Ester

3 May, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Ester

Ester 1:1-8

Video

Audio

In ‘n wêreld waar die magtige manne die septer geswaai het, was dit soms ‘n vrou wat die gang van die geskiedenis omgeswaai het. Een so ‘n vrou was Ester. Baie jare het verby gegaan sedert Hanna vir klein Samuel vir die Here gegee het. Samuel het twee konings oor Israel aangestel, en sedertdien was daar talle konings wat regeer het, meeste van hulle slegte konings. Toe gebeur die ballingskap.

Dit is die jaar 484 vC. Op die troon van die magtige Persiese Ryk sit die flambojante Ahasveros, - ook bekend as Xerxes 1. Dit is nou reeds sy derde jaar op die troon. Sedert die dinamiese koning Sirus (of Kores) sowat 70 jaar tevore die troon van Persië bestyg het, het die ryk net teen ‘n angswekkende tempo uitgebrei totdat dit uiteindelik ‘n wêreldryk geword het wat strek van Egipte en Griekeland in die weste tot by die grens van Indië in die ooste.

In die eerste toneel van ons verhaal sien ons vir Ahasveros in al sy prag en praal. Vir ‘n volle ses maande lank word die stad opgetooi tot ‘n wonderwêreld van kleur en rykdom. Spierwit en bloedrooi linnedoeke word aan marmer pilare gedrapeer, versier en vasgemaak met pers linnetoue aan silwer ringe. Silwer en goue rusbanke versier die plaveisel wat kunstig uitgelê is, gekap uit verskillende soorte kosbare klip.

Die hoogtepunt van die feesvieringe is ‘n weeklange onthaal waar géén koste en moeite ontsien word nie. ‘n Oorvloed van wyn, net goed genoeg is vir ‘n koning, word bedien in goue bekers, spesiaal vir die geleentheid ontwerp. Al die hoë amptenare uit die ryk van regoor die wêreld is daar. En natuurlik is dit nie net die manne wat bederf word nie - elders is Koningin Vasti besig om al die invloedryke vroue van die Persiese Ryk te onthaal.

Gemoedelik, vrolik, vrygewig en joviaal mag Ahasveros dalk voorkom, maar moenie hierdie man op sy baadjie takseer nie. Hy is ‘n bitter gevaarlike man! Moenie in sy verkeerde boekies kom nie, want jy gaan beslis tweedebeste daarvan afkom! Boonop leen hy baie maklik sy ore uit aan ander invloedryke en slinkse manne wat hom soms manipuleer!

En dan is daar Ester. ‘n Beeldskone jong meisie iewers in Israel, ‘n verarmde landjie wat swaar gebuk gaan onder Ahasveros se tirannie. Op die harde manier moet Ester leer om verantwoordelikheid vir ander mense te aanvaar en beheer te neem van haar situasie. As vrou, wat géén seggenskap het nie, neem sy haar posisie in in ‘n wêreld wat gedomineer word deur die magstrukture van mans. Soos ‘n Moses van ouds lei sy uiteindelik haar onderdrukte volk uit die verdrukking uit. Deur haar sagte woorde verander sy die gang van die geskiedenis. Dan is dit eintlik hierdie brose, sagte vrou wat in werklikheid die septer swaai in die koninkryk van hierdie gevaarlike koning Ahasveros.

Maar nou loop ek mos my storie ver vooruit......

Ons besef maar al te deeglik dat die regeerders wat die leisels in die hand het, mag het oor ander mense. In ons daaglikse lewe kry ons daarmee te doen. Die magsbehepte verkeersman wat die lewe vir jou bitter moeilik maak, veral as hy ‘n korrupte streep in hom het en jou dalk afpers om die verkeerde ding te doen. Groot leiers in Afrika het ‘n geweldige mag oor hulle onderdane. Selfs al stem hulle gladnie saam met sy beleid nie, sal hulle hom steeds volg tot die dood toe!

Ons hele lewe word beheer deur wette en regulasies, sommige waarmee ons gladnie eers saamstem nie. Dikwels word wette gemaak wat ons as gelowiges dwars teen die krop stuit. Die vraag is, hoe ons hierdie wette gaan hanteer. Goeie wette is tot almal se voordeel, maar hoe gemaak met wette wat nie tot eer van God is nie, of wat vir baie mense ‘n nadeel inhou?

Jesus het ons geleer dat daar sekere dinge is waaraan jy nie gaan torring nie, al lyk hulle dalk vir jou bitter onregverdig. As die bombastiese soldaat met die mag in sy hand vir jou sê om sy pak ‘n myl ver te dra, dan doen jy dit met ‘n glimlag - bied selfs aan om dit twee myl ver te dra! En as die keiser sê dat jy belasting moet betaal, dan betaal jy sonder om ‘n bohaai te maak, al is hy ‘n heiden wat afgode aanbid.

Deur protesaksies, petisies en stakings jaag jy net die owerhede die harnas in. Selfs drastiese stappe soos ‘n eetstaking gee hulle net rede om jou te bespot en uit te lag.

Ester het met ‘n groot tameletjie gesit! Kom ons kyk hoe sy in hierdie spannebde verhaal ‘n netelige saak benader het. Die lewe van duisende mense was op die spel, maar sy het ‘n plan gehad........

Gebed:

Here, dankie vir die mooi verhaal van Ester, en dat ek daaruit kan leer, maar dat ek dit ook kan toepas op my eie lewe en hoe ek dinge benader.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026