God Van God Verlaat

27 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie God Van God Verlaat

Matteus 27:45-56

Uit alle oorde word Jesus gespot, beledig, uitgejou - die soldate, die Joodse leiers, die volk, selfs Sy mede-gekruisigdes. Dit gaan aan totdat dit naderhand oorverdowend deur Hom skreeu dat Hy totaal verlate is. Waar is Sy dissipels? Waar is die reuse skares mense wat dag-vir-dag aan Sy lippe gehang het wanneer Hy preek? Waar is die duisende dankbare mense wat Hy genees het van hulle kwale? Daar is niemand! Buiten enkele vroue wat op ‘n afstand staan en huil. Waar is Sy vertroueling, Petrus? En Sy vriend, Johannes, die een wat Hy liefhet? Waar het almal heen verdwyn? En waar is God……?

Jesus kreet dit uit: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” - My God, My God, waarom het U my verlaat?

Hierdie is ‘n aanhaling uit Psalm 22. Hierdie aangrypende Psalm wat Dawid baie lank tevore geskryf het, word nou woord-vir-woord op Jesus se lewe toegepas. Hoe het Dawid geweet? “My God, My God, waarom het U my verlaat en bly U so ver as ek om hulp roep? ……. Ek word deur die mense gespot en deur die volk verag. Almal wat my sien spot my…..

Hoe moet ons hierdie aangrypende woorde van Jesus verstaan? Het God Hom werklik verlaat? Ondergaan Jesus dalk in hierdie oomblikke die straf van Godverlatenheid in die plek van die ganse mensdom vanweë hulle sonde? Hoe kan Christus wat self God is, van God verlate wees? Hierdie is vrae wat deur jou gemoed warrel wanneer jy hierdie gedeelte lees. Kan ons dit ooit verstaan?

Ek dink nie ons eenvoudige menslike verstand gaan ooit die geweldige omvang en kompleksiteit van daardie woorde kan begryp nie. Ons kan maar net vaagweg gis oor die betekenis daarvan. Ons hoef nie alleen te voel in ons soeke na ’n antwoord nie, want selfs die groot gees, Martin Luther, het hierdie misterie al probeer verwoord toe hy gevra het: “God van God verlaat, wie kan dit verstaan?”

Ons teksgedeelte spekuleer egter nie oor hierdie soort vrae nie. Kom ons gaan kyk weer ‘n slag na Psalm 22, waaruit hierdie woorde aangehaal is: In die eerste plek is dit ‘n gelowige uit die Ou Verbond (Dawid) wat by God kla oor die slegte behandeling wat hy by sy volksgenote kry. Verder sien ons ook dat die Psalmdigter steeds aan God vasklou, ten spyte van sy Godsverlatenheid. Presies dieselfde sien ons by Jesus, wat God steeds aanspreek as “My God”, al voel Hy dat God Hom totaal verlaat het. Die blote feit dat Matteus in hierdie hele perikoop so mildelik gebruik maak van Psalm 22, laat ons in die derde plek sien dat ons Psalm 22 op die hele lewe van Jesus kan betrek. Gaan kyk maar byvoorbeeld na die laaste gedeelte van die Psalm, waar die digter juis eindig met ‘n belydenis dat God sy gebed verhoor het. As ons dit op Jesus sou toepas, wys dit op Sy opstanding waar God aan Hom reg laat geskied. God het Jesus se klag só verhoor dat Hy aan Jesus Sy lewe teruggegee het.

Die ander gebeure van die dag wat Matteus beskryf, gryp jou aan die hart. Jesus se sterwe is met soveel betekenis gevul dat allerhande onnatuurlike natuurverskynsels gelyktydig gebeur. Eers sak daar ‘n skrikwekkende duisternis toe oor almal. In die middel van die dag word dit pikdonker. Kort daarna volg ‘n geweldige aardbewing wat die aarde skud sodat rotse breek. Saam hiermee gebeur ‘n ware riller as verskeie grafte oopgaan en gelowiges wat al lankal dood was weer uit die dood opstaan.

Dit laat jou amper dink aan Esegiël se visioen van die vlakte vol doodsbeendere wat weer herleef (Eseg. 37:1-14). Was Esegiël se visioen dalk ook ‘n voorspelling oor wat daardie dag sou gebeur? Toe al hierdie dinge gelyk plaasvind, het selfs geharde soldate, dieselfde soldate wat so pas vir Jesus bespot het en selfs hulle offisier bely dat Jesus waarlik die Seun van God is. Aan die voet van die kruis ontwaak die nuwe volk van God.

n Groot “ramp” tref die tempel. Die voorhangsel van die tempel skeur van bo na onder. Dit was die swaar gordyn wat die heilige van die allerheiligste geskei het. En nee, hierdie gordyn is nie geskeur deur mensehande nie. Nog minder het dit geskeur as gevolg van die aardbewing of een of ander natuurlike oorsaak. Die voorhangsel is deur God Persoonlik geskeur, van bo na onder. Die ou bedeling was nou finaal verby. Nie alleen het dit beteken dat die tempel nie meer die sentrale plek van aanbidding is nie, maar alles wat God van die mens geskei het is nou weg, en daar is ‘n onbelemmerde uitsig, reg tot binne-in die allerheiligste. Nou was dit nie meer slegs die hoëpriester wat net eenmaal per jaar in hierdie heiligdom kon kom nie. Die pad na God is nou wawyd oop, en almal het vrye toegang tot God te alle tye deur die dood van Jesus Christus.

Inderdaad kom daar lewe deur Jesus se dood!

Gebed:

Here, ons kan nie eers begin om te verstaan wat alles daardie dag op Golgota gebeur het nie. Nogtans is dit vir ons genoeg om te weet dat ons die ewige lewe verkry het deur die gebeure aan die kruis. Dankie vir daardie ongelooflike groot offer wat U daardie dag gebring het sodat ons sondevergifnis kon kry.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026