Markus 14:32-40
Dit is die langste nag óóit in Johannes se lewe, waar hy saam met Petrus en Jakobus teen die skurwe stam van ’n knoetsige ou olyfboom gaan sit. Hy is moeg tot diep in sy siel. ’n Entjie van hulle af kniel Jesus op die grond in die flou maanlig. Die hele aand se gebeure maal weer deur sy kop. Die skok tydens hulle Paasmaal toe Jesus aankondig dat een van hulle twaalf Hom sou verraai. Hy sien weer Judas se gesig, asvaal en tot die dood toe skuldig. Dit kan maar nét Judas wees! Ja, hy moes dit geweet het! Hy het nog nooit rêrag vir Judas mooi kon vertrou nie! Daar is net iets omtrent daardie man........
Saggies hoor Johannes sy Meester bid. Hy krimp ineen as hy Jesus se verskriklike sielewroeging hoor: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik.” Sy smeekwoorde kom aangesweef op die koel nagluggie na Johannes. “Neem asseblief hierdie lydensbeker van my af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar U wil.”
Dit voel asof ’n dolk deur Johannes se hart steek, om sy Meester so te hoor pleit. Die rou pyn in Jesus se stem, trane loop oor Johannes se wange. Hoe bitter swaar het sy Meester nie al gely nie, hoe Hy elke dag geestelik uitgemergel word, die ondraaglike spanning. Maar steeds het Jesus voortgegaan om mense te leer. Daar was ’n soort dringendheid by Hom om so veel as moontlik af te handel, asof Hy nog net ’n paar dae oorgehad het om te leef.
En dan, die alewige priesterhoofde, Fariseërs en Herodiane, soos klein brakkies wat net kef en hap. Die vuur van haat en jaloesie wat in hulle oë gloei! Hierdie manne het net één ding in gedagte: om Jesus vas te trek en Hom in die tronk te kry, nes dit gegaan het met Johannes die Doper. Arme Johannes!
Die vaak oorval Johannes, en hy begin droom, die allerverskriklikste nagmerries. “Simon, Johannes, slaap julle?” Johannes word uit sy onstuimige slaap wakker geruk: “Kan jy nie eers vir een uur lank wakker bly nie?”
“Jammer Meester!” Hulle voel baie skuldig dat hulle nie eers vir Jesus kon bystaan in Sy grootste uur van nood nie.
Half deur die slaap hoor hulle hoe Jesus hulle bekommerd vermaan: “Julle moet waak en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” En daarmee draai Hy om om verder te gaan worstel met God.
“Nou die dag nog het ek en jy gesweer dat ons saam met die Meester Sy lydensbeker sal drink, Jakobus.” Johannes is ontsteld. “Toe julle netnou al geslaap het, het ek gehoor hoe Hy by God pleit om daardie lydensbeker weg te vat. Dit was hartverskeurend om Hom so te hoor.”
“Watter soort vriende is ons? Ons is almal besig om Hom in die steek te laat!” Die drie manne voel bitter skuldig. Dan sak ’n doodse stilte oor hulle neer terwyl hulle met pyn in die harte lê en luister hoe Jesus worstel en wroeg in gebed. Maar vir hierdie drie is die vlees net eenmaal te swak, en weldra verval hulle weereens in slaap.
In absolute eensaamheid, verlaat selfs van Sy intiemste vriende, worstel Jesus, die Seun van God deur Sy grootste krisisuur. Sal ons ooit die ware omvang van Sy lyding kan begryp? Sal ek en jy ooit kan verstaan waardeur Jesus werklik daardie nag gegaan het? Daardie nag het Jesus fisies bloed gesweet, en bloeddruppels het op die grond geval terwyl hy worstel in gebed. Al was Hy die Seun van God, was hy terselfdertyd ook ten volle mens, met dieselfde angste en gevoelens as enige ander mens. Wat dit soveel erger gemaak het, is die feit dat Hy presies geweet het wat in daardie volgende ure op Hom sou wag, die verskriklike vernedering; die ondraaglike pyn wanneer die soldate Hom gésel. In die fliek “Passion of Christ” word dit so verskriklik grafies uitgebeeld waar Hy stukkend geslaan is. Afgryslik! Jesus het presies geweet waarvoor Hy Hom inlaat: Gegésel, gespot, gekruisig, totaal verlaat van vriende, van familie - verlaat ...... van God! So moes Hy in die mees uitmergelende pyn denkbaar hang, Sy gewrigte verbrysel deur dik ysterspykers.
Die sondes van die ganse mensdom sou op Hom neerkom; die straf vir die sondes van die ganse aarde moes Hy dra.
En Sy vriende lê en slaap......
Markus wil elke leser van hierdie Evangelie, ook vir jou en my, probeer aanspoor om asseblieftog ’n beter dissipel te wees as wat hierdie manne was. Om te waak en te bid dat ons nie in die versoeking sal kom nie. Hierdie oproep van Jesus aan die manne, weergalm deur die tuin van Getsemane, oor die ganse wêreld, deur die eeue, sodat ek en jy vandag ook moet kennis neem en waarlik gaan doen wat Jesus vra. Die angs wat Hy daardie nag gely het, was ook vir jou en my. Is ons waarlik opreg dankbaar daarvoor?
Gebed:
Here, ek sal nooit kan begryp hoe groot U lyding waarlik was nie. Maar ek wil dankbaar leef voor U. Help my om my dankbaarheid prakties te kan uitleef.