Efesiërs 1:1,2
Shalom! Vrede vir julle! So het Jesus Sy volgelinge gegroet toe Hy hulle vir die eerste keer sien na Sy opstanding.
Wat is daar in ‘n groet? Wanneer ek ‘n bekende persoon op straat sien, sê ek vriendelik: “Goeie môre” sonder om eers te dink wat ek vir hom sê. Bedoel ek dit werklik diep uit my hart dat ek daardie persoon ‘n mooi dag toebid?
En as ek nie té haastig verby hom jaag nie, vra ek so terloops: “Hoe gaan dit?” Sommer so outomaties sonder dat ek werklik belangstel in die persoon se welstand, sommer maar net uit goeie maniere. Dan hoop ek maar dat hy sal sê: “Goed dankie,” al gaan dit dan ook bedroef, want mens wil mos nie na ‘n ander ou se gesanik luister nie en beslis ook nie nog sy probleme óók op jóú skouers dra nie!
Waarom sê ons ‘n ding as ons dit gladnie bedoel nie? En waarom vra ons hoe dit gaan as ons nie werklik belang stel nie? Dis mos skynheiligheid, is dit nie?
Wanneer laas het jy by ‘n eensame ou tannie gekuier en net met aandag en belangstelling geluister? As jy bereid is om te luister, maak die persoon haar hart teenoor jou oop. Sy vertel jou van haar vrese, haar pyn, haar verlange na haar eggenoot wat vir 50 jaar haar lewe met haar gedeel het en nou nie meer daar is nie. Maar sy vertel ook van haar vreugdes en die mooi dinge uit haar jeug. “Hoe gaan dit?” word nou met opregtheid gevra. En die wonder is dat daardie persoon weer soos ‘n mens voel wat iets vir iemand beteken. Nou voel sy dat iemand werklik in haar belangstel. En ek belowe jou: vir jouself is dit nét so verrykend en opbouend!
Vir Paulus was dit nogal moeilik om “goeiemôre” te sê, want hy was in die tronk opgesluit! Hy kon nie eers die mense vir wie hy groet ‘n drukkie gee nie!
Die tronk was ‘n afgryslike plek, maar Paulus het hom nie sit en verknies daaroor nie. Ons lees nie eers in ‘n enkele brief van hom dat hy kla oor sy omstandighede nie! Paulus verwyt God nooit omdat Hy toegelaat het dat hy in die tronk sit nie. Inteendeel, Paulus sien die wonderlike geleenthede in die tronk raak. Hier waar hy opgesluit is, het hy hope tyd om briewe te kan skryf. As hy nie direk met die mense kan gesels nie, skryf hy vir hulle! Boonop kry hy die geleentheid om die evangelie te kan deel met die tronkowerhede en soldate.
Paulus spring dus nie in sy brief weg met ‘n klaaglied oor sy persoonlike omstandighede nie, maar hy begin met ‘n loflied oor die Here se wonderlike uitverkiesende liefde (Efes. 1:3-14). Ons gesels ‘n bietjie later oor hierdie loflied.
Sommer reg met die intrapslag wil Paulus sy lesers wys op die feit dat hulle aan God behoort. Terloops, dit wil voorkom asof die woorde “in Efese” dalk later ingevoeg kon gewees het en dat die sin oorspronklik gelees het: “….. aan die heiliges, die gelowiges in Christus Jesus…..” Hierdie brief was heel waarskynlik nie net gerig aan die gemeente in Efese nie, maar aan ál die gemeentes en dus ook direk aan jou en my vandag! Met sy groet wil Paulus ons dit op die hart druk dat ons verseker kan wéét dat ons aan God behoort as ons maar net in Jesus glo.
Daar is soveel gelowiges wat met ‘n onsekerheid in die hart rondloop. Hierdie woorde plaas sekuriteit in ons harte, want watter groter sekuriteit is daar nie in die lewe nie, as om verseker te kan wees daarvan dat die Almagtige God, die Skepper van die heelal jou eienaar is? Hy het ons uitgekoop! Ons is Syne!
Dit het natuurlik enorme gevolge, want dit beteken dan mos óók dat ons onder Sy beskerming staan, dat Hy ons versorg en dat Hy ons alles gee wat ons nodig het. Maar aan die ander kant beteken dit terselfdertyd ook dat, omdat ons Sy eiendom is, ons ook in Sy diens staan. En nee, dit is nie dwangarbeid nie - dit is vrywillig. Jy sal nie “afbetaal” word as jy nie jou kant bring nie, maar Hy gee liefdevol vir my en jou die wonderlike geleentheid om vir Hom te werk.
Ek glo in Jesus! Ek behoort aan God! Is dit nie die wonderlikste gedagte wat óóit deur enige mens se gemoed kan spoel nie?
Dan kom Paulus met sy groet - nie ‘n niksseggende “Met my gaan dit goed - hoe gaan dit met jou?” nie. Paulus se groet gee vir sy lesers iets baie kosbaar: “Genade en vrede vir julle!” Hierdie is nie maar ‘n wens of ’n hoop wat Paulus uitspreek nie. Dit is nie eers ‘n gebed om te vra dat die Here dit vir die lesers sal gee nie. Paulus is oortuig dat die Here dit alreeds tot sy beskikking gestel het en nou gee hy dit vir elkeen wat hierdie brief lees. Paulus maak as’t ware God se genade en vrede die leser se geskenk.
Ek behoort aan God. Daarom kry ek nou, terwyl ek hier lees, ook God se genade en vrede!
Is dit nie ‘n wonderlike gedagte nie? Kom, ek wil jou uitnooi om saam met my vandag hierdie wonderlike genade en vrede van God ons eie te maak en te geniet met alles wat binne-in ons is. Maar so ‘n kosbare geskenk kan jy mos nie vir jouself hou nie! Kom ons gee dit dus weer verder aan vir elkeen wat vandag oor ons pad kom en veral vir medegelowiges, ander wat ook in Jesus glo. Onthou, dit is aan ons almal geskenk om te gebruik en te geniet!
Gebed:
Here, dit jubel en borrel in my omdat ek weereens kan besef dat ek aan U behoort en dat U vir my genade en vrede gee in oorvloed!