Ons gemeente se finansies was in ‘n benarde toestand. Die segsman oor finansies kry toe die onbenydenswaardige taak om vir die gemeente te sê dat daar nie genoegsame fondse is om ons verpligtinge na te kom nie. Ek kry die arme kêrel bitter jammer toe hy voor die gemeente gaan staan!
Hy begin met 'n grafiek op die skerm wat 'n baie donker prentjie skilder. Hy verduidelik dat ons inkomste net-net genoeg is om ons vaste uitgawes te dek. Vir sending, Bybelverspreiding, evangelisasie, die ouetehuis, die kinderhuis en barmhartigheid is daar dus niks oor nie. Elke bietjie ekstra wat die gemeentelede bydra, gaan direk aan hierdie projekte.
Skielik begin die mense besef watter verskil ‘n bietjie ekstra dankoffer maak. Binne enkele maande het die prentjie totaal verander, en was daar genoeg om in baie behoeftes na buite te voorsien.
Dit is tragies dat die kerk die eerste instansie is wat geraak word deur ‘n swak ekonomie. Lidmate begin héél eerste besnoei by hulle dankoffers. Hierdie tendens het ‘n hele tragiese kettingreaksie tot gevolg. ‘n Gemeente se administrasie moet aangaan, dus word die leraar en amptenare eerste betaal, en so ook die gewone uitgawes soos water en ligte. Wat oorbly, word aangewend vir evangelisasie, sending, armesorg, Bybelverspreiding ens. Dit is juis hierdie dinge wat dan afgeskeep word as lidmate nie meer hulle bydraes gee nie. Dit veroorsaak dat die situasie van verarming, finansieel én geestelik, nog verder vererger word.
Die ekonomie maak dit bitter swaar vir die armes, en daar is al hoe meer mense wat hulle werk verloor. Hier het die kerk ‘n baie groot rol om te speel, om mense uit hulle nood te help. Maar sonder geld is die kerk se hande afgekap. As ons ophou gee, verhoog ons die nood.
In Paulus se tyd was daar juis ook so ‘n krisis-situasie. Hier was dit die gelowiges van Jerusalem wat in groot nood was, want die oomblik as hulle die Joodse geloof verruil het vir die Christelike geloof, dan was hulle afgesny van die gemeenskap. Hulle het dan geen inkomste meer gehad nie, omdat niemand iets met hulle te doene wou hê nie. Dit het gelei tot ‘n verskriklike verarming.
Hierdie gelowiges se enigste hoop op hulp was uit die geledere van die heidenlande soos Masedonië. Die probleem was egter dat die meeste gelowiges hier ook maar die armer klas mense was, wat sélf dikwels gesukkel het om kop bo water te hou. Nogtans sien ons uit Paulus se brief dat hierdie mense, ten spyte van hulle eie swaarkry, nog steeds bydraes gegee het om Jerusalem se nood te help verlig. “Al was hulle arm, hulle was ryk in oorvloedige vrygewigheid,” skryf Paulus oor hulle in 2 Kor. 8:2. Hulle het ook nie maar net gegee wat oorgebly het nie, nee, hulle het gegee selfs bó hulle vermoë.
Om te gee uit jou oorvloed, is nie ‘n dankoffer nie. Om meer te gee as wat jy werklik kan bekostig, wanneer dit eintlik seer maak om te gee, dan gee jy waarlik ‘n dankoffer vir die Here.
En dit bring ons by die éintlike rede waarom ons bydraes gee vir die Here: dit is uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons doen en gedoen het. Ons lees van die Masedoniërs dat hulle maar swaar gekry het in die verdrukking, maar dat hulle blydskap oorvloedig was. Blydskap spruit uit dankbaarheid. En dankbaarheid maak ook jou hand en hart oop.
Dalk sê jy vanoggend dat jy waarlik niks het om te gee nie. Ek weet hoe dit voel om niks te hê wat jy kan gee nie. Maar dan het jy steeds iets om te gee - jou tyd, jou bereidheid en jou hande. Selfs die armste mens kan steeds vir die Here geld genereer deur ‘n bietjie van sy tyd te gee. In ons gemeente is daar byvoorbeeld ‘n span mense wat elke Saterdag pannekoek en vetkoek bak en aan die publiek verkoop. ‘n Ander span bak weer koekies en koeksusters, en hulle kan net eenvoudig nie voorbly met bak nie. Dit verkoop soos soetkoek! Met hierdie twee aksies word daar waardevolle fondse vir onder meer Bybelverspreiding gegenereer. En dit deur mense wat bereid is om hulle vrye tyd op te offer vir die Here.
Dit is egter nie slegs op finansiële vlak waar die Here ons offers vra nie. Hy vra ook dat ons moet gee in ons liefde, vriendelikheid, geduld, blydskap ens. Dit help niks as jy gee bo jou finansiële vermoëns nie, as dit ontbreek in liefde nie. Jesus was hier vir ons die perfekte voorbeeld: Menslik gesproke het Hy niks gehad nie, maar Hy het gegee in oorvloed. Sy liefdesaksies het duisende mense na Hom toe laat stroom. Uit dankbaarheid vir wat Jesus vir my en jou gedoen het, moet ons ook ons liefde uitleef deur die Evangelie uit te dra en liefde aan ander mense te betoon. Hy het elkeen van ons talente gegee. Leef daardie talente uit!
Gebed:
Dankie Here, vir U groot liefde aan my. Help my om ook my liefde uit te leef volgens U wil.