Markus 15:21-32
Het jy al ooit gewonder presies wat gebeur het tydens ‘n kruisiging in die Bybelse tyd? Dit was seker die wreedste van al die teregstellingsmetodes van daardie tyd. Dit kom al ‘n lang pad, en dit is bekend dat dit reeds in 700 vC gebruik was. Die Romeine het hierdie vorm van teregstelling baie algemeen gebruik, maar dit was gewoonlik slegs vir slawe of mense uit die laagste klas van die samelewing gereserveer.
Ook by die Jode was dit bekend: die goewerneur van Sirië het byvoorbeeld in 4 vC nie minder nie as 2000 Jode laat kruisig.
Vir die Romeine was dit ‘n uitstekende afskrikmiddel, omdat dit mense met vrees en bewing gevul het. Dit was ‘n stadige en uiters pynlike dood, wat dikwels dae lank geduur het. Eers is die veroordeelde gegésel om hom te verswak en dan was hy gedwing om die swaar dwarsbalk van die kruis na die teregstellingsplek te dra. Dit het hom natuurlik verder uitgeput en die straf soveel groter gemaak. Die regop paal was permanent by die teregstellingsplek gelos. Dus is die voorstelling dat Jesus ‘n volledige kruis na Golgota gedra het, verkeerd. Hy moes slegs die dwarsbalk dra. Dikwels is die gekruisigdes se dood verhaas deur hulle met ‘n spies te steek of hulle bene te breek.
Jesus was egter alreeds só uitgeput van die wrede marteling dat Hy nie meer krag gehad het om die kruis se dwarsbalk te dra nie. Die Romeinse soldate het toe sommer iemand langs die pad voorgekeer om Hom te help. Markus noem baie noukeurig wie die man was, en hy noem ook sy seuns se name wat ons laat vermoed dat hierdie Simon van Sirene of sy seuns dalk later ‘n groot rol gespeel het in die kerk.
Markus noem dat daar vir Jesus wyn met mirre gegee is. Dit was destyds gebruik as ‘n verdowingsmiddel. Wanneer Jesus weier om dit te drink, beteken dit waarskynlik dat Hy end-uit by Sy bewussyn wou bly, maar ook dat Hy die volle straf wou dra. Hy wou nie gehelp word om dit ligter te maak nie.
Markus noem dat hulle Jesus se klere verdeel het. Ons moet besef dat ‘n gekruisigde se klere alles uitgetrek was, en dat hy dus naak aan die kruis gehang het as deel van sy vernedering. Die prente wat Jesus dus voorstel waar Hy ‘n lendedoek om het, is nie ‘n akkurate weerspieëling van wat werklik gebeur het nie.
Hierdie is net ‘n bietjie agtergrond om jou beter te laat verstaan waardeur Jesus werklik gegaan het!
Kort voor nege daardie swart Vrydagoggend sien ons Jesus, besig om die steiltes van die Golgota-koppie op te klim, gevolg deur Simon van Sirene met die kruis se dwarsbalk en ‘n afdeling spottende, vloekende soldate. Hy is reeds tot die dood toe uitgeput, van die verskriklike liggaamlike sowel as geestelike marteling. Hy verduur hierdie dinge alreeds van die Donderdagaand af, die aand toe Judas hom verraai het en Sy intieme vriende wat Hom verloën het. Die spot; die onmenslike géseling; die doringkroon - al hierdie dinge het alreeds hulle tol geëis.
Nou begin die ergste deel egter. Dik, ruwe ysterspykers word deur Jesus se hande gekap om Hom aan die dwarsbalk vas te spyker. Die pyn is ondraaglik, onbeskryflik, as die dik ysterspykers Sy gewrigbene vermorsel in die proses. En dan word Hy teen die paal opgehys en spykers word ook deur Sy enkels gekap. Jesus krul van pyn, maar Hy is magteloos. Om die pyn en vernedering te vererger, word Hy gespot en gelaster deur verbygangers, die priesterhoofde en Skrifgeleerdes. Hulle verlekker hulle in Jesus se (skynbare) magteloosheid. “Red jouself en kom van die kruis af!” koggel hulle Hom. Selfs die twee wat saam met Hom gekruisig word, maak ‘n bespotting van Jesus. Die kerkleiers het Hom staan en uitlag: “Hy het ander mense gered, maar Homself kan Hy nie red nie!” Vulgêr lag hulle: “Laat die Christus, die Koning van Israel, dan nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en in Hom kan glo!”
Magteloos. Verraai deur Sy eie vertroueling. Verlaat van Sy vriende. Verloën deur Sy staatmaker, Petrus. Verslae. ‘n Totale mislukking van Sy triomftog! Só wil dit voorkom, veral vir die Joodse leiers. En só wil dit ook vir Petrus en die ander lyk. Maar dit is allesbehalwe wat dit voorkom, want Jesus het vooraf van elke klein detail geweet. Só maklik kon Hy eerder gevlug het, maar Hy het reguit na Jerusalem gegaan, waar Hy gewéét het dat hulle Hom sou arresteer. Met Sy briljante redenasievermoë wat ons regdeur die Evangelie sien kon Hy homself losgepraat het tydens beide verhore, maar Hy hét nie! Hy was by magte om ‘n leërskaar van engele op te kommandeer en die Joodse Raad te verdelg. Maar Hy hét nie. Hy het gekies om die vólle pad te loop en die vólle straf te dra! Ten volle bewus van wat met Hom sou gebeur, het Hy gewillig die kruisweg geloop; Hom laat gésel; Hom laat spot; Hom laat verneder; Hom laat vasspyker aan die kruis!
Waarom? Hy het bitter duur betaal vir die sondes, die oortredinge van elkeen wat in Hom glo, sodat ek en jy ten volle vrygespreek kan wees!
Gebed:
Here, Ek kan nooit ooit genoeg dankbaar wees vir wat U vir my gedoen het nie!