Genesis 15:1-6
Jare het verbygegaan. Abram was ‘n jeugdige 75 jaar oud toe hy en Sarai uit Haran vertrek het na die onbekende bestemming. Nou het die jare egter begin aanstap en die ouderdom begin knaag aan Abram. En Sarai - wel, sy is ook nie meer die jong meisietjie wat hy daar in Ur getrou het nie. Beeldskoon soos sy is, is sy eintlik al ‘n stokou vrou. Kanse vir ‘n baba is minder as nul. Abram sug baie swaar. Drie beloftes het die Here hom destyds gegee, drie beloftes waarvan nog net die eerste waar geword het. Ja, rykdom het hy oorgenoeg, meer as wat hy óóit sal kan opgebruik. Maar hier sit hy steeds as vreemdeling in die land wat die Here aan hom beloof het. Maar selfs dít kan hy nog verwerk. Die een ding wat hom dwars deur die krop steek, is die derde belofte wat nooit óóit meer waar kan word nie! Dit is gáns onmoontlik - die belofte van ‘n nageslag. Vir meer as ‘n halfeeu probeer hulle nou al, en daar het absoluut niks van gekom nie. “Here, waarom?” huil Abram.
Hoe kan ‘n mens aanhou glo as daar absoluut géén aanduiding is dat God saam met jou op koers is nie? O glo my: ek het al hierdie paadjie geloop, en dan bly jy maar net aanhou hoop en hoop. Tot op ‘n dag, dan gee jy moed op, want God se beloftes aan jou gaan net eenvoudig nie in vervulling nie. Het jy nie al ook in dieselfde situasie gesit nie? God se belofte aan my was dat ek die Evangelie sou verkondig. Ek was in ekstase, en ek het begin studeer vir predikant. Dit was egter nie wat die Here vir my in gedagte gehad het nie, en my studies het doodgeloop met baie vrae in my hart. In die jare wat gevolg het, het ek dikwels die vraag gevra, wat van God se belofte geword het. Twintig jaar het verbygegaan voordat ek die antwoord gekry het. Op ‘n totaal verassende wyse het die Here Sy belofte vervul toe Hy my hierdie Internetbediening gegee het, waar my beskeie boodskappie elke dag baie duisende mense kan bereik.
Tien jaar later het Hy my boonop nog ‘n wonderlike bonus gegee, toe ek uit die bloute ‘n aanstelling in ons gemeente gekry het as Gemeentehulp. Ek was in die sewende hemel! Deesdae kry ek dikwels die geleentheid om in etlike van die plattelandse dorpe in KZN te preek. God is groot!
Maar terug by Abram: Een aand sit die gryse ou man en staar in die donker nag in deur die tentopening, toe hy ‘n gewaarwording kry dat hy nie alleen is nie. ‘n Visioen ontvou rondom die verbaasde Abram. Hy voel die heilige teenwoordigheid van God aan. Abram se hart klop in sy keel. Dan hoor hy die Stem klokhelder, dieselfde Stem wat hy al so baiekeer voorheen gehoor het: “Moenie bang wees nie Abram. Ek beskerm jou!” Abram snak na sy asem! Watter groot, gróót belewenis is dit nie, elke keer wanneer God met hom praat. “Jou beloning sal groot wees,” sê die Here vir Abram.
En dan stort Abram sy hart uit voor die Here: “Here my God,” snik hy sy frustrasie uit. “Ek gaan kinderloos sterf, en ek sal al my besittings aan my slaaf moet bemaak.” Waarom kom die Here dan nie Sy belofte na nie? Hy het tog so duidelik vir Abram laat verstaan dat hy ‘n groot nageslag sou hê, maar nou is alles klaar te laat! Dit kan nie meer gebeur nie! Abram huil voor die Here. Dalk het hy die Here verkeerd verstaan. Dalk het hy iets verkeerd gedoen - sy sondes wat hom nou inhaal en nou straf die Here hom op hierdie wyse, deur nie Sy beloftes na te kom nie. “Here, moet ‘n slaaf dan nou my erfgenaam wees?” Hy huil by die Here.
Ons sit dikwels self ook met so ‘n frustrasie in ons lewe - ‘n frustrasie wat ontaard in ‘n wrede ontnugtering. Kan ek bly glo in sulke omstandighede? By Abram het die spanning oor baie dekades bly opbou en opbou, totdat dit nou by breekpunt gekom het en oopbars. God het nie Sy beloftes nagekom nie!
“Nee Abram,” sê die Here vir hom. “Die slaaf sal nie jou erfgenaam wees nie. Kom Abram, kom buitentoe. Ek wil jou iets wys.” Abram staan op en stap die koel naglug in. “Kyk al die sterre Abram.” Abram staar na die hemel. “Kan jy hulle tel?” Abram skud sy kop. “Abram, soveel sterre as wat jy sien, so groot sal jou nageslag wees.”
Ons lees in Genesis 15:6 dat Abram die Here geglo het.
Het God vir Abram veroordeel toe sy geloof begin wankel het? Het Hy vir Abram verwyt toe alles vir hom onmoontlik begin lyk het, en toe hy by die Here gekerm het? Nee! God weet dat Abram ook maar net ‘n mens is - ‘n mens met baie foute. Hy weet lankal van Abram se frustrasies en sy teleurstelling, selfs die woede wat soms in hom opgebou het. Maar God is baie groter as die mens, en Hy het empatie met hom. En daarom val die woorde van God saggies op Abram se oor: “Moenie bang wees nie.” Die wonderwerk wat God vir Abram beplan het was asemrowend, maar die tyd was nog nie reg nie. Abram sou nog ‘n paar jaar moes wag.
Abram se ontnugtering het oorgegaan in vertroue. Wat van joune? Wonderwerke gebeur nog elke dag, daarvan kan ek oor en oor getuig! Vertrou Hom net! En bly vashou aan jou geloof!
Gebed:
Here, dankie dat ek vanoggend kan weet dat U getrou is. Hou my hand asseblief styf vas, en versterk my wankelende geloof.