Matteus 1:18-25
Waar Matteus sy verhaal begin met ‘n ellelange geslagsregister, is sy beskrywing van Jesus se geboorte kort en kragtig. Maar moenie geflous word deur die bondigheid daarvan nie, want hierdie paar verse behels só baie dat daar reeds boekdele oor geskryf is om dit te probeer verklaar. Hierdie kort perikoop het ook al gesorg vir hewige debatte, en mense kan net eenvoudig nie saamstem oor die betekenis daarvan nie.
Om mee te begin is daar oor die afgelope 2000 jaar alreeds ‘n gestry tussen die Jode en die Christene oor die aanhaling in vers 23: “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Matteus het hierdie voorspelling gelees in Jesaja 7:14, waar daar geskryf staan: “Daarom sal my Heer self vir julle 'n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan 'n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem.” Christen-gelowiges stem saam met Matteus dat hierdie aanhaling daarop dui dat Jesus die Messias is. Die Jode sê: “Nooit! Julle weet nie waarvan julle praat nie! Dis Heiligskennis!” Die vraag is, of Jesaja ooit vir Jesus in gedagte gehad het toe hy dit geskryf het? Die antwoord is bloot: NEE! Maar dit is ‘n gesprek vir ‘n ander dag!
Verder stem die Katolieke en die Protestante nie saam oor vers 25 nie, of Maria dan ‘n maagd gebly het, selfs ná Jesus se geboorte? Die ortodokse- en liberale Christene stem ook nie saam of ons wel afleidings kan maak uit hierdie Skrifgedeelte oor die maagdelike geboorte van Jesus nie.
En die hele tyd kyk ons die ganse boodskap van Matteus skoon mis! Ons staar ons só blind teen die twispunte, dat ons gladnie hoor wat Matteus vir ons wil sê nie. Matteus se boodskap uit hierdie verse is opgesluit in die Naam wat hy aan Jesus koppel, naamlik Immanuel, wat beteken “God-Met-Ons”. Vir Matteus is dit só belangrik, dat hy die gedagte etlike kere deur die Evangelie herhaal, dat hierdie boek begin met hierdie gedagte en eindig met presies dieselfde gedagte in 28:20: “En kyk, Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” Matteus omraam dus as’t ware sy hele Evangelie met hierdie gedagte.
Maar waarom is hierdie dan só belangrik vir Matteus? Hy wil hiermee sê dat Jesus nie maar net ‘n figuur uit die verlede was nie. Hy was byvoorbeeld nie iemand soos Dawid, wat wél ‘n held was, en nou eer moes ontvang vir wat hy gedoen het nie. Inteendeel, Jesus was in die tyd toe hy die verhaal geskryf het, 80 jaar na Sy geboorte steeds nét so relevant en net so teenwoordig as in die tyd toe die verhaal afgespeel het. Inderdaad impliseer Matteus dat vandag, 2000 jaar later, Jesus nog steeds nét so teenwoordig is as daardie tyd! Jesus begelei ons, Sy kerk op aarde, vandag Persoonlik. As ons Matt. 28:20 reg verstaan, is dit presies dieselfde Jesus wat daardie dag met Sy dissipels gepraat het, wat vandag hier by ons teenwoordig is. Eintlik nog sóveel beter, want intussen het Hy opgevaar na die hemel om daar die ereposisie aan God se regterhand te ontvang, en dus is dit nie meer die Mens, Jesus wat gebonde is aan aardse beperkinge nie, maar die Almagtige Jesus, Skepper van die hemel en die aarde, wat vandag by ons is.
Ons sien in hierdie perikoop ook ‘n ietsie van Matteus se siening oor die wet, en die onderhouding daarvan. Wanneer Josef besef dat Maria swanger is, sit hy met ‘n baie groot dilemma: Skande! Die wêreld gaan dink dat hy ‘n baie groot skande gemaak het. Maar hy weet dat hy onskuldig is, en dat hy beslis nie die wet van Moses verbreek het nie. Was Maria dalk ontrou aan hom? Hy besluit om die verlowing te verbreek, soos die wet voorsiening maak wanneer daar ontrou was, om die skande weg te steek.
Vir God is dit egter só belangrik dat Hy die hemel as’t ware oopskeur en Sy hemelse boodskapper afstuur om vir Josef tot ander insigte oor te haal. Die engel kom dus en praat met hom en verduidelik wat besig is om te gebeur. Josef word oortuig en hy besluit om nie die verhouding te verbreek nie, al sou daar dan ook mense wees wat allerhande dinge te sê het oor hom. Die wet het hier vir Josef gegaan, nie oor ‘n wettiese reël nie, maar oor iets baie groter. Sy eie goeie reputasie word op die spel geplaas om die ware betekenis van die wet uit te leef.
Oor die volgende 33 jaar sou Jesus telkemale hierdie reël demonstreer. Hy sou die wet “verbuig” of selfs totaal breek om plek te maak vir die uitlewing van die ware betekenis daarvan, naamlik liefde. Hy sou dikwels in die moeilikheid kom hieroor by die ringkoppe. So erg was hulle frustrasie oor Sy nuwe interpretasie van die wet, dat hulle Sy dood gesoek het, en uiteindelik wreed van Hom ontslae geraak het. Maar hulle het nie tred gehou met Immanuel, God-Met-Ons nie, want skaars drie dae nadat Hy vir goed van die gesig van die aarde gevee was, was Hy weer terug - hierdie slag in glorie om vir ewig hier te wees!
Gebed:
Here, ons kan vandag tot U bid en met U praat omdat U Immanuel, God-Met-Ons is. Dankie vir U groot genade!