Galasiërs 2:1-10
Elke twee jaar kom die kerkleiers van die NG Kerk bymekaar om te besin oor allerhande vraagstukke. Dikwels is daar nie ooreenstemming oor sekere dinge nie. Die een slag is dit byvoorbeeld die gay-kwessie wat die vergaderings oorheers, en dan weer die vraag oor die her-doop van volwassenes. Die vraagstuk rondom kerkhereniging in die NG Kerkfamilie is ’n reuse kopseer. Ander kerke het hierdie vraagstuk jare gelede al opgelos! Dikwels is daar sommer baie warm debatte, en dan raak die manne (en vroue) warm onder die boordjie. Wanneer verskillende kerke egter belangrike besluite moet neem uit uiteenlopende geloofsagtergronde, dan kan ek my voorstel hoe die manne mekaar in die hare sou kon vlieg. Voorbeelde van die verskille sal ek nie eers noem nie, want met hierdie dagstukkies poog ek juis om oor dié dinge te skryf waaroor ons almal saamstem.
Natúúrlik is daar geloofsdinge waaroor ons nooit sal saamstem nie, maar laat ons dan nou maar van hulle vergeet. Ek is al dikwels aangevat oor sulke kwessies, maar ek weier om myself daaroor uit te laat, want niemand gaan deur die ander oortuig word nie, dus is dit ‘n onnodige verkwisting van kosbare geloofs-energie.
Daar is egter soms dinge wat loodreg teen die Bybelse waarhede indruis, en dan mag ek nie stilbly nie. Waar die Bybel byvoorbeeld die kruisiging, dood, begrafnis en opstanding of selfs die Godheid van Jesus Christus in geen onduidelike terme beskryf en as die volle waarheid voorhou, durf ek nie gaan sê dat hierdie dinge slegs in die harte van die dissipels gebeur het, en dat ons dit “geestelik” moet sien nie. Dan is dit ‘n liederlike dwaalleer.
Paulus het met sulke dinge te doene gekry in die gemeentes van Galasië, en daarom vertel hy vir hulle van die leiersberaad wat hy in Jerusalem bygewoon het, waar hierdie sake wat nou verkondig word reeds uitgestryk is. Daar was Joodse Christene in Galasië wat daarop aangedring het dat alle nuwe Christene besny moes word, en dat hulle die Joodse gebruike moes handhaaf, al die vakansiedae, rituele ens.
Paulus verduidelik dat hierdie sake reeds jare tevore uitgeklaar is op die Jerusalem-beraad, waar hy saam met verskeie ander kerkleiers vergader het. Natuurlik was hierdie beraad nie sonder sy haakplekke en struwelinge nie, net soos dit maar vandag steeds gaan by sinodevergaderings. Jerusalem was natuurlik in die hartjie van Israel, en die Christene daar was uiteraard meestal behoudende Jode waarvan die meeste nog vasgeklou het aan die ou Joodse gewoontes. Aan die een kant het hulle die bevryding van Jesus ervaar, maar aan die ander kant kon hulle steeds nie wegkom van die wettiese bande wat hulle gebind het nie. Hierdie selfde bande wou hulle toe ook afdwing op al die nuwe bekeerlinge regoor die wêreld, of hulle nou Grieke of Romeine of wie-ookal was.
Paulus het sy voet neergesit: Jesus is genoeg! Dit was nie nodig vir enige nie-Jood om die Joodse tradisies na te kom nie. Dieselfde het natuurlik ook gegeld vir die besnydenis, ‘n tradisie wat uiters swaar geweeg het vir enige Jood. Die kerkleiers het geluister na Paulus se pleidooi en tot die slotsom gekom dat géén nie-Jood ooit gedwing kon word om die Joodse wette te onderhou nie. Die leiers wat hierdie besluite geneem het was ook nie sommer net ‘n klomp self-aangestelde leiers nie, maar manne met gesag: daar was onder andere Petrus, Johannes en Jakobus, wat beskou was as die pilare van die kerk. Die besluite was dus met groot gesag geneem.
Daardie groot manne het besef dat Paulus deur God na hulle gestuur is. Boonop het hulle geweet dat hy deur God self geroep is om sendingwerk onder die heidene te doen. Hy het, met ander woorde, ‘n mandaat van God gehad, en daarom stem hulle met hom saam. En nou is daar dwaalleraars wat presies hierdie selfde gedagtes waarteen Paulus so gestry het weer in Galasië probeer afdwing. Nie alleen versprei hulle verkeerde inligting nie, maar hulle verbreek ook die “Jerusalem-ooreenkoms”.
Die boodskap vandag is dat daar altyd klemverskille sal wees tussen gelowiges se opvattings oor verskillende sake. Hierdie verskille kan maklik oorbrug word as ons ruimte maak vir mekaar en mekaar se sieninge respekteer. As die ander kerk anders doop as jy, is hy nie noodwendig verkeerd nie. Sommige glo aan die wegraping, en ander nie, maar wat maak dit saak? Hoe jy doop of hoe jy oor die wegraping glo gaan jou beslis nie uit die hemel hou nie! Daar is selfs Joodse Christene wat vandag steeds die Joodse tradisies en feeste streng onderhou, en daar is niks mee verkeerd nie. Wat egter uiters belangrik is, is die grondwaarhede van die geloof, soos byvoorbeeld dat God ons uit genade red sonder dat ons iets daartoe hoef by te dra. Al wat Hy van ons vra is ons geloof in Jesus. So ook Jesus se Godheid, lyding, sterwe en opstanding. Hierdie soort sake mag nooit óóit in die gedrang kom nie.
Gebed:
Here, gee my asseblief verdraagsaamheid teenoor mense wat anders as ek glo!