Die spreekwoord lui dat jy jou vriende kan kies, maar met jou familie sit jy opgeskeep! Van húlle kan jy nooit ontslae raak nie. As jy die dag ‘n Christengelowige word, kry hierdie spreekwoord ‘n kinkel by, want skielik het al die ander gelowiges ook jou familie geword!
Ja, toe die Nelle die dag see toe trek, kry ons ook familie by waarvan ons nooit geweet het nie! Maar dis nou ‘n héél ander storie. Op ‘n dag kom ‘n jong paartjie by ons aan. “Ek is Oom Piet van Putsonderwater se kleinniggie”, vertel die meisie, “Oom Piet het gesê dat julle nie sal omgee as ons by julle kom oorslaap nie.” Wat kan ‘n mens nou sê? Jy kan die tweetjies mos nie die deur wys nie? En toe slaap hulle oor, sommer vir ‘n hele week lank, en hou heerlik vakansie by die see op ons onkoste. Ek weet tot vandag toe nog nie wie hulle was nie!
Sedertdien het baie totale vreemdelinge die poorte van die Nelle binnegekom en ‘n slaapplekkie gekry. Mens kan mos nie nee sê as ‘n groepie platsak studente by jou kom aanklop vir ‘n lêplekkie, sommer iewers op die vloer nie. En as hulle op die koop toe ’n bord warm kos kry, dalk die eerste in dae, dan ken hulle dankbaarheid géén perke nie. Jim Reeves het mos gesing: “A stranger is just a friend you do not know.” Hoe reg was hy nie!
Maar gasvryheid het 'n tyd gelede vir my ‘n totale nuwe betekenis gekry. ‘n Finansiële krisis tref ons 'n paar jaar gelede. Ons is ook ons huis kwyt, en géén geld om ‘n ander huis te huur nie. Twee dierbare mense, Willem en Linda sien ons nood raak. “Julle trek by ons in”, word ons summier opgekommandeer. Hulle woonstelletjie staan leeg, en daar kon ons kosteloos bly so lank dit nodig was. Hulle het die woonstelletjie nooit uitverhuur nie, maar kort-kort word iemand in nood daar gehuisves. Hierdie was egter baie meer as net blyplek, want hier was ons oorlaai met liefde en sorg vir die jaar wat ons daar vertoef het.
Die Hebreërskrywer noem gasvryheid as een van die deugde van ’n gelowige. Dit was nog altyd een van die eienskappe van ons ou volkie. As jy op die platteland gestrand geraak het, was jy verseker dat die naaste plaasboer jou slaapplek sou gee en boonop die gemeste kalf sou slag vir jou! Ongelukkig kruip meeste van ons vandag so in ons eie ou doppie, dat ons alle vreemdelinge uitsluit. Niemand buite ons bekende vriendekring word meer vertrou of in ons huis ingenooi nie. Selfs die predikant of ouderling word dikwels met wantroue bejeën, en as hulle die dag kom kuier, is dit maar ‘n stywe affêre, en jy wens dat hulle nou hulle ry moet kry sodat jy met jou lewe kan aangaan.
Ons medegelowiges is deel van ons geestelike gesin, dus bloedfamilie. Nee, nie maar vêrlangse agter-kleinneefs en niggies nie, maar eie boeties en sussies. In hierdie lig beskou, is daar ‘n paar dinge wat ons verhouding met mede-gelowiges totaal verander. Teenoor jou broer of suster tree jy openlik op. Hulle is mos nie vreemdelinge nie. Net so behoort jy openlik teenoor jou broers en susters in Jesus op te tree. As jou broer in die moeilikheid is, sal jy enigiets doen om hom te help. Natuurlik sal jy hom nie maar aan sy eie genade oorlaat nie! Selfs as hy erg gestruikel het, en met die gereg gebots het, sal jy hom te hulp snel. Bloed is immers dikker as water! Net so sal jy empatie hê met ‘n mede-gelowige wat in die sop beland het. In die tyd toe hierdie boek geskryf is, was daar verskeie gelowiges in die tronk as gevolg van hulle geloofsoortuigings. Dit is veral oor hierdie mense, wat dikwels boonop nog ook gemartel is, wat die skrywer vra dat die lesers hulle asseblief nie moet vergeet nie.
Onthou asseblief, alhoewel ons kinders van God is en ons sondes vergewe is, bly ons steeds maar net mense. Niemand kan sê dat hy ‘n enkele dag deurgaan sonder om op die een of ander manier te sondig nie. Sommige gelowiges is ook nie so sterk soos ander nie, en om te struikel is bloot menslik. Moet dus nie ‘n mede-gelowige veroordeel as hy geval het nie. Dit kan jou en my ook oorkom! Gaan eerder in liefde na daardie persoon en help hom weer op sy voete, sonder om te veroordeel, en liefdevol, soos jy met jou eie broer of suster sou doen. More het jy dalk presies dieselfde hulp nodig van ‘n ander gelowige, wanneer jy miskien in ‘n oomblik van swakheid neerslaan.
Jesus het vir ons die voorbeeld kom stel oor hoe om met jou mede-gelowiges om te gaan. Hy was nooit te moeg om iemand in nood te help nie. Toe die honger skare daar op die oewer van die meer gesit het, het Hy vir hulle kos gegee. Niemand was ooit benede Sy waardigheid nie, nie eers die losbandige Samaritaanse vrou nie. Hy het tyd gemaak om met haar te gesels, en nie eers gedink aan Sy eie reputasie nie. Hy het selfs saam met die gehate tollenaar en sy ongure vriende ‘n feesmaal gehou. Jesus het waarlik omgegee! Dit behoort ook ons strewe te wees.
Gebed:
Here, gee my asseblief ‘n ware omgee-hart, en hope praktiese liefde vir my mede-gelowiges.