Handelinge 8:4-25
In ons vorige oordenking het ons gesien hoedat die vervolging van die Christene in Jerusalem in alle erns begin het. Gelowiges het uitmekaargespat en in alle rigtings gevlug vir hulle lewens. Omtrent die enigstes wat oorgebly het, was uiteindelik die apostels. Die Christene wat gevlug het, het die Evangelie verkondig so ver as wat hulle gegaan het, en so is die blye boodskap die wêreld ingedra.
Een van die vlugtelinge was die nuutverkose diaken, Filippus, een van die sewetal wat saam met Stefanus verkies was. Hy was een van die vlugtelinge, en hy het na die landstreek Samaria uitgewyk om daar vir hom ‘n holtetjie vir sy voet te vind tussen die Samaritane. Die Samaritane en die Jode was nou nie juis die beste van bure nie, en daar was gedurigdeur ‘n gestry oor waar God éintlik aanbid moes word, Jerusalem of op die berg Gerasim. Die Jode het die Samaritane verafsku, en as slegs ‘n Samaritaan se skaduwee op ‘n Jood sou val, het hy hom eers gaan was, want dan was hy onrein.
Onder hierdie donker omstandighede kom Filippus die land binne. En wat doen hy? Hy begin die Evangelie verkondig aan hierdie einste Samaritane! Maar eers moes hy die reg om te kon preek verdien. Die Heilige Gees het kragtig deur Filippus gewerk sodat hy baie wondertekens gedoen het en sodoende die mense se aandag op hom gevestig het. Siekes is gesond gemaak; kreupeles kon weer regop staan; verlamdes kon skielik weer loop! Die Samaritane redeneer: “Hierdie is nie sommer maar net iemand nie, God werk deur die man! Ons kan gerus maar luister na wat hy sê!” Die inwoners van Samaria was vol verwondering oor wat Filippus vermag het. Lukas vertel dat hulle aandagtig na Filippus geluister het. Nie alleen het die wondertekens bevestig dat hy deur God gestuur is nie, maar dit wat hy gesê het het hulle diep aangegryp.
Alles was egter nie pluis nie. Filippus het groot teenstand gekry van ‘n man met die naam Simon, ‘n gedugte towenaar. Só sterk was Simon se mag om allerhande bonatuurlike dinge en toorkunste te verrig, dat die mense na hom verwys het as “die groot krag van God.” Hy is met ander woorde as ‘n goddelike wese beskou wat ter aarde neergedaal het, of dalk selfs as ‘n beliggaming van God self! Dit was nie vreemd vir daardie tyd nie, want baie towenaars het daarop aanspraak gemaak dat hulle gode was. Towery was ‘n algemene ding, en vir die mense van daardie tyd was die onsigbare of onsienlike eintlik die ware werklikheid. In die Grieks-Romeinse wêreld was daar ‘n hele galery van gode en godinne wat gelukkig gehou moes word om vir jouself die lewe gemaklik te maak. Towenaars en priesters het oor die gawe beskik om met hierdie godewêreld te kommunikeer. Hulle het dan ook dikwels bonatuurlike magte gekry in die proses. Hierdie mense is met groot agting bejeën. Vandag is hulle steeds met ons in die persoon van sangomas, spiritiste, fortuinvertellers ens. Hierdie is bitter gevaarlike praktyke wat heul met die magte van die duisternis, en eintlik in diens van die duiwel staan!
Simon kon wél wonderlike dinge doen. Filippus was egter in 'n héél ander kategorie. Hy het boonop oor die wonderlikste woorde beskik, woorde wat lewe gee wáre lewe! Geloof in God berus nie in wat jy sien, oftewel wonderwerke nie. Dit berus eerder in ‘n vaste vertroue dat Jesus se sterwe en opstanding nuwe lewe gee vir die gelowige. Simon het gesien wat gebeur, en hy het begeer om ook soos Filippus te wees. Hy het na Filippus geluister en het gelowig geword, is selfs ook gedoop. Maar Simon se motiewe was nie suiwer nie. Hy het geglo op grond van die dinge wat hy Filippus sien doen het en nie soseer oor dit wat hy gepreek het nie.
Die woord oor Filippus se sukses in Samaria het versprei en ook die ore van die apostels in Jerusalem bereik, en hulle het besluit om te gaan kyk wat daar aangaan. Dit was immers hulle taak om toesig te hou oor die regte verkondiging van die Evangelie. Petrus en Johannes word afgevaardig om 'n besoek by Filippus te gaan aflê. Daar aangekom het hulle vir die mense gebid, en die reaksie was dat die Heilige Gees kragtig op die nuwe bekeerlinge gekom het, net soos dit gebeur het op Pinksterdag.
Toe Simon sien wat gebeur, het sy hart weereens met begeerte gebrand. Hy wou ook doen wat die apostels doen, want hy sien dat die mense die Heilige Gees kry as Petrus maar net sy hande op iemand lê. “Ek is bereid om gróót te betaal vir daardie krag!” Hy probeer hard om vir Petrus om te koop.
Petrus se geskokte antwoord is: “Gaan na die verderf met al jou geld en al!” God se hemelse gawes is beslis nie met geld te koop nie!
Daar is nie plek in die kerk vir mense wat God probeer dien om allerlei “byvoordele” te kry, soos status, mag of eie eer nie. Om goed te doen sodat jy ‘n beter plekkie in die hemel kan verdien is ewe selfsugtig. Om God waarlik te dien beteken dat alle eer aan Hom alleen gaan, en dat jy Hom dien en aanbid sonder om iets terug te verwag, uit suiwer dankbaarheid vir wat Hy alreeds vir jou gedoen het.
Gebed:
Here, genees asseblief my selfsugtige hart, en gee vir my ‘n hart van onbaatsugtige diens aan U alleen.