Geduld, o Geduld.....

31 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Geduld, o Geduld.....

Genesis 7 en 8

Die reën het gekom soos God belowe het, dag in, dag uit. Noag het die dae afgetel, tien, twintig, dertig, en steeds het dit gestortreën soos hy nog nooit in sy lang lewe beleef het nie. “Wanneer gaan dit eendag ophou?” sug Vroulief.

Toemaar ou Vrou, nog net tien dae, dan is alles verby. Dan kan ons weer vry asemhaal.”

Met al die diere in die ark moes dit sékerlik naderhand onhoudbaar geword het, want alles was mos toe, geseël soos ‘n reuse sardiensblikkie wat op die see dobber. Dag nege-en-dertig breek aan, en steeds sous dit harder as óóit. Gelukkig is daar nie veel tyd vir die gesin op die skip om hulle te verknies oor die reën nie, want dit is harde werk om al die diere gelukkig te hou met kos en skoonmaak.

Dag veertig breek so nat aan soos elke dag van die vorige maand. En dan, wanneer Noag op dag een-en-veertig sy tam oë oopmaak, kry hy ‘n gewaarwording van iets totaal anders: Stilte! Skielik besef Noag dat dit nie reën nie! Dit het opgehou! Deur die skrefies van die planke sien hy helder sonlig deursypel.

Nét daar val Noag op die vloer neer en dank God vir Sy genade. “Here, wanneer kan ons uitgaan? Ek smag na ‘n bietjie son op my vel.....”

Nie nou al nie Noag, jy sal maar eers geduldig moet wees, want die hele aarde is bedek met water, tot sewe meter bokant die bergtoppe.. Al hierdie water moet nou eers wegsak voordat julle en die diere kan uitgaan. Maar Ek sal ‘n sterk wind stuur om alles te bespoedig.”

En dit het gebeur soos wat God belowe het. Die doodse stilte het plek gemaak vir die harde geruis van ‘n sterk wind. Dag en nag het die wind gewaai, week na week, maand na maand. En steeds het Noag se skip op die golwe rondgedobber. “Hoe lank nog, Here?” het hy telkemale gebid.

Die maande het verby gegaan, en teen hierdie tyd het hy en sy drie seuns elke dier op die naam geken. Noag wou net begin moedeloos raak, toe hy een dag tot in sy fondamente geskud word. Skielik besef hy dat die Ark land getref het. Met ‘n ysingwekkende siddering kom die reuse gevaarte tot stilstand. ‘n Groot gejuig klink op van die reisigers op die Ark. Een honderd en vyftig dae sedert die reën opgehou het! So lank dobber hulle nou al rond.

Nou wil Noag net uit! “Nee Noag, die wêreld is nog onder water! Hierdie is slegs ‘n bergtop wat julle getref het. Wees geduldig! Op My regte tyd sal Ek julle laat uitgaan, sodra alles gereed is.”

Geduld, o geduld wat so baie kan dra.........

n Volle agt maande nadat dit vir die eerste keer begin reën het, kan Noag die eerste toppe van die heuwels rondom die berg waarop hulle gestrand het sien deur die enigste klein venstertjie op die boonste verdieping. Veertig dae later kan Noag nie meer sy geduld bedwing nie. “Ek gaan ‘n kraai laat uitvlieg,” verduidelik hy vir sy seuns, “want ek wil sien of daar nie dalk al land iewers is nie.”

So gemaak, so gedaan, en die kraai kry sy vryheid deur die venstertjie. Dit was nie lank nie, of Noag hoor die swart voël op die ark se dak. Hy kon nêrens sitplek kry nie. ‘n Week later probeer hy weer, maar dié slag laat hy ‘n duif los. Nie lank nie of die duif is óók terug.

Moedeloos wag Noag nog ‘n week. Nou is sy geduld tot die uiterste beproef. Wéér laat hy ‘n duif los. Nie lank daarna nie is die duif weer terug. Noag se moed sak in sy skoene. Maar as die duif deur die venster klouter, val Noag se mond oop: in die duif se bek is ‘n lowergroen olyftakkie.

Die seshonderdjarige ou man gee ‘n paar wilde bokspringe, en al jubelende gaan vertel hy die nuus vir sy reisgenote: “Kyk, die duif het ‘n olyftakkie gebring!” sing hy al huppelende. “Nou gaan dit nie meer lank wees voordat ons vry is nie!”

n Week later is die duif weer uitgestuur, maar hierdie slag het hy nie weer teruggekom nie. Toe weet Noag: Die aarde is besig om te herstel!

Wanneer Noag ‘n luik in die Ark oopmaak, elf maande nadat die groot reën begin val het, kan hy byna nie sy oë glo nie. Lowergroen lê die deurdrenkte aarde voor hom oopgesprei. Alles is so vars en mooi en splinternuut. “’n Herskepte aarde!” mymer hy. “Nou kan ons weer nuut begin en alles herbou. Dankie Here, vir U groot genade.”

Maar steeds moet Noag nog ‘n klein rukkie geduldig wag voordat hy kan uitgaan. God was nog nie hééltemal klaar met die herskepping nie.

Geduld is ‘n baie moeilike ding. Ons wil alles hier en nou klaar gedoen hê, en dan hou die Here ons terug en sê dat ons eers geduldig moet wag vir Sy regte tyd. Dit is beslis nie maklik nie!

Ek is al talle male daar deur. Wanneer dit vir my lyk asof dinge maar net nie in plek wil val nie en my senuwees begin knaag, hoor ek elke keer maar net weer die stem van die Here: “Wees geduldig Louis, Ek sal op My regte tyd voorsien!”

Alles kom eintlik daarop neer dat ek my volle vertroue in God moet plaas. Op hierdie manier leer Hy my iets van vertroue.

Gebed:

Here, gee asseblief deur U Heilige Gees vir my die krag om waarlik op U te vertrou vir alles.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026