Joël 2:18-27
Drie maande na die eerste droogte gebreek is in die Laeveld, kom ons weer ‘n slag daar. Wanneer ons Marloth Park binnery, herken ek skaars die plek. Waar daar drie maande gelede net rooi grond was, staan die wuiwende gras nou lowergroen en ruig. Die maroelabome is swaar gelaai met vragte maroelas en onder hulle lê ‘n geel tapyt van ryp vrugte. Hulle soet geur sweef in die lug. Met ‘n lied in my hart ry ons die grondpad na ons boshuisie toe. Dis stomend warm maar die digte, lowergroen bos laat dit voel asof ons reg in die Paradys is!
Ons inrypad is só toegegroei dat ons skaars by die huis kan uitkom. Ons pak af so vinnig ons kan en gaan span behaaglik uit op die stoep en probeer al die mooi inneem. Alles is so anders as die vorige keer wat ons hier was. Ek vul my longe met die heerlike geure van die bos. In my hart is daar ‘n lied van dankbaarheid, want die Here was ons weereens oorvloedig genadig. Hy het voorsien in oorvloed, baie meer as wat ons gevra het!
Teen die tyd dat die son agter die doringbome inkruip, knetter ons gesellige vuurtjie alreeds en versprei sy flikkerende gloed tussen die ruie bosse. Onder by die rivier sukkel die ou bobbejaan om sy oproerige familie te laat stilsit in die vyeboom wat tot brekens toe oorlaai is met sappige ryp vye. Weldra weerklink die brul van ‘n leeu deur die lawende naglug. ‘n Hiëna antwoord hom met ‘n melodieuse lied, gevolg deur ‘n seekoei wat skaterlag in die rivier van pure tevredenheid. ‘n Duikertjie kom kuier vir ons op die rand van die vuur se lig. God is genadig. Hy is groot. Hy is liefdevol!
Wanneer ons ons voor die Here verootmoedig en berou het oor ons sondes, dan antwoord Hy op ons boetedoening. Hy stuur weer voorspoed - so sê Joël. Vir Israel sê hy, daar sal weer koring en wyn wees - oorgenoeg daarvan. Hulle sal nie meer ‘n bespotting onder die nasies wees nie en die Here sal hulle arrogante vyand uitdelg! (v.20)
Opgewonde sing Joël sy loflied waarin hy indirek vir die volk sê om nie bang te wees nie. Hy doen dit deur sy lofsang tot die natuur te rig wat lyk asof dit verwoes is. Die landerye moet juig van blydskap en die vee moet huppel van pure uitgelatenheid, want die Here maak die weiveld groen en sappig. Dit is alles ‘n groot wonderwerk! In my geestesoog sien ek die jong kallers laf bokspring en in sirkels hardloop en rondomtalie draai - almal is uitgelate oor die oorvloed wat God gee. Hy sing vir die vrugtebome - propvol staan die vyebome in drag, gelaai met heerlike stroopsoet, vet vye. En die wingerde, belaai met trosse en trosse verruklike druiwe, gereed vir die oes. ’n Mens kan skaars glo dat alles ’n rukkie gelede nog verteer was deur die verwoestende sprinkaanswerms. Dit kan slegs ‘n wonderwerk van God wees wat sulke dinge kan vermag! (v. 21,22)
Daarom praat Joël met die inwoners van die land: die mense van Sion moet jubel en juig tot eer van die Here. Hulle moet oorloop van blydskap, want die Here sal die sluise van die hemel oopmaak en 'n stortvloed van reën oor hulle laat uitsak as teken van Sy wonderlike geregtigheid. Op hulle dorsvloere gaan die koring opgehoop in oorvloed lê en hulle parskuipe gaan weer oorloop van heerlike wyn. Strome goudgeel olyfolie gaan die kruike by die olyfpers volmaak. Waar die sprinkaanswerms en ruspes vir hulle verwoesting gesaai het, gaan die Here nou in oorvloed vergoed! (v. 23-26).
Ek sien al die Iraeliete vrolik dans en sing met fluite en liere en tamboeryne. Hulle loof en prys die Here, want Hy is genadig en goed en Hy het al hulle ongeregtighede vergewe - hulle weerbarstigheid en selfs die feit dat hulle agter ander gode aangeloop het. Maar hulle het omgedraai en nou aanbid hulle die Here, die God wat alles geskep het - hulle aanbid Hom uit die hart en nie maar net met rituele nie.
Die prentjie lyk bitter donker vir ons mooi land Suid-Afrika. Stakings, opstande, korrupsie en beurtkrag dreig om ons ekonomie te vernietig. Klimaatsverandering veroorsaak vernietigende vloede en droogtes. Plaasmoorde, gesinsgeweld, bendegeweld ens. omklem ons harte met vrees!
Die Here wil hê dat ons Hom weer met volle oorgawe sal dien. Nie maar net rituele soos kerk toe gaan en tiendes gee nie, maar dat ons diens diep uit die hart sal kom. Dat wanneer ons saam optrek na die kerk, dat ons hart en siel sal deel wees van die erediens. Dat ons diens aan die Here die praktiese uitleef van liefde sal wees op alle terreine van die lewe.
Sal die Here nie dalk dan die wonderwerk laat gebeur en die dreigende gevare omskep in positiewe dinge nie? Sal Hy nie dalk werkstevredenheid en selfs blydskap in die werksituasie gee, waar daar nou ontevredenheid en stakings is nie? Sal Hy nie dalk die opstande omskep in mense wat hulle energie gebruik in gemeenskapsdiens nie? Sal Hy nie dan dalk die natuur op ‘n wonderbaarlike manier herstel nie - Hy het dit immers geskep?
Gebed:
Here, ek bely vanoggend dat ons land ver weggedwaal het van U af. Ek pleit Here, dat U ‘n wonderwerk sal laat gebeur, sodat ons mense U weer met oorgawe sal dien!