2 Timoteus 3:1-5
Hier kort na die groot verkiesing raak my Mosbolletjie mos toe eendag by ons boshuisie wat ons daardie jare in Marloth Park gehad het, warm onder die boordjie vir my. Beskuldig my dat ek kwansuis besig was om ‘n gevaarlike situasie te skep.
Man, die hele petalje het toe eintlik een môre vroeg begin toe ek op die stoep sit met ‘n ou kôfetjie, en tuur so oor die vlakte, want dit is net die gevoel wat ek toe kry. Die grasperk hier voor my voel toe vir my nes ‘n groot plêstiek oopte met niks op nie. Eers was daar maar ‘n ou klein lappie gras, maar deur die jare het hy so stukkie vir stukkie al hoe groter geword, totdat hy nou soos ‘n regte dorpstuin lyk, kortgeknip, netjies en gans te groot. En ek hou niks van wat ek daar sien nie! En net daar pak so ‘n wilde gier my, dat ek later amper spyt gekry het dat ek toegelaat het dat so ‘n gedagte óóit oor my kom. Maar toe was dit klaar te laat, en ek moes deurdruk!
Dit was net na ‘95 se groot reëns, en die veld was ‘n lushof. Ruig en groen die veldgras, en waar ‘n veldblommetjie bokant die lang stingels kan uitbeur, daar het hy geblom. En dit is toe mos ook net nóg ‘n dryfveer vir hierdie wilde gier wat my beetpak. Ek begin die grasperk omdolwe van ‘n kant af, en plant orals wilde graspolle. Hier en daar word sommer ‘n bossie of twee ook ingesmokkel, en van pure lekkerkry plant ek veldblommetjies net waar ek 'n gaatjie kry. Man, en is daar naderhand só ‘n wilde boskasie dat ek amper op my eie werf verdwaal! ‘n Oerwoud, púre oerwoud!
Maar dis net dáár waar die huismoles mos toe amper begin! En dit oor ‘n paar simpele ou graspolletjies! Ek probeer nog my óú gesellige self wees hier langs die vuurtjie daardie aand, maar Mosbolletjie bly brom. En so kort-kort dan bly sy so oor haar skouer loer na een of ander tier of leeu wat dan kwansuis uit daardie ruigtes kan uitspring. En sy is ongedurig, want dis nou álles my skuld, en dis ékke wat so ‘n gevaarlike oerwoud geskep het hier rég langs die braaiplek. Maar sy het self ook maar lekker raad gegee: “Daai klip sal mooi lyk dáár” en “Daai kol is nog te kaal. Plant nog ‘n graspol of ‘n bossie daar.”
En dit begin skemer raak. Sit ons nog so lekker en gesels, toe is dit net asof iets vir my kyk. Jy weet, partymaal dan kry mens mos so ‘n gevoel, so half ‘n kriewelrigheid hier by jou nek langs. Tussen die einste splinternuwe graspolle gluur twee swart ogies en ‘n blinkswart neusie ons aan. Een vir een peul sy maatjies uit - muishondjies. Skielik kry hulle lewe, en dan skarrel hulle orals oor die grasperk rond en grawe vir krieke en goggas, al hier om ons.
En toe gooi die nag sy pikswart kombers oor ons, en die boskonsert begin. Oorkant die rivier sing die wolf-met-die-mankbeen sy “Hoeeeep-hoeeeep” klaaglied. Leeu brom-brom so half uit tjoen uit saam en die boompaddatjies tjierie-tjierie-tjierie die hogere note. Van puur lekkerkry lag seekoei daar naby die groot jakkalsbessieboom jolig uit sy maag uit: “Oeemf snork-snork jugge-jugge snork...”, en hy lag en proes vir ‘n ver-onner-die-belt grap dat die hele bos dreun! En bokant ons skaterlag die sterretjies klokhelder.
Skielik pomp Mosbolletjie my in die ribbes met die elmboog. ‘n Ou laai van haar daardie! Nes ek lekker slaap, dan pomp sy my gewoonlik so, en dan wil sy beweer ek snork. Snork! Ek? Verbeel jou! Ewenwel, Mosbolletjie pomp my in die ribbes (nie oor ek snork nie), en ek weet hier is moeilikheid! Sy hoor iets in die lang gras, dieselfde gras wat ek die vorige dag geplant het. My nekhare staan eintlik orent van skrik, en Mosbolletjie se oë soos pierings soos sy probeer kyk.
Twee satellietskottel ore in die sterlig. Drie koedoes tree versigtig na vore uit die ruigtes. Dis omtrent net daardie ore wat bokant die gras uitsteek. En hulle staan ons rustig, grootoog en aankyk. En skielik is die nag in die bos mooi en vriendelik en so sag soos die koedoes se fluweel-oë.
En ek fluister vir Mosbolletjie: “Hier, uit hierdie ‘gevaarlike’, wille boskasie, het nog net mooi dinge gekom! Of hoe liefie?”
En toe doen sy dit wéér: sy pomp my in die ribbes!
“In die laaste dae sal daar swaar tye kom”, waarsku Paulus vir Timoteus. Hy skryf van die mense waarmee Timoteus elke dag mee te doene gaan kry - hulle sal selfsugtig, geldgierig, grootpraterig, verwaand, liefdeloos, bandeloos en selfs wreed wees. Sy lysie gaan aan en aan, en dan lyk dit selfs erger as daardie gevaarlike boskasie wat ek by my boshuisie geskep het.
Lyk die lysie nie baie bekend nie? Is dit nie maar die wêreld waarin ons vandag lewe nie? “Bly weg van sulke mense af!” waarsku Paulus vir Timoteus.
Beteken dit dan nou dat ons almal wat sondig is moet vermy? Maar ons werk dan saam met hulle! Nee, ek dink nie dat dit Paulus se bedoeling is nie. Maar ons moet wel baie versigtig wees dat ons nie onsself vereenselwig met die dinge wat hulle doen nie. As ek dus uitgenooi word na ‘n geleentheid waar ek vooraf weet dat onheilighede gaan gebeur, bly ek liewer weg. En ek woon nie 'n vertoning by as ek wéét dat die kunstenaar walglike dinge gaan kwytraak nie.
Maar in ons volgende dagstukkie gaan ons in meer diepte kyk na hierdie Skrifgedeelte.
Gebed:
Here, gee asseblief vir my altyddeur ‘n bly gemoed, selfs al lyk dinge soms duister en gevaarlik.