Jakobus 2:14-26
“Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.” So lui die woorde van ‘n bekende ou kerklied. En dan dink ek by myself: as absoluut alles net genade is, en ek weet dat ek uitverkies en gered is en op pad hemel toe, kan ek mos nou maar terugsit en die rit geniet? Ek hoef niks verder te doen nie, want my geloof, wat terloops, die Heilige Gees my gegee het, sal my deurdra tot in die ewigheid!
As jy ‘n lappie groente in jou agterplaas geplant het, kan jy mos maar terugsit en ‘n maand of twee later die sappigste groente pluk sonder om ‘n vinger te verroer, nie waar nie? In jou drome! Daar sal absoluut dadels van kom! Die bossies gaan dit verdring, dit gaan verdroog en die pestelensies gaan dit opvreet nog lank voor jy daarby kan kom. As jy die vrug wil pluk van jou arbeid, gaan dit kos dat jy daardie tuintjie vertroetel, bossies uittrek, bemes en water gee en die goggas verjaag. Eers dán sal jy resultate sien!
Baie mense sien hulle geloof ook as ‘n indiwidualistiese, persoonlike saak wat niemand anders raak nie. Ek lees my Bybel en bid, en verder moet niemand aan my torring nie, want my geloof is MY geloof. Sondag gaan ek kerk toe en ek luister na die dominee se preek, en daarna loop ek die kortste moontlike pad terug motor toe sonder om my met die ander mense te bemoei. My geloof raak nie ander mense nie! Dit het niks met énigiemand anders uit te waaie nie!
Dis nie geloof nie, sê Jakobus. Jou geloof moet sigbaar en tasbaar wees en beslis lewendig, anders is dit dood! Die dinge wat jy doen moet jou geloof bevestig. Die vraag is of dit dan jou goeie dade is wat jou in die hemel bring? Baie beslis nie! Dit is alleen God se genade, maar jou geloof is soos daardie groentetuin: as daar nie gedurig aan gewerk word nie dan flop dit. Jakobus neem die voorbeeld van ’n baie vroom gemeentelid wat die allermooiste vir ’n persoon in nood toebid: “Gaan in vrede, word warm en word versadig.” Die arme man wat hierdie seën aanhoor, hét niks om aan te trek nie! En hy hét niks om te eet nie! Dit is nie ‘n seënwens wat hy nodig het nie, maar kos en klere! Sê dan liewer niks en gee net iets vir sy behoeftes. Geloof moet oorgaan in dade.
Jakobus gaan verder en hy sê dat daar dalk ‘n teenargument kan wees, iets tipies uit een van Paulus se briewe, dat daar in ‘n gemeente verskillende gawes is, en dat een byvoorbeeld die gawe van geloof het en 'n ander weer die gawe van werke. Maar dan maak hy hierdie argument af as snert, want geloof is nie ‘n onsigbare ding wat net in die hart of kop is nie. Geloof is iets konkreet wat jy kan sien en ervaar.
Beteken my geloofsbelydenis dan niks? Ek hoor nou die dag die verstommende verslag, dat 70% van Suid-Afrikaners Christene is. As dit wel die geval is, is ons land ‘n baie gelowige land, waarskynlik die gelowigste in die ganse wêreld! Jakobus sê egter dat ‘n geloofsbelydenis alléén nie sê dat jy ‘n gelowige is nie. Daar is ‘n baie mooi voorbeeld in Markus 5:7, waar ‘n mal man met die pragtigste geloofsbelydenis vorendag gekom het, toe hy Jesus aangespreek het as “Jesus, Seun van die Allerhoogste.” Maar hy was vrek bang vir Jesus want dit was 'n bose gees in hom wat gepraat het. Etlike ander gevalle is ook aangeteken waar bose geeste Jesus erken het as die Seun van God. Jakobus sê dat die bose geeste (en by implikasie óók die duiwel) aan God glo en Hom erken.
Wat maak hulle geloof, asook daardie 70% Suid-Afrikaners s’n anders as my en jou geloof? Abraham word as voorbeeld genoem van wat ware geloof moet behels. Hy het God só onvoorwaardelik vertrou dat hy selfs bereid was om sy enigste seun en erfgenaam te offer op God se versoek. Dít is volle, onvoorwaardelike vertroue! Dis immers wat geloof is! Verder sien ons ook die praktiese dóén. Abraham het nie alleen vertrou nie, maar fisies sy seun geneem en op die altaar vasgebind. Hy was op die punt om sy seun te slag toe God hom stop.
Die verhaal word vertel van die touloper wat ‘n vertoning gehou het by die Niagra waterval. Sy tou is oor die gevaarlike valle gespan, en hy het daar oorgedans en groot applous gekry. Toe vra hy aan die gehoor of hulle dink dat hy dit sou regkry om iemand op sy skouers oor die waterval te dra. Almal het saamgestem dat hy goed genoeg was om dit te kon doen. Toe hy egter vir ‘n vrywilliger vra om op sy skouers te klim, was niemand bereid om dit te waag nie. Ware geloof is om die daad by die woord te voeg.
Inderdaad tel ons dade by God. Nee, dit is nie jou dade wat jou red nie, want soos ons aan die begin gesien het is absoluut alles genade. Dit is alleen die soenverdienste van Jesus wat ons kan red. Die vraag is egter wat jy met daardie geloof wat God jou gee, doen? Steek jy dit onder die spreekwoordelike maatemmer weg of laat jy dit blom? Die keuse is joune!
Gebed:
Dankie vir die geloof wat U my gegee het, Here. Gee my asseblief ook die ywer en krag om daardie geloof voluit te leef.