kan ons sê dat jy ware wysheid bekom wanneer jy nader en nader aan Hom leef.
Gebed:
“Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad vra? Maar ons, ons het die Gees van Christus” (v. 16). Here, ek dank U daarvoor!