2 Petrus 1:8-11
Die driedubbele swart blinddoek klem pynlik oor my wange. Die blinddoeker wou dood-dóódseker maak dat ek nie kan koekeloer nie. Ek tas rond in die pynlike gitswart donker. ‘n Koor van stemme koggel my al giggelend. Almal lag. Hulle lag vir mý, die armsalige blindemol! Wanhopig gryp ek, dán hierdie kant toe, dán dáárdie kant toe, net waar ek een van daardie verfoeilike stemme hoor. Iemand gaan boet! ‘n Meisiestem protesteer ontevrede as een van haar maters haar vorentoe stamp in my rigting. Dan volg ‘n algemene gestampery en almal lag, nou nie meer vir my nie, maar vir mekaar. Vir ‘n oomblik is hulle oplettendheid verslap, ek hoor dit sommer dadelik. Nou moet ek my kans waarneem! Ek spring blindelings sywaarts en gryp wild in die lug rond. Iemand se arm doem in die pikdonker op. Ek klou vir al wat ek werd is terwyl ek my uit die blinddoek loswurm. “Het jou!”
Onthou jy nog? Blindemol! Goeie ou dae daardie, toe ‘n kind nog kon speel en lag. Blinde speletjies was baie gewild: Daar was byvoorbeeld “Kietsie miaau”, waar die geblinddoekte baie fyn moes luister. Iemand in die kring sê “Miaau”, terwyl hy sy stem probeer vermom, en jy moet raai wie dit was.
Maar blindespeletjies het ‘n mens iets geleer in die lewe, van hoe belangrik dit is om te kan sien. Jy moes leer hoe verskriklik afhanklik jy is van jou sintuie. ‘n Blinde persoon leer om daarmee saam te leef, en hy kompenseer baie gou, want as hy dit nie doen nie is hy verlore. Wanneer ‘n siende persoon egter van sy sig beroof word, soos met ‘n blinddoek, dan is hy wáárlik in die duister - totaal verlore!
Só, sê Petrus is die gelowige wat ‘n passiewe geloofslewe het. Daardie persoon gaan geblinddoek deur die lewe, en meeste van die tyd het hy, geestelik gesproke, nie ‘n benul van waar hy is nie! Hy struikel oor die kleinste ou geloofskrisis-klippie, want hy kan dit nie betyds raaksien nie.
Die afgelope paar dae het ons gesien hoe Petrus hamer op die belangrikheid van ‘n Godvrugtige lewe. Dit begin met kennis van die Here Jesus Christus en dit spiraal op soos in ‘n goue trapleer van geloofsverryking. Dit is ‘n nimmereindigende proses waar elke stukkie geloofskennis jou weereens bring by verdere geloofsverryking. Deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, liefde en spiritualiteit is almal ‘n integrale deel van daardie proses, só het ons gesien. Hierdie proses begin by kennis van Jesus, en dit bring keer op keer nóg intiemer kennis van Jesus. Sodoende leer jy Hom intiem-persoonlik ken en kry jy al meer deel aan Sy Goddelike natuur.
Hoe leer ‘n blinde persoon sy omgewing ken? Deur te gaan sit en dink daaroor? Nee, beslis nie! Hy ondersoek elke vertrek duim-vir-duim, bevoel elke ding, meet sy treë af tussen verskillende voorwerpe en vorm vir hom ‘n prentjie in sy gedagtes van die presiese detail van die plek. Hy leer met ander woorde die omgewing uit sy kop ken sodat hy nooit hoef te verdwaal of struikel nie.
Op presies dieselfde wyse moet ‘n gelowige óók so prakties sy geloofsomgewing leer ken deur te ondersoek, meet, bevoel en geheueprentjies vorm sodat hy te alle tye weet waar hy staan. So moet jy byvoorbeeld duidelikheid kry oor presies waar jy staan in sekere geloofskwessies. Soek antwoorde en doen kennis op daaroor, sodat wanneer jy daarmee gekonfronteer word, dit jou nie sal verwar nie.
Is daar ooit voordele in só ‘n geloofsverryking?
Beslis ja, want in die eerste plek versterk dit jou geloofsekerheid. Ek het al dikwels ‘n gelowige hoor vra: “Hoe weet ek of ek werklik uitverkies is?” Jou Godvrugtige lewe is alreeds ‘n bewys daarvan. As daar nie sprake is van spiritualiteit in jou lewe nie, mag daardie tergende vraag dalk vir jou in die lug hang……!
Dan is daar ook nog die kwessie van geloofs-vastigheid. Daardie spiraal van geloofsverryking maak jou sterk sodat jy lastige versoekings beter kan hanteer, en sodoende al hoe minder sal swig voor allerhande sondige begeertes.
Verder gee geloofsverryking jou ‘n geloofsvisie, ‘n opgewonde uitsien na die wederkoms van Jesus Christus. Dit maak dat jy nie meer die dood vrees nie, want jy sien uit na ‘n vrye en wonderlik-feestelike toegang tot die ewige Koninkryk. Wat ‘n fantastiese fees om na uit te sien! Inderdaad is dit fantasties, dog beslis nie ‘n fantasie nie! Dit is ‘n heerlike werklikheid wat deur God aan ons beloof is!
Haal die blinddoek af en maak jou oë oop! Laat dan toe dat daardie geloof van jou blom!
Gebed:
Dankie Here, dat U ook die blinddoek van my oë afgehaal het. Maak my asseblief Godvrugtig leergierig vir U Woord.