Geloofshelde

1 March, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geloofshelde

Romeine 4:1-8

VIDEO * OUDIO

Toe ek ‘n klein seuntjie was, was Tarzan my groot held. Daardie aap-man wat so al jodelend deur die oerwoude van donker Afrika in die takke rondgeswaai het, het my verbeelding totaal aangegryp! Hy kon immers met die olifante en leeus en goeters gesels! Toe ek begin besef dat dit alles fiksie was, word Paul Kruger my held. Sy geskiedenis het kniediep gelê in die wêreld waar ek grootgeword het. Ek het hom as die vader van die beskawing in Suid-Afrika beskou, ‘n man van edele inbors. Hy was immers die een wat verantwoordelik was vir die ontstaan van die Kruger Wildtuin! Maar die geskiedenisboeke het my mislei, want selfs die grote Paul Kruger het voete van klei gehad! My mooi prentjie van hom het uiteindelik totaal verkrummel!

As ek vandag werklik ‘n held uit die verlede moes kies, sou dit sekerlik Paulus wees. Ja, inderdaad het hy nie geskroom om die evangelie te deel met wie ookal oor sy pad sou kom nie, maar die groot ding omtrent Paulus was sy absolute onwrikbare geloof in Jesus Christus. Géén mens óf gevaar, marteling, tronk, selfs doodsdreigemente sou sy geloof laat wankel nie.

Heldeverering was destyds nie ongewoon nie. Vir die Jode was Dawid die gróót held, maar ook Moses. Daar was egter een held wat onbetwisbaar bo almal uitgestaan het, die stamvader Abraham. Hy was ‘n held sonder enige gelyke, en ‘n rolmodel waarna elke Israeliet kon opsien. Dis eintlik só ironies, dat Abraham terselfdertyd ook die stamvader was van Israel se grootste vyande!

Heldeverering kan gevaarlik wees, veral as jy blind is vir hulle foute. Kyk maar byvoorbeeld na die groot helde uit die Bybel: Dawid het owerspel en moord gepleeg. Selfs Abraham het ook maar ‘n paar keer lelik gestruikel. Nogtans kan jy baie leer en moed skep uit die lewens van daardie groot geloofshelde. Talle sulke helde uit die geskiedenis het enorme struikelblokke oorkom. Helde soos Simson en Gideon het deur die genade wat God hulle gegee het oorwinning behaal toe daar vir hulle menslik gesproke géén kans was nie.

Paulus gebruik die voorbeeld van Abraham as held om by die Joodse gelowiges ‘n aanknopingspunt te kry. Die punt wat hy probeer maak, is dat vryspraak niks te make het met wetsonderhouding of rituele nie. Die Heilige Gees gebruik vandag hierdie gedeelte om ons te oortuig dat God ons liefhet en dat Hy ál Sy genade aan ons gee, sonder om enigiets wat ons doen, gedoen het, of nog sal doen in aanmerking te neem! Ons vryspraak is onvoorwaardelik en gratis, en dis binne elkeen se bereik! God het ons nie lief oor wie of wat ons is nie, maar slegs omdat Hy God is! Ons prestasies het absoluut niks te doen met ons vryspraak nie. Dit is bloot suiwer genade!

Dalk sal jy vanoggend vir my sê: “Maar my geloof is te swak om God se vryspraak te kry.” Geloof is wél inderdaad die voorvereiste vir God se vryspraak! Die vraag is egter of geloof dan nou een van die “goeie werke” is wat jy eers moet doen? Nee, want selfs jou geloof is ‘n geskenk van God wat Hy uit genade aan jou gee. Vryspraak berus geheel en al op dít wat Jesus gedoen het, en nie eers een ou klein deeltjie van wat jy doen, gaan jou die hemel inhelp nie.

Maar is daar dan nie ‘n teenstrydigheid nie? Jakobus skryf dit dan só duidelik dat geloof sonder werke dood is! (Jak. 2:21-26)

Ons kan dit só verstaan: goeie werke het alles te doen met die vrugte van jou vryspraak, maar dit het niks te doen met die grond daarvan nie. Met ander woorde, wanneer jy geloof het, behoort dit net natúúrlik te wees dat daar goeie werke daaruit sal voortspruit. Om die wet te onderhou, kan jou nie saligheid gee nie, maar omdat jy rééds die saligheid verkry hét, sal jy God se wet onderhou uit dankbaarheid en liefde.

As ek by ‘n kunswinkel instap, en die verkoopsman wys my ‘n prentjie wat met vetkryte op ‘n stukkie gekreukelde papier gekrabbel is, en hy probeer dit aan my verkoop vir ‘n astronomiese bedrag, sal ek baie gou vir hom vertel wat hy met sy ou prentjie kan maak! As my kind egter met presies dieselfde prentjie na my toe kom, en sê: “Pappa, ek het dit vir jou geteken,” dan sal ek dit beslis koester, dalk selfs raam en in my kantoor uitstal!

Ons allermooiste “prente” waarmee ons die saligheid by God wil koop, is vir Hom waardeloos en totaal onaanvaarbaar, want Hy is immers die kunstige Skepper van alles wat bestaan. Maar selfs ons onvolmaakte ou “prentjies” wat ons vir Hom uit liefde en dankbaarheid teken, dié koester Hy, want ons is Sy kinders vir wie Hy lief is! Vir sulke onselfsugtige “prentjies” sal God ons selfs uit suiwer genade beloon! Aangesien ons dan die geskenk van geloof en vryspraak ontvang het, kom ons dra dan vandag die vrugte wat daarby pas.

Gebed:

Here, dankie vir U vryspraak. Help my asseblief om vandag die vrugte van die geloof te dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026