​​​​​​​Filosofie

8 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie ​​​​​​​Filosofie

Handelinge 17:10-34

Die opstand in Tessalonika het Paulus en sy geselskap in lewensgevaar gelaat. Hulle moes vinnig daar weg voordat dinge baie lelik kon raak. Hulle wag totdat dit donker is, en dan sluip hulle die stad uit. Tou-opgooi? Nooit! Nie Paulus nie! Hy, Timoteus en Silas vertrek doodeenvoudig na die volgende stad, Berea om daar die Evangelie te gaan verkondig. Berea is sowat 80 kilometer van Tessalonika af. Lukas berig dat Paulus-hulle daar baie beter ontvang is. In die plaaslike sinagoge het die Jode asook die Grieke aan Paulus se lippe gehang het. Boonop het hulle nagelees oor wat hy vir hulle vertel het. Baie van hulle het gelowig geword.

Maar die duiwel was beslis nie tevrede met die toedrag van sake nie! Kort voor lank trek ‘n klomp opstokers uit Tessalonika op om hulle werk in Berea te kom ontwrig. Gou-gou het die gelowiges in Berea gesien dat hierdie ding handuit kon ruk, en hulle begelei Paulus stilletjies die stad uit om na sy volgende bestemming, Atene te vertrek. Timoteus en Silas word in Berea agtergelaat om eers dinge daar vas te vat voordat hulle by hom aansluit in Atene. Uit Paulus se briewe lei ons af dat hy weer vir Timoteus teruggestuur het na Tessalonika, kort nadat Timoteus in Atene aangekom het. Hy moes ‘n brief van Paulus daar gaan aflewer.

Atene was vir Paulus ‘n groot kultuurskok. Hierdie was eens op ‘n tyd die groot kultuurstad van die antieke wêreld, en veral in die vyfde en vierde eeu vC, het die stad 'n bloeitydperk beleef van kuns en filosofie. Atene kan met reg die geboorteplek van die demokrasie genoem word. Die reuse in die filosofie, Sokrates en Plato is hier gebore. Toe Paulus egter daar aanland was die stad maar net ‘n skaduwee van die oorspronklike. Daar was toe skaars 5000 inwoners in die stad oor! Daar het egter steeds so ‘n klein ietsie van haar eertydse glorie agtergebly.

Die één ding wat Paulus dadelik getref het is die afgodsbeelde wat jy agter elke bossie uitskop. Dit het hom dwars in die krop gesteek. Hy is reguit na die sinagoge, waar hy met die Jode en “Godvresendes” sy gedagtes hieroor gedeel het. Dit het hom egter steeds baie gepla.

Toe neem Paulus ‘n besluit: Vasberade stap hy na die stadsplein toe, en begin sommer dadelik met die verbygangers te praat oor die Evangelie. ‘n Paar mense het hom sekerlik baie skeef aangekyk, maar daaraan steur Paulus hom nie. Sy doel is om reaksie uit te lok. Dit kry hy uiteindelik dan ook reg, wanneer ‘n klompie Epikuriese en Stoïsynse wysgere hom aantree en begin stry met hom.

Die Epikuriërs het één doel in die lewe gehad: lewensvreugde! Alle vorms van pyn, vrees en bygeloof is vermy, en hulle het die bestaan van gode wat jou lewe kan versuur ontken. Wat saak maak is dat jy die lewe hier en nóú voluit geniet! Die Stoïsyne het weer ‘n innerlike vrede en ‘n lewe in harmonie met die natuur aangehang. Vir hulle was daar êrens daar buite wél iewers ‘n goddelike mag.

Hierdie filosowe het Paulus uitgelag en hom bestempel as ‘n “saadplukker,” dit is iemand wat dinge sê waarvan hy niks weet nie. Maar nie almal het hulle rug op hom gedraai nie. Sommige mense was geprikkel deur dít wat Paulus kwytgeraak het. Hulle wou meer weet van hierdie nuwe idee wat Paulus kom plant. Daarom neem hulle hom na die Areopagus toe om sy sê te sê. Hierdie is ‘n groot rots wat tussen die markplein en die Akropolis geleë is, en hier het die beroemde Areopagus-Raad onder andere byeengekom. Nou moes Paulus praat, want die mense was nuuskierig oor hierdie nuwe geloof wat hy verkondig.

Natúúrlik gryp Paulus die kans aan! Dit was presies waarvoor hy gebid het! Hy begin sy toespraak deur die klomp heuning om die mond te smeer oor hulle wonderlike godsdienstigheid. Hy het êrens in die stad ‘n altaar gesien vir ‘n “onbekende god.” Nou verduidelik hy aan die hand van hierdie beeld van die ware God, Skepper van die heelal. Paulus vertel dat Hy ons ganse bestaan is, maar verder dat Hy het ook ‘n nuwe begin gemaak het vir die mens met Jesus se koms. Nou waarborg Hy ook amnestie vir alle sondaars. Mense het wel vroeër in onkunde geleef en hulle onbekende god aanbid, maar nou is daar nie meer tyd of plek daarvoor nie, want Jesus het gekom! En natuurlik is die gevolgtrekkingdat die Ateners kan wéét dat Jesus se koms veroorsaak dat ons in harmonie met God kan leef.

Vir die meeste Grieke het Paulus se redenasies absoluut niks beteken nie, en het hulle dit bloot weggelag. Vir hulle was die dood die groot mag waaruit jy nooit kon ontsnap nie. Nogtans het ‘n hele aantal van hierdie Grieke tot geloof gekom.

Die vraag is vanoggend waar jy staan, liewe leser? Is die lewe vir jou een groot filosofiese raaisel waarin jy lewensvreugde najaag sonder God? Is die dood vir jou die einde van alles? Of het jy reeds die ware lewensvreugde in Jesus gevind, waar die dood maar net die begin is van alles wat wonderlik saam met God en sonder sonde is?

Gebed:

Dankie dat U vir my reeds die ware lewensvreugde gegee het Here. My hart gaan vanoggend uit na elkeen wat dit nog nie ervaar het nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026