Genesis

3 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Genesis

Inleiding tot Genesis

Vandag begewe ek my eintlik op baie gevaarlike grond, want dit maak nie saak uit watter oogpunt ek hierdie reeks dagstukkies gaan aanpak nie, iemand gaan my wil kruisig. Dus sal ek waarlik die wysheid van Salomo aan die dag moet lê. Ek sal met ‘n oop gemoed moet luister na die influistering van die Heilige Gees.

Die verhale wat opgeteken is in Genesis, is sekerlik die bekendste verhale van alle tye. Boonop is dit nie net gelowiges wat die verhale ken nie, maar mense van alle gelowe. Die vraag is dan ook of dit in die eerste plek ware verhale is of dalk bloot sprokies? Goeie verhale, is hulle beslis! Daar is al selfs talle rolprente gemaak wat gebaseer is op hierdie verhale.

Die feit is egter dat hierdie nie maar bloot stories is nie. Dit is nie maar net lekker leesstof nie. En boonop is dit nie maar net ‘n geskiedenisboek wat jou nooi om op die spore van die oervaders en die aartsvaders te stap nie. Dit is véél meer as dit. Dit vra van jou om toe te laat dat die karakters van Genesis deel word van jou lewe vandag, duisende jare na hulle lewe op aarde.

Dit vra verder van jou om jou in die situasie van daardie tyd in te leef en dit deel van jou eie lewenservaring te maak. Jy moet as’t ware in Adam se kaalvoetspore gaan staan. As jy Eva was, wat sou jy gedoen het in haar situasie? Sou jy nie dalk ook maar voor die listigheid van die geslepe slang geswik het nie? En Kain? Is daar nie dalk ook maar ‘n stukkie Kain in elkeen van ons nie? En as jy soos Noag vandag God se stem moes hoor en ‘n opdrag kry wat gládnie sin maak nie en jou totaal stomslaan, sou jy gehoorsaam wees?

As jy jou eers begin inleef in die boek, begin jy iets baie groter ervaar as dat dit maar net ‘n verhaal is wat duisende jare gelede afgespeel het. Dan begin jy die asemrowende grootheid van die Almagtige Skeppergod ervaar. ‘n God wat bereid was om die pad saam met Sy skepsels te stap en moeite met hulle te maak. ‘n God wat genadig was en nog steeds vandag is. Om te vergewe en tweede kanse te gee, selfs nadat hulle totaal afvallig geword het.

Die eerste gedeelte van Genesis vertel die oergeskiedenis. Die brandende vraag is egter, wanneer was hierdie oertyd? Hieroor is daar gladnie eenstemmigheid nie. Sommige gelowiges is van mening dat dit niks meer as 6000 jaar gelede was nie. Ander weer is oortuig daarvan dat dit miljoene jare gelede was. Wie is reg? Maak dit vir my as gelowige ooit werklik saak wie reg is?

As ons hieroor begin stry, verloor ons totaal die boodskap wat die lewende God vir ons vandag uit hierdie asemrowene boek wil gee. Ja, inderdaad is dit die inspirasie van die Heilige Gees wat hierdie boek tot stand gebring het en dit 'n totaal tydlose boek gemaak het wat selfs vandag nog vir my en jou 'n aktuele boodskap het.

Genesis, en veral die verhaal van die skepping, is die eerste boek van die Bybel wat geskryf is, reg? Nee, verkeerd! En Moses het die eerste vyf boeke van die Bybel, die sogenaamde Boeke van Moses geskryf, reg? Nee, wéér verkeerd!

Die brandende vraag is, hoe en wanneer het die Ou Testament tot stand gekom? En dan dink ons veral aan die boek Genesis.

Vir duisende jare was daar absoluut niks op skrif nie. Dit beteken egter nie dat die Bybel nie bestaan het nie. Daar was ‘n baie sterk tradisie onder die gelowiges om die geskiedenis oor te vertel. Nou moet ons eers baie duidelik verstaan: as iemand vandag ‘n storie vertel, gaan die persoon wat dit hoor waarskynlik sy eie kleurtjie daaraan toevoeg en ‘n stertjie of wat aanlas wanneer hy dit oorvertel. In die kultuur van die mense van daardie tyd was dit egter baie anders. Daar was net eenvoudig nie verander aan ‘n vertelling nie. Om dit makliker te maak, is baie van die vertellings in digvorm of liedere oorgedra sodat die oorspronklike verbasend goed behoue gebly het.

Die héél eerste gedeeltetjie van die Bybel wat op skrif gestel was waarvan ons weet, is die Lied van Debora in Rigters 5. Eers baie jare later, tydens die regering van Koning Hiskia in ongeveer 700 vC. was daar begin om van hierdie vertellings te versamel en op skrif te stel. Die meeste vertellings is egter eers baie later, tydens die ballingskap in ongeveer 550 vC. op skrif gestel. Die boek Genesis is een van die laaste boeke wat afgerond is. Dit kon moontlik selfs so laat as 515 vC. gefinaliseer gewees het. Dit is ook moontlik dat dit byna 500 jaar geneem het vandat die eerste stukkies van Genesis neergeskryf is totdat dit in sy finale vorm verskyn het.

Natuurlik het die finale samestellers ook hulle eie stempel op die verhaal geplaas, want hulle wou 'n spesiale boodskap aan hulle lesers oordra. Ons moet dus ook Genesis lees in die lig van die gebeure van die ballingskap tydperk asook uit die agtergrond van daardie tyd.

Ek wil jou uitnooi om saam met my hierdie oeroue verhaal te deurleef en te stap in die voetspore van die gróót manne en vroue van ouds.

Gebed:

Here, Skeppergod, dankie dat U op 'n wonderbaarlike wyse vir my hierdie ou, ou verhaal laat behoue bly het. Dankie vir die wonderlike boodskap en beloftes wat hierin vir my opgesluit is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026