Galasiërs 2:15-21
Toe hy in die boekwinkel instap, sien ek sommer: hier kom moeilikheid! Hierdie man is op ‘n missie, en dit is beslis nie om ‘n boek te koop nie! Die Christelike boekwinkel waar ek gewerk het in Welkom het nie vreeslik baie boeke verkoop nie, en dikwels het mense net daarheen gekom om te kom gesels. Dit gebeur dat ‘n mens met ‘n probleem in jou lewe rondloop wat jy met niemand kan bespreek nie, en hier was ‘n totale buitestaander (dis nou ekke) wat bereid was om na probleme te luister. Nee, ek het beslis nie al die antwoorde gehad nie. Ek het stééds nie al die antwoorde nie, maar ‘n gewillige oor is dikwels ál wat ‘n persoon nodig het.
Die man wat dáárdie oggend egter instap, se probleem was egter van ‘n heel ander aard. Niemand wou meer na hom luister nie, en dus kom vertel hy toe maar vir my. “Ons is die Nuwe Israel”, val hy met die deur in die huis. Natuurlik stem ek saam want ons as gelowiges is mos die volk van God!
“Nee, jy verstaan gladnie!” beduie hy vir my. Daardie “ons” waarvan hy praat beteken die Afrikanervolk. Ek voel sommer: hier kom ‘n lááááááng dag! Breedvoerig verduidelik hy vir my dat hy ontdek het dat ons Afrikaners nou die uitverkore volk is en nou dus ál die voorregte geniet wat Israel van ouds gehad het, heilig, onaantasbaar en verhewe bo alle ander sterflinge!
Ja, dit is omtrent hoe die Jode van ouds oor hulleself geglo het en hoe sommige Jode selfs vandag nog glo. Geestelike hoogmoed, sou ‘n mens dit dalk kon noem, want bloot jou afkoms alleen is genoeg om jou op ‘n platformpie te plaas bo die gepeupel. Natuurlik was daar vir die Jode ook die ander uiters belangrike punt, en dit was om die wet van Moses te onderhou, want hierdeur het jy natuurlik gewys dat jy waarlik erns maak met jou afkoms. Die droewige nuus was dat dit nie net die ortodokse Jode was wat hierdie ingesteldheid gehad het nie, maar ook van die Joodse Christene. In Galasië was húlle juis die mense wat vir Paulus soveel hoofbrekens besorg het met hulle dwaalleer!
Paulus wil dit beklemtoon dat daardie dinge van absoluut géén waarde is nie, want daar is slegs één enkele ding wat vir jou vryspraak gee: die versoening wat Jesus Christus deur Sy kruisdood bewerkstellig het.
Ja, dis baie maklik om ‘n vinger te wys na die Jode of selfs daardie groep wat glo dat die Afrikaner die uitverkore volk is. Ons distansiëer ons van hulle, want die Bybel leer ons dat dit verkeerd is. Wat ons egter baie gou vergeet is dat daar ‘n soortgelyke geestelike hoogmoed binne in die kerk vandag heers wat nét so gevaarlik is. Die ontstellende is dat dit nie onder ongelowiges plaasvind nie, maar juis die aktiewe gelowiges wat op alle terreine betrokke is. Ons moet uiters versigtig wees om onsself nie beter te sien as ander mense nie. As ek een van die gewillige ouens is wat maar altyd bereid is om my gewig in te gooi waar dit nodig is, word dit so maklik om neer te sien op diegene wat maar net passasiers is op die geloofstrein en nooit hulle kant bring nie. As ek al goed gevorder het in my geestelike lewe, is dit so maklik om op die “kleintjies” neer te sien wat maar nog in hulle babaskoene staan, en myself beter as hulle te beskou. Ek het immers darem mos al gearriveer!
Vryspraak is uit die geloof, en nie uit die wet nie, dis wat Paulus by elkeen van ons wil tuisbring. Ons kan net eenvoudig nie verlossing verdien op enige manier nie. Nie deur harde werk óf Bybelstudie óf om gereeld elke Sondag kerktoe te gaan of wát-ook-al nie. God gee verlossing gratis aan enigeen wat bereid is om dit te ontvang. En die enigste manier wat ons dit kan ontvang is deur in Jesus te glo. Hy het in ons plek aan die kruis gesterf en sodoende vir ons sondes betaal. Hierdie is die fondament van die evangelie. Verder moet ons onthou dat alle mense kan sondig, korrup en sleg is, selfs die heiligste mense. Jou beste pogings om goed te doen kan maar korrup wees, al dink jy ook dat jy nou nie te sleg doen nie!
Daar is egter ‘n klompie wonderlike dinge wat met jou gebeur wanneer God die dag jou skuld kwytskeld en afskryf: Jy gaan dood vir die wet! Met ander woorde, jy hoef nie meer krampagtig vas te klou aan die wet of om goeie dinge te móét doen nie. Nou is jy vry om vir God te lewe omdat dit vir jou lekker is en omdat jy dit wíl doen. Jy kry deel aan die ewige lewe slegs omdat jy in Jesus glo. Jy is saam met Christus gekruisig en jy deel daarom in al die voordele van Sy dood. En Christus lewe in jou! Daar ontstaan ‘n nuwe “ek” waar Jesus deur die Heilige Gees die kern van jou persoonlikheid oorneem. Hieruit begin ‘n nuwe lewe vorm wat volgens God se wil geskied, en kan jy mos net eenvoudig nie hoogmoedig wees nie, want dit is nie jy nie maar God wat al hierdie dinge in jou doen.
Gebed:
Here, bewaar my asseblief daarvan dat ek ‘n groot kop kry en hoogmoedig raak in my geestelike lewe. Hou my asseblief altyd nederig!