Johannes 1:19-28
Daar is onder die Joodse volk ‘n baie groot verwagting. Vir baie jare al word hulle onderdruk deur die Romeine wat die ganse wêreld in hulle mag het. Is daar ooit hoop? Is daar ooit ‘n uitkoms in sig? Daniël het in sy visioene die hoop gelê by die volk dat God in beheer is, al gaan dit ook hóé sleg, en al is die verdrukking ook hóé groot. Hy het ook by hulle die verwagting geskep dat die uitkoms op pad is en dat die Here die Messias sou stuur.
Ook ‘n ander profeet, Jesaja het ‘n nóg groter verwagting by die volk geskep. Sowat 530 vC word die baie bekende Jes. 40 geskryf waarin die aankoms van die Koning beskryf word. Op daardie stadium was die volk in ballingskap, en die land was in ‘n liederlike toestand. Paaie het selfs nog erger gelyk as wat sommige van ons paaie vandag lyk. Waar eenmaal ‘n hoofweg was, was dit nou ‘n kronkel-voetpaadjie, besaai met klippe. Op só ‘n pad kon die Koning, wat op pad was na Jerusalem, tog nie ry nie? Iemand moes vooruitgaan en die klippe wegrol en die pad reguit maak vir die triomfantlike intog van die Koning na Sy hoofstad. Die gate moes opgevul word en die pad moes rybaar en mooi gemaak word!
Daar moes egter ook iemand vooruitgaan om die aankoms van die koning aan te kondig, want dit sou darem ‘n skande wees as die Koning in Jerusalem aankom ná die ballingskap, en daar was niemand om Hom te verwelkom nie! Almal moes weet dat hierdie nie sommer enige ou leiertjie is nie, maar dié Koning. En Sy ontvangs moes groot en glansryk wees. Almal moes daar wees!
Nou verskuif die toneel 560 jaar aan. Daardie Koning waarvan Daniël en Jesaja geskryf het, was inderdaad op pad. Die tyd was ryp, en die Messias-verwagting onder die Jode het hóóg geloop. Vir eeue het die Jode nooit ‘n ware profeet gesien nie, en nou skielik was hier iemand in die land wat baie snaaks opgetree het. Hy het nes die profete van die ou tyd gepreek en hy was baie anders as enigeen waaraan hulle gewoond was. Boonop het hy links en regs almal gedoop wat na sy preke kom luister het. Jy was nie sommer net gedoop nie! Dit was iets wat slegs gedoen was wanneer iemand van buite by die Joodse volk kom aansluit het. Die doop was dan ‘n soort reinigingsritueel ter voorbereiding van sy inskakeling. Maar Johannes het voor die voet almal gedoop, selfs Jode. Dit het nie sin gemaak nie! Wat was aan die gang? Dit het die kerkleiers laat wonder of hy nie dalk die Messias was nie?
‘n Hoë afvaardiging van geestelikes word gestuur om te gaan ondersoek instel. Dit is interessant om te weet dat hierdie mense eerlike bedoelings gehad het. Hulle het nie ‘n politieke afvaardiging gestuur nie, maar priesters en Leviete, dié mense wat met die geestelike dinge besig was. Terloops, die Leviete was uit die stam van Levi, en hulle moes diens doen in die tempel om die priesters met hulle take te help en om musiek te maak in die tempel.
Toe die manne by Johannes aankom, wou hulle weet of hy die Messias was, en hy ontken dit heftig. Die Jode het geglo dat ‘n groot profeet soos Elia die Messias sou voorgaan. Maar ook dít ontken Johannes. Hy was maar net “die stem wat roep,” die een wat die aankoms van die Koning aangekondig het en die pad gereedgemaak het vir die Koning om op te ry.
Toe sê Johannes die skokkende ding: “Tussen julle staan die Messias en julle herken Hom nie!”
Hoe profeties was hierdie woorde van Johannes nie! Inderdaad het Jesus kort na hierdie gebeurtenis begin optree en die mees asemrowende wonderwerke gedoen en gepreek, selfs per geleentheid openlik verklaar dat Hy die Messias, die Seun van God is. Maar steeds het die geestelikes Hom nie herken as die Een na wie hulle kom soek het nie.
Dit is nou al tweeduisend jaar later en die Jode wag nog steeds tevergeefs op die koms van die Messias! Ons kan maar net bid dat hulle oë sal oopgaan voor die tweede koms van die Koning. Maar ons kan die Here dank dat daar darem al ‘n handjievol Jode is wat Jesus reeds ontdek het.
Maar waar laat dit ons, jou en my? In die eerste plek moet ek seker maak dat ek wél vir Jesus herken het, en dat ek ‘n persoonlike verhouding met Hom het. As dit die geval is, het ek en jy in ‘n sekere sin dieselfde taak as Johannes, naamlik om die triomfantlike aankoms van die Koning aan te kondig aan almal wat nog nie van Hom weet nie. Ja, presies soos in Johannes se tyd, is ál die tekens reeds daar dat Jesus se wederkoms op hande is. Die tyd is swaar-swanger!
Maar ons het ook die taak om die pad vir Hom gelyk te maak. Die tyd is kort! Ons durf nie nou op ons louere sit en rus nie. Elkeen wie se pad ons kruis moet weet van Jesus. Inderdaad is Hy tussen ons, saam met ons. Daar is egter baie mense wat Hom nie herken nie. Dit is ons taak om Jesus bekend te stel aan elkeen met wie ons in aanraking kom. Kom ons doen dit!
Gebed:
Here, vanoggend aanbid ek U as die lewende Here - die Een wat tussen ons is. Gee my die ywer om U aan elkeen voor te stel.