Eksodus 19:16-25
Die oggend van die derde dag breek aan. Van die gewone ou roetine-dingetjies is daar egter vanoggend géén sprake nie. Almal praat en almal wonder oor wat gaan gebeur. Moses het gesê dat God met die volk kom praat. Hoe gaan Hy dit doen? Gaan hulle Hom sien? Hom fisies hoor? Almal is opgewonde. Maar natuurlik is daar ook die klomp wat skepties is. Al hierdie dinge wat gebeur het - so sê hulle - is natuurlik te verklaar. Die wind wat die see oopgekloof het; die manna wat uit die woestyn aangewaai kom; die kwartels - alles móét ‘n verklaring hê. Hierdie God is maar dieselfde as die gode van Egipte!
Dan word die ganse volk geskud tot in hulle fondamente as ‘n harde donderslag deur die klowe en vlaktes weerklink. Hulle kyk op na die berg. Weerligte blits verblindend, sodat die Israeliete hulle oë toedruk. En dan, asof uit die niet, begin ‘n dik, donker wolk vorm om die bergspits. “Alles doodgewone natuurkragte!” lag die skeptici dit af. Maar dan, helder, sterk en duidelik kom die suiwer klank van ‘n ramshoring bo uit die wolk uit. Nou is selfs die mees skeptiese persoon stomgeslaan. Die Israeliete bewe van angs. Hulle probeer wegkruip, maar daar is nie wegkruipplek nie. Kindertjies huil want hulle is bang.
“Kom!” beveel Moses koel en kalm, “Kom, die Here wag vir ons!” En daarmee lei hy die volk tot by die voet van die berg.
Wanneer almal daar staan en die skouspel gadeslaan, gebeur die volgende asemrowende ding: Die Here daal in vuur uit die hemel neer op die berg - ‘n reuse vlam. Die hele berg begin skud en rook styg in ‘n kolom uit die berg op asof dit ‘n vulkaan is, tóg is daar géén vulkaniese uitbarsting nie. En steeds is daar die onaardse geluid van die ramshoring wat al harder en harder word.
En dan kom die onbeskryflike stem van God, gevul met majesteit en glorie in die donderslae wanneer die heilige, almagtige God met Moses gesels. Die volk is absoluut oorweldig deur hierdie ervaring. Dit is veels te groot vir hulle om in te neem. Dan sê God vir Moses dat hy na die top van die berg moet gaan - daar sal Hy met Moses praat. Wanneer Moses bo kom, sê die Here weereens vir hom dat hy die volk moet waarsku. Sy heilige teenwoordigheid is gans te veel vir ‘n gewone mens om te kan beleef. Moses moet hulle waarsku om onder géén omstandighede te probeer “deurbreek” na Hom nie. Hulle sal beslis sterf as hulle maar net in Sy teenwoordigheid kom. Selfs die priesters wat veronderstel is om in God se teenwoordigheid te wees, sal dit nie eers kan waag om naby Hom te kom nie - hulle moet hulle afstand behou.
En so word Moses weereens die berg afgestuur om God se boodskap aan die volk oor te dra. “Bly weg van die berg af!” is sy uitdruklike bevel.
Wat my onmiddellik tref van hierdie gebeure rondom die Sinai-berg, is die onmeetlike, onbeskryflike heiligheid van God wat hier uitstraal. Besef ek en jy ooit nog vandag hoe heilig God werklik is? Jare gelede was daar ‘n boekie geskryf met die titel: “Hey God!” My ouma het die boekie gekoop, maar ek het geweier om dit te lees, want die titel alleen het my inmekaar laat krimp oor die heilige God so disrespekvol aangespreek word. Het ons nog werklik respek vir God? Op TV programme, veral dié uit Amerika, word elke uitdrukking van geluk of verbasing of skrik of wat-ookal begroet met: “Oh my God!” Dikwels is dit “goeie” programme waar die Here se heilige Naam so as stopwoord gebruik of eerder misbruik word. Dit reduseer die heiligheid van die Almagtige God tot ‘n blote alledaagse.
Nou sal jy sekerlik vir my sê dat jy dit darem nooit doen nie. Maar dink ons ooit in ons elke dag se omgang met God aan Sy heiligheid? Wanneer ons in ons binnekamer is en stiltetyd hou - is dit waarlik vir ons die heilige teenwoordigheid van die Skepper wat ons daar ondervind? Of lees ons maar net iets interessant uit die Bybel? En tydens ‘n Erediens - is dit vir ons die heilige ontmoeting met God Almagtig saam met ander gelowiges, waar ons die heiligheid van God kan aanvoel wanneer dit die hele vertrek vul? Of het die erediens dalk al vir jou ‘n geleentheid geword waar jy op ‘n Sondagoggend kan gaan sit en ontspan te midde van vrolike musiek en ‘n prediker wat jou gewete sus?
Dit is harde woorde - woorde wat ons dalk tot besinning sal ruk. Ja, aan die een kant mag ons nooit óóit vergeet van die heiligheid van God nie. Maar aan die ander kant kan ek en jy maar net sê: “Dankie, dankie, dankie!” dat Jesus gekom het om alles te verander. Ja, nie alleen het Hy ons die ewige lewe kom gee nie, maar saam daarmee het Hy ook vir ons die deur oopgemaak sodat ek en jy vandag sonder vrees kan “deurbreek” na die Allerheiligste God, en dat ons nie inmekaar hoef te krimp van vrees by die blote gedagte van God se teenwoordigheid nie, maar dat ons met Hom kan praat - ons harte kan oopmaak voor Hom en in Sy teenwoordigheid mag staan!
Gebed:
Here God Almagtig, dankie dat ek vandag sonder vrees met U kan praat. Dankie vir U groot genade en liefde!