Daniël 1:1-21
Ek het dít teen hedendaagse rolprente: Vir die eerste halfuur sit jy en wonder waaroor die fliek nou eintlik gaan, en dan, as dit klaar te laat is, dan begin die storie eers so half en half sin maak. In die ou flieks was daar ‘n goeie inleiding, sodat jy sommer dadelik geweet het waarvoor jy jou moet voorberei, en van die begin af maak die storie sin. Nouja, Daniël is soos een van hierdie goeie ou flieks, met ‘n behóórlike inleiding om jou presies te vertel wat die agtergrond is, sodat jy agteroor kan sit en die verhaal geniet. Nou hoef jy nie te sit en wonder waaroor dit gaan, terwyl die verskillende intriges afspeel nie, en jy kan ál jou aandag wy aan dít wat op daardie tydstip belangrik is.
Daniël se verhaal begin toe Koning Nebukadnesar van Babel die stad Jerusalem beleër het. Die ou Joodse volkie het nie antwoord gehad met hierdie magtige ryk nie, en hulle is oorrompel. Die pragtige tempelgereedskap is gebuit, en boonop het hulle van die mense ontvoer na Babel. Dit is opvallend dat die skrywer hier sê dat hulle na Sinar geneem is, maar daar was ‘n doel daarmee. In Gen. 10:8-10 word daar vertel van Nimrod, die dapper jagter van Sinar, en later, in Gen. 11 word die verhaal vertel van die toring van Babel. Die skrywer wou sy lesers herinner aan hierdie dinge, en hy wil dit ook duidelik stel dat Daniël en sy vriende hulle in ‘n stad met ‘n groot reputasie bevind. Wat gaan daar van hulle word? Gaan hierdie jong Joodjies dit oorleef? Gaan hulle nie dalk swig voor die druk van hierdie beroemde stad nie?
Vier jong manne wat uittroon bo die ander adellike krygsgevangenes word deur Aspenas, die hoofpaleisbeampte, uitgesoek. Hulle moet vir drie jaar onderrig word in die Babiloniese skrif en taal, en hulle moet koninklike kos gevoer word sodat hulle geestelik en liggaamlik sterk kan word. Die groot rede is egter om almal gelyk te stel: hulle moes nes die ander jong manne van Babilon word. Hulle kry selfs nuwe name sodat hulle Joodse agtergrond in die vergetelheid sal verdwyn, en hulle van hulle Joodse wortels vervreem sou raak. Ja, in Nebukadnesar se paleis verloor jy jou identiteit en gedra jy jou soos ‘n Babiloniër. “In Rome maak jy soos die Romeine”, lui die bekende spreekwoord. As jy anders wil wees, is jy in die sop!
Daniël waag dus sy lewe deur te versoek dat hulle ander kos kry. Dit sou absoluut teen sy grein as Jood in gaan om nou te moet onrein diere eet - iets wat die wet van Moses uitdruklik verbied. Slim man wat hy is, stel hy ‘n “proeftydperk” voor, en Aspenas val daarvoor. Die groot risiko wat Daniël en sy vriende bereid is om te loop, weerspieël iets van hulle Godsdienstige toewyding. Vir my en jou is die boodskap hierin: Leef jou oortuigings uit. Moenie maar net met die stroom saamgaan nie.
Die verhaal sluit af met die gedagte dat hierdie vier manne uitmuntend uitgestaan het bo die res, na hulle drie jaar van opleiding. En Daniël? Hy was in diens van die paleis tot aan die einde van die eerste regeringsjaar van koning Kores, dus vanaf 604 vC tot 539 vC - ‘n volle 65 jaar.
As ons ‘n bietjie agter die skerms van hierdie verhaal gaan kyk, dan sien ons ‘n paar merkwaardige dinge. Die skrywer vertel vir ons dat die HERE vir Koning Jojakim in Nebukadnesar se hand oorgegee het. Hiermee wil hy sê dat God aan die stuur van sake staan, selfs as daar soms onaangename dinge in jou lewe gebeur. Niks gebeur buite God se toedoen nie. Later (in vers 9) skryf hy weereens dat dit GOD is wat die hoofpaleisbeampte simpatiek gestem het teenoor Daniël se versoek. En in vers 17 sien ons weereens die hand van God, want dit is HY wat hierdie vier jongmanne die verstand en insig en wysheid gegee het. Hiermee wil die skrywer beklemtoon dat God gelowiges seën wat getrou hulle godsdienstige oortuigings uitleef, sodat hulle bo ander uittroon.
Ons sien egter duidelik dat hierdie manne nie maar net gaan terugsit het, en hulle lot gelate aanvaar het nie, maar dat hulle werkgemaak het van hulle situasie. Geestelike groei kom deur sélf skouer aan die wiel te sit. Gary Player het eenmaal ‘n baie goeie golfhou geslaan, en iemand het opgemerk dat hy “gelukkig” was, waarop Gary se antwoord was, dat hoe harder ‘n mens oefen, hoe “gelukkiger” word jou houe. Wanneer ons die verhaal van Daniël lees, sien ons deurentyd dat dit van hom volharding gekos het, en harde werk om staande te kon bly in Babel, en boonop uit te troon bo almal. Ons sien ook dat hy onvoorwaardelik op God moes vertrou - die verhale van die vuuroond en die leeukuil beklemtoon dit. Maar ons sien ook God se beskerming wanneer hy al sy vertroue op God plaas.
Die boodskap van Daniël vandag vir my en jou, is dat ons ons nie moet blindstaar teen die gevare wat ons moet trotseer nie, maar dat ons God onvoorwaardelik moet vertrou, en rustig voortgaan om ons geloof voluit te leef. God is getrou - Hy sal voorsien - dikwels op die mees asemrowende manier!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie versekering vanoggend, dat U in beheer is in alle omstandighede!