Genesis 27:1-30
Isak en Rebekka se probleme met hulle twee seuns het met die jare al groter en groter geword. Die seuns het manne geword en toe Isak al ‘n stokou man was, besluit Esau om vir hom vrou te vat. Op veertig trou hy met ‘n Hetitiese meisie, tot groot ontsteltenis van Pa Isak. ‘n Heidense vrou kan net moeilikheid beteken! Om egter die saak te vererger, besluit Esau dat één vrou nie genoeg is vir hom nie, en hy vat vir hom nóg een, ook ‘n Hetiet. Die twee oumense is siek van bekommernis oor hulle seun, want dit gaan beslis sy geestelike ondergang beteken. Wat hulle egter nie wou besef nie, is dat hulle al lankal sélf verantwoordelik was vir hulle seun se ondergang met die manier wat hulle die kinders opgevoed het.
Op veertig was Mamma se seuntjie, Jakob egter nog ongetroud en beslis nog nie verlief nie. Hy het ál Ma se aandag gekry.
Isak was al stokoud, blind van ouderdom. Hy het gevoel dat sy einde nou nader kom, en dit het tyd geword dat hy die gebruiklike “sterfbed seën” uitspreek voordat dit heeltemal te laat is. Die gebruik was dat al die kinders bymekaar geroep word en dat die sterwende Pa dan met almal teenwoordig aan elkeen ‘n spesifieke seën gee.
Nou weet ons natuurlik hoe Isak nog al die jare vir Esau voorgetrek het. En weereens beplan hy om vir oulaas hierdie liefling seun van hom baie spesiaal te seën. Teen alle gebruike in, wil hy vir Esau privaat sy seën gee. Maar eers het hy ‘n opdrag aan Esau: Sy lus vir ‘n stukkie wildsvleis het baie groot geword, en Esau moet eers vir hom ‘n bokkie gaan skiet en ‘n wildsgereg voorberei.
Maar mure het ore en tentmure is maar bitter dun. Rebekka kon natuurlik alles hoor wat daar gekonkel word. Sy skrik haar yskoud, en dan begin haar verstand oortyd werk. Sy kan nie toelaat dat Esau die seën, en daarmee saam natuurlik die eersgeboortereg kry nie. Die Here het mos destyds aan haar belowe dat Jakob die leierskap sal kry! Sy moet ‘n plan maak, en bitter gou, voordat dit te laat is. “Jakob!” roep sy haar seun. Sy vertel hom van haar dilemma. En dan skielik het sy helder en duidelik 'n plan. “Luister mooi Jakob!” Sy verduidelik dat hy twee vet bokkies moet gaan slag. “Maak gou!” Jakob wil nog protesteer dat dit nie gaan werk nie, maar sy het klaar haar slinkse plannetjie agtermekaar. “En bring vir my hulle velletjies saam!”
Terwyl Jakob besig is om te slag, gaan kry Rebekka ’n stel van Esau se klere wat hy op ’n slag daar gelos het. “Trek aan!” Terwyl die gereg sy heerlike geur van kruie versprei, word Jakob “hervorm”. Die nat bokvelletjies word om die protesterende man se arms gedraai. Hy gril hom dood, maar Ma het ’n plan. Esau is ’n baie harige man, en as die blinde Isak aan Jakob raak, moet hy dink dat dit sy veldseun is. Rebekka wil dubbel seker maak dat iets nie dalk skeefloop nie, en so word daar nat bokvelletjies om Jakob se nek en hande ook vasgemaak.
Dan is die geurige gereg gereed, en Jakob in Esau’s-gewaad kom Pa Isak se tent binne met die watertand “wilds” gereg. Hy probeer sy bes om Esau se stem na te maak, maar dit is nie baie suksesvol nie. Pa Isak ruik lont: iets is nie reg nie! Dis mos Jakob hierdie! “Kom ‘n bietjie nader Seun!” Hy wil seker maak, want hy vertrou nie meer sy vrou Rebekka nie. Met kloppende hart tree Jakob nader. Gaan Ma se plan werk? As dit nie werk nie, is hier vandag báie groot moeilikheid.
Pa Isak vat aan Jakob se hande. “Dis baie snaaks,” dink Isak. Die hande is Esau s’n, harig en hard. Maar iets is verkeerd! “Jy is tóg Esau?” sê-vra Isak. “Ek is, Pa,” lieg Jakob. Dit voel vir Jakob soos ‘n ewigheid as Pa Isak smul aan die geurige gereg. En dan word Jakob nadergetrek en gesoen. As Isak sy seun Esau se klere ruik, die geur van bossies en die veld, dan haak dit die knoop deur, en alle twyfel is weg. Jakob kry die volle seën wat vir Esau bedoel is. Hy word geseën met rykdom en oorvloed en heerskappy. Sy eie familie en selfs sy broer sal die knie voor hom buig.
Die seën kom net-net betyds, want skaars is Jakob uit die tent uit, of Esau daag op in ‘n vrolike luim. “Uiteindelik - die seën!” jubel dit in die veldseun.
Hierdie verhaal laat jou met baie vrae: Het Isak reg opgetree om Esau “privaat” te seën? Nee, beslis nie. Maar wat van Rebekka? Wat sy gedoen het, is ‘n gekonkel! Sy kon haarself natuurlik verontskuldig deur te sê: “Maar Isak het óók gekonkel!” Dan was daar natuurlik ook die Godspraak veertig jaar tevore, toe sy nog swanger was met die twee. Wanneer jy ‘n etiese én ‘n teologiese verskoning het, het jy mos genoeg rede om op te tree? Die doel heilig mos die middel? Skielik is dit nie meer Rebekka wat die slinkse persoon daar ver is nie. Dis ek en jy wat “goeie verskonings” het om sélf oneties op te tree.
Kom ons los maar liewer die verskonings en tree op in liefde soos Jesus ons geleer het. Die onreg kan ons in God se baie bekwame hande oorlaat. Rebekka het nie nodig gehad om te konkel nie, God sou reg laat geskied. Sy wou God egter so ‘n bietjie “aanhelp”. Moenie dat ek en jy vir God probeer “aanhelp” om Sy heilige doel te bereik nie. Hy is bekwaam om dit Sélf te doen. Doen maar net wat Hy van jou en my vra.
Gebed: Here, ek staan baie skuldig as ek terug dink oor hoeveel keer ek al U werk vir U probeer doen het. Vergewe my daarvoor, en leer my om altyd in liefde op te tree.