Joël 2:12-17
Die verwoestende storm het my Laeveld waarvoor ek so lief is, vermink. Eers die aaklige droogte wat elke grassie en blaartjie verdor het en toe alles weg is, kom die skrikwekkende storm. Ek het op die stoep gaan sit met my oë toe. My siel het gesmeek tot die Here. Ek het my hart oopgemaak vir God. En toe weet ek: my God is genadig - Hy sal weer uitkoms gee op Sy tyd!
Die volgende dag pak die wolke saam uit die ooste - swaar, swanger wolke, gevoed uit die magtige Indiese oseaan. En hulle kom stort hulle swaar vrag lafenis uit oor die Laeveld. Hulle deurdrenk die aarde met lewegewende, lawende, koel water. Die lustelose rooibokkies kry skielik lewe en hulle huppel en dans en bokspring en hardloop laf rond!
Ek voel hoe my gemoed saam met die rooibokkies bokspring, en ek skater dit uit van die lag. My God is groot en liefdevol en genadig! Tussen die reënvlae deur hoor ek die tarentale luidrugtig kwetter. Die voëls kry weer lewe en sing uitbundig hulle lofliedere. Die lewe is ‘n lied! Die aarde ruik skoon en vars. Die stof spoel van die bome en struike af en skielik lyk dit of hulle weer nuwe lewe het. Alles jubel tot eer van God. Die veld is dankbaar!
Die groot reën is verby en nou knaag daar ‘n diep bekommernis in my hart - was dit nie dalk te laat nie? Sal daar ooit weer gras kan groei uit hierdie morsdooie aarde? Alles is weg - nie ‘n grassprietjie is in sig nie. Dag-na-dag hou ek die grond dop - hoop ek om weer ‘n groenigheidjie te sien. My hart pyn vir die arme diere. Maar hulle lyk positief en ek kan dit nie verstaan nie! En dan gaan daar vir my ‘n liggie op - hulle het hoop! Die belofte van ‘n nuwe lewe is vir hulle gegee en hulle vestig al hulle hoop daarop. En daarom kan hulle, in ‘n wêreld wat lyk asof daar nooit lewe uit sal kom nie, steeds ‘n huppel in die stap hê - steeds uitbundig wees. Hulle wéét hulle verlossing is ‘n werklikheid!
Skaars ‘n week na die reën, sit ons een oggend vroeg op die stoep met ‘n beker stomende koffie. Iets is anders, maar ek kan my vinger nie daarop lê nie. Dan merk ek dit: die rooi aarde het vanoggend ‘n groen skynsel! Ek sit my beker op die vloer neer en hardloop die veld in. Ek val op my knieë en voor my oë is die wonderlikste ding wat ek nog ooit gesien het - deur ragfyn krakies in die rooi grond beur derduisende brose groen blaarpuntjies. Trane van dankbaarheid stroom oor my wange.
Skaars twee dae later is die ganse Laeveld bedek met ‘n fluweelsagte grasgroen tapyt. God het Sy belofte gehou! Die rooibokkies se hoop was beslis nie verniet nie. Hy is genadig, bo beskrywing inderdaad!
Na Joël se beskrywing van die verskriklike verwoesting, begin hy vers 12 met die koel, lawende, lewegewende woorde: “Maar selfs nou, keer terug na My met julle hele hart, vas en huil en rou!” In vers 13 troos Joël: “Draai om na die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig in troue liefde, Hy het berou oor die onheil wat Hy bring.”
Is dit nie die wonderlikste woorde óóit vir enige sondaar nie? As ek in skuld voor die Here staan en Hy sê vir my dat Hy genadig en barmhartig en lankmoedig en vol liefde is en dat Hy my totaal vergewe?
In die vorige dagstukkie het Joël die wagters in die muurtorings opdrag gegee om op die ramshorings te blaas om die dreigende gevaar aan te kondig. Nou kry hulle weer die opdrag om op die ramshorings te blaas. Hierdie keer is dit egter anders, nou moet hulle blaas om die hele gemeente bymekaar te roep. Die hele volk moet optrek, selfs die kinders en die babas wat nog drink. Almal moet gereinig word vir die Here. Selfs diegene wat nie gesteur wil word nie, die bruidegom en bruid in hulle wittebroodskamer!
Die Ou Testament wil soms vir ons die indruk gee dat die Here ‘n God van straf is. Tóg sien ons hier, soos in baie ander dele van die Ou Testament, dat die teendeel waar is en dat Hy ‘n God van genade en vergifnis is. As die volk bereid is om hulle na Hom te keer, dan is Hy bereid om die straf ter syde te stel. Daarom roep die profeet die volk op om boete te doen en te vas. Dit is prioriteit vir die héle volk en hulle moet alles nét so los en as een volk optrek!
Die Here is bereid om my en jou weer en weer en weer te vergewe en aan ons genade te betoon en ‘n oorvloed van liefde. Maar Hy vra van ons terselfdertyd om Hom onvoorwaardelik te volg en te dien. Hy vra van my en jou om Hom bo alles lief te hê met ons hele hart en siel en verstand. Dit is liefde wat nie maar net lippetaal is nie maar dit moet diep uit die hart kom. Dit beteken dat ons ‘n lewende verhouding met Jesus moet hê. ‘n Lewende verhouding beteken dat daar lewende kommunikasie sal wees en dat ons liefde oorgaan in dade. Praktiese liefde beteken dat ons ook God se skepping sal koester en dat ons ons medegelowiges en ons medemens - selfs ons vyande innig lief sal hê en daardie liefde prakties teenoor hulle sal uitleef.
Gebed:
Here, dankie vir U groot genade, ten spyte van my baie sondes. Here, vergewe my, en help my om U ten volle te dien en lief te hê!