Adelaide is ‘n dorpie in die skilderagtige Oos-Kaap, halfpad tussen Queenstown en Grahamstown. Dié dorpie het as ‘n militêre buitepos ontstaan in die middel van die 19de eeu in die tyd van die Grensoorloë. Later het dit ‘n belangrike sentrum geword vir die boeregemeenskap. Toe breek die Anglo-Boereoorlog uit in 1899. Die dorp word beset deur die Britse magte.
En toe gebeur die verskriklike ding: die Britte neem die plaaslike NG kerkgebou oor en gebruik dit as militêre barakke. Die pragtige ou pastorie word ‘n perdestal. Soos jy sekerlik kon dink, was die inwoners van Adelaide bitter ongelukkig hieroor. Maar hulle hande was natuurlik afgekap. Jy kan net dink hoeveel bitterheid die vlagrante disrespek van die militêre offisiere vir die inwoners veroorsaak het.
Na die oorlog verby is, was die kerkgebou en pastorie in ‘n baie slegte toestand agtergelaat. Geld was natuurlik bitter skaars na die Boere alles verloor het in die oorlog. Almal op Adelaide was bereid om te help om die Kerkgebou weer te herstel, maar daar was net eenvoudig nie geld om die boumateriaal aan te koop nie. Hulle kon net eenvoudig nie die geboue restoureer nie. Die gemeenskap was hartseer en bitter teleurgesteld. Hulle het hard gebid vir uitkoms op die een of ander manier.
Toe gebeur ‘n wonderwerk! Drie maande nadat hulle tou opgegooi het met die restourasie-projek, ry daar een oggend twee groot transportwaens die dorp binne, hoog gelaai met ‘n vrag van die beste hout denkbaar. Boonop was daar ook die pragtigste handgekerfde preekstoel. Die gemeente was in die wolke oor hierdie ongelooflike wonderwerk.
Toe besluit hierdie gemeenskap dat die Britte tóg na alles ‘n gewete het! Hulle het seker maar hierdie waardevolle voorraad van Engeland gestuur om te sê hoe jammer hulle is vir die skade en al die droefheid wat hulle veroorsaak het. Dié Engelse het toe tóg ‘n hart. Of ten minste, so het hulle gedink.
Natuurlik het Adelaide se inwoners nie op hulle laat wag nie, en sommer dadelik het almal met groot vreugde en ywer aan die werk gespring. Binne ‘n paar maande was die kerk en die pastorie weer pragtig in sy ou glorie gerestoureer. Op Sondae kon hulle nou weer met blye harte kom aanbid.
Maar daar is ‘n baie snaakse stertjie aan hierdie storie, ‘n stertjie wat maak dat ‘n mens jou hande saamslaan in ongeloof. Of dalk moet ons eerder sê: in GELOOF en verwondering.
Op 'n dag kry die burgemeester van Adelaide ‘n baie amptelike brief. Dit kom van die burgemeester van Adelaide in Australië. Die brief lees toe so:
Dit is met huiwering dat ons navraag doen of ‘n besending eikehout wat ons twee jaar gelede uit Engeland vir ons nuwe kerk bestel het, nie dalk per ongeluk by u dorp in Suid-Afrika in plaas van Adelaide in Australië afgelewer is nie.
Natuurlik was daar nie veel wat die mense van Adelaide kon doen nie. Die burgemeester het toe maar ‘n brief geskryf aan sy eweknie in Australië waarin hy die storie vertel het van die Britse besetting en van die verskriklike skade. En natuurlik hulle blydskap toe dié vrag boumateriaal daar opdaag. Saam daarmee stuur hulle toe foto‘s van die gerestoureerde kerkgebou en pastorie.
Tot vandag toe staan jy verstom oor die manier waarop die Here werk en voorsien het in die herstel van die kerkgebou en pastorie.
Dikwels staan jy verstom oor wat gebeur wanneer jy bid. Dink byvoorbeeld net aan die asemrowende dinge wat gebeur het toe mense begin bid het vir “It’s Time” by Bloemfontein. Jy staan verstom hoe alles net in plek geval het binne slegs ses weke! Ons is nie alleen nie. Ons is nie aan onsself oorgelaat nie.
Die tragiese is dat meeste mense vandag baie skepties is of jou gebed ooit beantwoord sal word. Selfs gelowiges! Ek dink aan die ou plaasboer wat ná ‘n biduur vir reën gesê het: “Dominee, ons bid verniet! Solank as wat die wind wes waai sal dit nóóit reën nie!” En “heel toevallig” draai die wind kort daarna suid. En toe kom die reën! As ‘n ding vir jou reg uitwerk, noem jy dit “geluk”.
Vir baie mense is die blote gedagte dat God op my persoonlik sal agslaan, onwerklik. Waarom sal God dan na my gebede luister of dit selfs verhoor?
Die Bybel teken egter ‘n werklikheid wat baie groter en meer kompleks is as wat ons beperkte menslike verstandjies kan verwerk.
Daar is ‘n God wat goed is en lewe gee. Ons leef in ‘n wêreld waarin goeie dinge wél gebeur.
Ongelukkig is dit ook so dat pyn en swaarkry óók deel van ons wêreld is.
Dit is ‘n wêreld waar ons dikwels mense teen die grond sien lê. Maar dan sien ons hoe hulle baiekeer opgetel en afgestof word.
Dit is ‘n wêreld waar ‘n beskadigde kerkgebou wonderbaarlik herstel kan word met materiaal wat letterlik uit die hemel geval het.
Gebed:
Here, vandag kan ek maar weereens net in verwondering voor U neerkniel, want U luister na my en U verhoor waarlik gebed!