Romeine 1:6,7
In die vroeë Christelike kerk staan die name van twee stede lynreg teenoor mekaar. Aan die een pool het ons Jerusalem, die bakermak van die Christelike asook natuurlik die Joodse geloof. Jerusalem kom ’n lang pad saam met God se volk. Dit was die groot Koning Dawid wat hierdie onoorwinlike stad op meesterlike wyse vir Israel ingepalm het. Hier het die koning van liefde, Salomo later ook die eerste tempel gebou. Hierdie manjefieke gebou sou dien as simbool van God se teenwoordigheid op aarde en die Israeliete sou dit sien as die absolute middelpunt van die wêreld en heelal en wat as’t ware die naelstring tussen hemel en aarde sou wees. Jode sou van regoor die wêreld kom om juis hier te kom aanbid.
Jerusalem sou egter ook baie jare later die plek word waar die lang verwagte Messias, Jesus die grootste offer van alle tye sou kom bring met Sy eie lewe. Dit is in die einste Jerusalem waar Hy die kruisdood gesterf het sodat alle gelowiges die Ewige Lewe kan hê. Dit is ook hier waar Hy vir ewig die dood oorwin het deur uit die graf op te staan.
Op die ander pool troon die wêreldhoofstad Rome. Wonderlike Rome, intellektuele, kulturele en politieke sentrum van die wêreld! Terselfdertyd is dit egter ook die hoofstad van afgodery en sedelike verval. Alhoewel daar in die tyd toe Paulus hierdie brief geskryf het relatiewe vrede was, was die Christendom later baie wreed vervolg in Rome en Christene was selfs van elders af gebring om in Rome vir hulle geloof te betaal en te sterf. Volgens tradisie was selfs Paulus later ook hier tereggestel. Christene het na die Romeinse Ryk en veral Rome verwys as Babilon! Deur die eeue is alle anti-goddelike magte in die wêreld egter beskryf as Babilon. Openbaring beskryf vir ons hoe afgryslik die stad uiteindelik geword het en in hoe ‘n ernstige lig God die gruwelike sondes van hierdie stad gesien het!
Op die vooraand van die verskrikking van vervolging van die gelowiges, gebeur daar egter ’n wonderlike ding in Rome. God bewys Sy liefde aan al die inwoners van hierdie stad en Hy rig aan hulle ‘n uitnodiging om Sy kinders te word. En aan almal wat Hy liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort, bewys Hy Sy liefde boonop daarmee, dat Hy ook vir húlle hierdie brief laat skryf. Hierdie is ‘n brief wat die volledige uiteensetting van die Christelike geloofsleer bevat. Baie gelowiges sou hierdeur toegerus word om, selfs met die prysgee van hulle lewens, steeds te wys dat hulle bo alles aan God behoort.
Inderdaad het God ‘n besondere taak vir die gelowiges in Rome gehad, hoe haglik hulle omstandighede ookal was en daarvoor het Hy hulle deeglik toegerus!
Ja, in Suid Afrika is omstandighede vandag dikwels ook maar moeilik, maar ook híér het Hy vir my en jou ‘n taak! Hy roep ons en Hy wil ons gebruik! Die Roemeinebrief was nie alleen vir die gelowiges in Paulus se tyd ‘n toerustingskursus nie maar God is ook nóú, vandag besig om vir my en jou toe te rus deur hierdie brief. Hy wil ons leer dat géén omstandighede jou van God se liefde kan skei nie! Later sal ons in meer diepte oor hierdie onderwerp gesels wanneer ons Romeine 8:35 tot 39 behandel. Alles staan daar volledig opgeteken. Tydens alle omstandighede, of dit nou goed of sleg is, gee God ons geleenthede om Sy genade en liefde sigbaar te maak en bo alles te wys dat jy aan Hom behoort.
Paulus sluit sy aanhef tot hierdie brief af met ‘n seëngroet waarin hy God se genade en vrede toebid vir elkeen wat hierdie brief lees. Op daardie stadium was vrede deel van die Romeinse staatsbestel, want hulle het alles onder beheer gehad. As jy aangekla was, kon jy selfs om genade pleit by die keiser. Maar dis nie hierdie soort genade en vrede waarom Paulus bid nie. Hierdie is ‘n totaal ander soort genade wat slegs God kan gee! Om die waarheid te sê bevestig hy eintlik met sy uitspraak dat God se genade en vrede alreeds daar is vir gelowiges en dat jy nie nog daarvoor hoef te pleit nie. Dit is nét so ‘n groot realiteit as die regering van Jesus Christus en die feit van Sy wederkoms. Ook vandag is dit stééds net so ‘n werklikheid vir my en jou, al verdien ons dit gladnie eers nie!
Ervaar dus daardie innerlike kalmte en vrede wat God jou gee, omdat Hy ‘n volmaakte verhouding met ons het. God is nie soos die Romeinse keiser wat maar net jou foute oorgesien het as hy die dag besluit het om jou genadig te wees nie. Nee, Hy het die foute persoonlik sélf reggemaak! Jesus Christus het volledig betaal - die vólle prys - vir my en jou foute! Ons gebed kan maar net wees dat die Heilige Gees ons sal lei om die realiteit van Jesus se Koningskap al meer en meer raak te sien, dit te eerbiedig en aan Hom ál die eer te gee as die Koning van alle konings. Sodoende sal daardie genade en vrede wat Hy gee elke dag meer gestalte kry in ons lewens.
Gebed:
Laat Heer, U vrede deur my vloei, en maak my elke dag meer bewus van U genade en heerskappy!