Inleiding tot Jakobus
Met die aanbreek van 2020 het kerkwees totaal verander toe die Covid-pandemie die wêreld tref. Toe ons nie meer kon kerkhou nie, word kerke geforseer om eredienste op Youtube uit te saai. En skielik begin ons besef hoeveel verskillende kerke daar werklik is! Maar watter kerk is nou die regte kerk?
Om sake te vererger, kom ons agter dat daar boonop ‘n groot aantal hoofstroom-gelowe, soos Islam, Hindoeïsme, Christendom, Judaïsme en Bhuddisme is. En dan is daar nog die draadsitters soos New Age. Verseker glo ek en jy as Christen dat daar slegs één ware geloof is, naamlik die Christelike geloof. Maar selfs binne die Christelike geloof is daar talle wyd-uiteenlopende strominge wat letterlik soos dag en nag van mekaar verskil. Die vraag is: as ‘n totale heiden vandag tot bekering kom en hy word voor die keuse gestel om te kies na watter kerk hy wil gaan, hoe moet hy kies? Watter een verkondig die ware geloof?
Verder is daar die vraag oor watter doop die “regte” doop is, die “regte” manier van nagmaalbediening of selfs die “regte” soort van partypolitiek. 'n Tiental jare gelede was apartheid ‘n reuse stryd binne die Afrikaanse kerke, en het dit selfs tot kerkskeuring gelei. Vandag is dit weer die hele gay-kwessie wat maar nie wil gaan lê nie. Daar is gladnie eenstemmigheid oor hoe om die netelige saak te benader nie. Diskriminasie, nepotisme, onbevoegdheid, omgekeerde diskriminasie, rassisme, korrupsie - hierdie dinge kom kort-kort in die gedrang in kerke. Dit is dinge soos hierdie wat veroorsaak dat kerke hoë grensmure tussen hulleself bou. Dit is ook vrae soos hierdie wat kerklidmate dikwels verwar, en wat ‘n mens laat vra: “Maar wat is dan reg? Watter kerk het die regte antwoord? Wie moet ek glo? Watter kerk verkondig die Woord reg?”
Jakobus bied ‘n baie interessante perspektief op baie van hierdie eeue oue vraagstukke. Sy argument in Jak. 2:14-26 is dat glo en doen bymekaar moet uitkom. Sonder om te doen kan jy nie glo nie, maar aan die ander kant kan jy ook nie doen sonder glo nie. Jou geloof is alleen reg as jou dade wys dat dit reg is! Maar selfs hierdie uitspraak van Jakobus het al gelei tot verdeeldheid, selfs onder groot kerkleiers. So het Martin Luther byvoorbeeld geglo dat Jakobus hier te ver gegaan het, en dat hy die saak van dade oorbeklemtoon het. Die ander groot gees van sy tyd, Johannes Calvyn, was weer van mening dat Jakobus die spyker op die kop slaan! Hy het baie lof gehad vir Jakobus se praktiese manier waarop hy die kwessies hanteer.
Dit is op grond van hierdie uitgangspunt wat Jakobus praat oor dinge wat selfs in ons moderne tyd dikwels moeilike vraagstukke word: armoede, rykdom, versoeking, beproewing, diskriminasie, aanvaarding van mense, vryheid van spraak en die beheersing van die tong. Gemoedere het onlangs weer baie hoog geloop oor rassistiese aanmerkings wat gemaak is van alle kante af. En met behulp van die sosiale media word sulke uitsprake soos 'n weghol veldbrand versprei, en binne ure is die hele wêreld aan die brand! Hierdie is kwessies wat nie alleen daagliks voorbladstories in ons koerante maak nie, maar dikwels selfs in die kerk soos ‘n sweer oopbars. Na soveel eeue sit ons steeds met dieselfde gebroke verhoudings.
Predikante is gewoonlik ook nie baie lief daarvoor om oor Jakobus te preek nie. Ons wil graag hoor wat God vir ons gedoen het en steeds doen. Ons wil egter nie so graag hoor wat ons vir God moet doen nie. Dis dan nie meer so lekker nie! Om genade te ontvang is heerlik, dis Goddelik. En natúúrlik is dit ook hééltemal reg! Om egter genade uit te deel aan ander mense is ‘n stryd. Ons hou nie daarvan om te hoor dat ons geloof in die gedrang raak as ons nie ook skouer aan die wiel sit en iets moet doen om ons geloof te bewys nie.
Jakobus se stem moet baie beslis vandag in die prediking gehoor word, en hy het ‘n welverdiende plek in die Bybel. Die Christelike geloof raak absoluut élke faset van die lewe, ook die manier waarop ons met ander mense in die wêreld saamleef. Wanneer ons dus hierdie boek lees, moet ons baie duidelik besef dat Jakobus nie alleen vir sy eie gemeente of vir die mense van sy tyd geskryf het nie, maar pertinent ook vir jou en my vandag. As ons maar net gaan kyk na die inleiding tot sy brief, sien ons dat hy dit rig “aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is” (1:1). Dit is dus gerig aan alle Christene regoor die wêreld, deur alle tye, die nuwe volk van God.
Ek nooi jou uit om saam met my oor die volgende paar weke te leer uit hierdie merkwaardige, afgeskeepte boek.
Gebed:
Here, my gebed is dat U my hart en gemoed en verstand sal oopmaak vir die waarhede wat opgesluit is in Jakobus. Waar dit soms gaan seermaak, vra ek ook dat U my die moed sal gee om dit ter harte te neem en die krag om reg te maak waar ek nie leef soos U dit van my vra nie.