2 Korintiërs 1:1,2
Dis November 1973. Onder my blaaie slaan die koue, klipperige grond van Potchefstroom swaar deur my slaapsak. Die grond is bitter hard en ongemaklik as ek my op my elmboog stut. Maar vanaand dink ek nie eers aan die koue of die ongemak nie. Al wat ek in my gedagtes sien, is my geliefde. “Oor drie weke raak ons verloof,” borrel dit in my, “sodra ek uit hierdie militêre kamp kom!” In die flikkerende liggie van die paraffienlamp trek ek my skryfblok nader. Hoe begin jy ‘n liefdesbrief? Ek het nog nooit so ‘n ding in my lewe geskryf nie! Op skool het hulle my geleer van sakebriewe, nie liefdesbriewe nie! “My liefste,” begin ek. “Ons het maar so pas in Potchefstroom aangeland, en ek verlang my klaar morsdood na jou!” ‘n Klip onder my elmboog steek pynlik, maar ek voel dit skaars. Die enigste ding in my gedagtes, is die groot liefde van my lewe. En dan stort ek my hart uit, ál my verlange op die stukkie papier!
Tóé was pen en papier die enigste manier van kommunikasie! In Paulus se tyd was dit nog erger: géén telefone, selfone, whatsapp of e-pos nie. Selfs nie eers ‘n posdiens nie! As Paulus dus sy brief aan die gemeente in Korinte begin skryf, moet hy baie seker maak dat elke woord perfek is, want iemand sal dit persoonlik moet gaan aflewer, en dit gaan daardie persoon weke se reis neem.
“Van Paulus,” dikteer hy. Hy sukkel om te sien, want sy oë is maar swak, en sy handskrif laat véél te wense oor. Dus moet iemand maar sy skryfwerk doen, iemand wat mooi kan skryf. En die ontvangers moet boonop wéét dat hy hierdie moeilike brief nie op eie gesag skryf nie, maar op gesag van God. Die Heilige Gees het dit op sy hart gelê! “’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God,” gaan hy dus voort. Ja, nie almal aanvaar sy apostelskap nie, maar hy is vas oortuig dat hy baie beslis ‘n gevolmagtigde gesant van Jesus Christus is! Het Jesus hom dan nie Persoonlik aangestel daar op die pad na Damaskus nie? Dáár het hy alreeds die opdrag van Jesus ontvang om te doen wat hy vandag doen! Nee, hy is nie deur ‘n mens aangestel nie, maar deur God sélf!
Boonop skryf hy darem ook nie hierdie brief op sy eie nie. Timoteus lewer ook sy insette! Liewe Timoteus, wat sal hy tog sonder hom doen? Elke keer as daar iewers probleme is, kan hy maar net op die jongman se knoppie druk om te gaan regmaak. Eendag gaan hy nog vir Timoteus aanstel as ‘n leraar iewers in ‘n gemeente. Ja, Timoteus was saam met hom toe hulle die gemeente in Korinte gestig het. Daardie mannetjie het hard gewerk daar in Korinte! Dalk sal dit nie ‘n slegte idee wees om vir Timoteus te stuur om persoonlik hierdie brief te gaan aflewer nie. Dan kan hy mos sommer ook dinge weer ‘n bietjie gaan regruk waar dit nou besig is om hééltemal skeef te loop. Of wat van Titus? Ja, Titus is miskien eerder die regte een om die brief te gaan aflewer…..
“Skryf daar by: ‘en van die broer Timoteus,’ ” beduie Paulus aan sy sekretaris.
“Aan die gemeente van God in Korinte,” dikteer hy voort, as die sekretaris hom in afwagting aankyk. Inderdaad is dit Gód se gemeente, al is daar so baie probleme. Soms wil dit amper lyk asof hierdie gemeente gladnie aan die Here behoort nie, maar Hy het ‘n wonderlike doel met hulle, en keer op keer moet Paulus maar net weereens sien hoedat die Here voorsien en hoedat Hy hulle weer optel, elke keer wanneer hulle geval het. Maar belangriker nog, is die feit dat hierdie gemeente, met al hulle gebreke, afgesonder is vir God. Hulle is almal heiliges, toegewy aan die Here. Is dit nie uiteraard maar wat die kerk is nie? O, hoe groot is God se genade nie! As dit bloot menslik was, sou die gemeente al hóéka uitmekaar geval het. Maar deur God se groot genade het hulle behoue gebly, en dit lyk amper of hulle darem nou weer op pad is in die regte rigting.
Paulus onthou skielik van al die ander gemeentes rondom Korinte: “en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje.” Almal moet die brief lees, nie maar net hierdie enkele gemeente nie. Die ander gemeentes moet óók kennis neem, want dit is mos nie hy, Paulus wat die brief skryf nie. Hy skryf dit mos in opdrag van God, van die Heilige Gees wat hierdie gedagtes op sy hart lê!
“Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” Inderdaad “Genade” vir die Grieke en “Vrede” vir die Jode! So begin hierdie tydlose brief, wat vandag nog steeds vir elke gemeente uiters relevant is, nie net dié van Korinte nie. Omdat dit deur die Heilige Gees geïnspireer is, is die brief persoonlik aan my en jou ook gerig, en móét ons ter harte neem wat Paulus skryf. As hy dus vir my en jou vanoggend genade en vrede toebid, dan beteken dit dat ons dit maar ons eie kan maak.
Mag daardie wonderlike genade van die Here, en die vrede wat alle verstand te bowe gaan, vandag joune wees, en mag jy dit baie duidelik ondervind, elke oomblik van die dag.
Gebed:
Here, dankie vir hierdie wonderlike brief, en dat dit vir my persoonlik bedoel is!