Lukas 2:1-7
Hierdie is ons laaste dagstukkie vir die jaar. Ons hervat weer op Maandag 12 Januarie.
Dit is nog pikdonker as Josef daardie oggend vir Maria op die donkie tel. Daar heers ‘n gemoedelike stemming onder hulle reisgenote, amper asof hulle op pad is na ‘n fees. Vir ‘n oomblik vergeet hulle wat die ware doel van hulle reis is en die avontuur van ‘n vyf-dag-lange reis weg van die vervelige ou Nasaret af is genoeg om almal opgewonde te maak! En so vertrek hulle al singende in die vallei af in die rigting van die Jordaanvallei. Al op die westelike kant van die Jordaan af stap hulle tot by die laagste stad op aarde, Jerigo.
Josef kan nie help om weer te dink oor die dag toe God die mure van Jerigo laat intuimel het nie. God se onpeilbare liefde vir Sy volk is onmeetlik groot! Eers lê Hy die Jordaan droog sodat hulle droogvoets deur die rivier in vol vloed kan stap. En dan laat Hy Jerigo se mure ineenstort sonder dat die Israeliete 'n vinger lig! En daarna gee Hy hulle boonop nog talle stede, vee, graanlande en wingerde soder dat hulle daarvoor hoef te werk! Gos is voorwáár LIEFDE!
Met ‘n siddering sien Josef die angswekkende berge raak wat anderkant Jerigo uittroon. Daardie berge móét hulle die volgende dag oor om by Betlehem te kom!
Die volgende oggend is dit nog pikdonker as die groep die laaste skof aanpak. Met eerste lig worstel hulle alreeds teen die voetheuwels op. Die pad is bitter sleg en kort-kort struikel die donkie. Josef se senuwees is tot breekpunt gespanne. As die donkie noú met Maria moet val...... hy wil nie eers dink aan die gevolge nie!
Uur na uur beur die groep voort, op, op, op, van die laagste stad op aarde na Jerusalem wat bo-op die berge geleë is. Betlehem is gelukkig nie ver van die groot stad af nie.
Die pad is gevaarlik en dis uitmergelend warm. Nêrens is daar eers 'n sweempie van 'n skaduwee of énige groenigheid nie, net klippe en stof. Boonop is dit juis hiér waar die struikrowers agter die rotse sit en wag vir die reisiger wat nie op sy hoede is nie. “Vannag slaap ons in 'n sagte bed iewers in 'n gesellige herberg,” sing Josef, en Maria kners op haar tande oor die ondraaglike ongemak. Die reis is amper verby!
Uiteindelik doem die mure van Betlehem voor hulle op. Maar dan sink Josef se hart in sy skoene as hy sien hoedat hierdie slapende dorpie oorstroom is van derduisende mense. “Waar bly hulle almal?” wonder hy bekommerd.
En sy bekommernis is vir géén oomblik ongegrond nie, want wanneer hulle begin soek na blyplek, word hulle by elke herberg en gastehuis weggewys. “Jammer ou maat, alles is stampvol. Jy gaan nêrens plek kry nie, elke ou gaatjie is alreeds volgestop.” En dit help boonop gládnie as hulle Maria op die donkie sien nie, want hier kom gróót moeilikheid! Wie wil dan nou 'n jong meisie in jou huis hê as sy dalk vannag nog gaan kraam?
Uiteindelik is daar iemand wat haar oor Maria ontferm. Haar man was nog besig om die twee weg te wys, toe sy haar kop by die deur uitsteek. Sy gee net één kyk na Maria, wat alreeds ál die tekens begin toon dat haar baba op pad is, en dan verkrummel haar hart. “Ek is só jammer Hartjie, maar ons huis is alreeds tjok-en-blok vol, maar as julle nie omgee vir die reuk nie..... daar is plek in die stal. Niemand anders wil daar slaap nie!”
Dankbaar aanvaar Josef die uitnodiging. Haastig neem hy vir Maria af na die vuil, stinkende stal. Hy maak vir haar 'n gemaklike lêplek in 'n hoop skoon hooi en dan pak hy die donkie af.
'n Uur of twee later wéét Maria dat die nag aangebreek het waarin haar spesiale Baba gebore moet word. Haar kraampyne het alreeds begin en sy is baie bang vir wat gaan kom. “Dankie Here,” prewel Josef, “U het ons betyds hier gebring! U tydsberekening is perfek!”
Ja, inderdaad is God se beplanning perfek!
Daardie selfde nag nog sit 'n groepie skaapwagters nog rustig by hulle vuurtjie en gesels, toe daar skielik 'n engel voor hulle staan. Dit is te verstane dat die arme manne hulle boeglam skrik, maar die engel stel hulle gerus met: “Moenie bang wees nie!” Die manne begin effens bedaar as hy vir hulle vertel van die Verlosser wat gebore is, Christus die Here. Hulle sal Hom in Betlehem kry in ‘n krip, toegedraai in doeke.
Hulle was egter nie voorbereid op wat volgende sou gebeur nie, want skielik skeur die ganse hemel oop reg rondom hulle en ‘n reuse skare engele verskyn uit die niet. Hemelse musiek vul die valleie en heuwels terwyl die magtige engelekoor die mooiste lied sing wat nog ooit in menseheugenis gehoor is: “Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het!”
Natuurlik hét hulle, nadat die engele verdwyn het, gaan hulde bring aan hierdie Koningsbaba wat God in Sy groot liefde aan die wêreld gegee het sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê!
Aan die einde van die reeks móét ons erken: God is wáárlik liefde!
Gebed:
Here, vandag besef ek net weereens dat ons 'n God aanbid wat alles perfek beplan het, ook my lewe het U só beplan! Maar meer nog, dat ons 'n God van allesomvattende liefde aanbid!