Markus 16:9-20
Ons het gekom aan die einde van Markus se Evangelie - die héél eerste Evangelie wat geskryf is. Matteus, Lukas en Johannes het eers later gekom. Die laaste stukkie van Markus 16 (vers 9 tot 20) is waarskynlik nie deel van hierdie boek nie, en is moontlik eers later bygevoeg deur iemand wat die oorskryfwerk gedoen het. In die beste manuskripte eindig Markus by vers 8.
Verse 9 tot 20 is egter nie noodwendig foutief nie, want dit stem volkome ooreen met die ander drie evangelies. In hierdie gedeelte word vertel van Maria se ontmoeting met Jesus en hoe Jesus ook aan ander mense verskyn het. Dit vertel ook dat Jesus die elftal berispe het omdat hulle aanvanklik nie wou glo oor Sy opstanding nie. Ons lees hier van Jesus se sendingopdrag aan die dissipels, dat hulle die hele wêreld moes ingaan en die evangelie aan die hele mensdom moes gaan verkondig. Dit beskryf ook Sy hemelvaart. Die “epiloog” sluit af met die nuus dat die dissipels Jesus se opdrag wél uitgevoer het, dat hulle met die krag wat die Here hulle gegee het, kragtige getuies was en dat baie wondertekens deur hulle plaasgevind het.
Ek wil egter hierdie reeks afsluit met die vraag: Wat is die boodskap van Jesus se lyding vir ons as gelowiges in 2022? Het die verhaal van Jesus se gevangeneming, kruisiging en dood 2000 jaar gelede werklik nog vandag vir my ‘n boodskap? Oor die afgelope paar weke het ons saam gehuil en saam met Petrus en die ander seergekry. Maar was dit nie maar net ‘n mooi storie nie?
As jy werklik Markus se perspektief op al hierdie gebeure reg begryp, hou dit vir jou ‘n geweldige geestelike verdieping in.
As ek vanoggend vir jou die vraag sou vra: “Waarom moes Jesus sterf?” sal jy sékerlik, sonder om tweekeer te dink, sê dat dit mos is om versoening te bewerkstellig vir ons sondes. Dit is natuurlik waar! Maar ons moet dan ook besef dat dit nie die enigste perspektief is op Jesus se dood en lyding nie. Inderdaad wil Markus dit tuisbring dat Jesus gesterf het as versoening vir ons sondes, maar as jy mooi gaan dink, sal jy onthou dat hy dit slegs tweekeer in die Evangelie noem (Mar. 10:45 en 14:24).
Daar is egter ‘n ander saak wat Markus baie na aan die hart lê: om Jesus se Goddelikheid te beklemtoon. Wat staan in die héél eerste vers van die boek? Dat Jesus Christus die Seun van God is. Hierdie lyn word regdeur die boek getrek.
Maar nou vra jy dalk: Hoe rym dit met Sy lyding en sterwe? Dit is dan juis hier waar Markus baie moeite doen om Jesus se lyding en kruisiging te koppel aan die feit dat Hy die Seun van God is. Eintlik is dit ‘n paradoks wat Markus gebruik om juis met die kruisgebeure Jesus se Goddelikheid te beklemtoon. Watter groter teenstelling kan daar nou wees, as dat die Koning van alle konings as vervloekte aan ‘n kruis sterf?
Maar dan sien ons hoe Markus telkemale teruggryp na die Ou Testament, en veral die Psalms om te wys dat Jesus die Groot Lydende Regverdige is. Daar is talle voorbeelde uit die Ou Testament van regverdige mense wat moes ly as gevolg van goddelose vyande wat hulle vervolg het. Markus wil wys dat Jesus moes ly ten spyte daarvan dat Hy totaal onskuldig was, maar terselfdertyd dat Hy gewilliglik gely het. So sien ons byvoorbeeld dat Jesus op die regte tyd na Jerusalem gegaan het, terwyl Hy deeglik bewus was daarvan dat Hy daar sou sterf. Hy het die nag in Getsemané gaan bid terwyl Hy gewéét het dat Judas Hom daar sou verraai. Tydens die verhoor het Hy nie eers probeer om Homself te verdedig nie. Alles moes verloop volgens ‘n Goddelike plan. Wanneer Markus dan vertel van die Romeinse offisier wat daar by die kruis in verwondering erken het dat Jesus waarlik die seun van God was, op grond van die wyse waarop Jesus gesterf het, is dit die finale bevestiging.
Markus wil hê dat hierdie hele gedagte elke gelowige moet aangryp, nie alleen om in verwondering Jesus te erken as God nie, maar ook dat ons die praktiese implikasies hiervan baie deeglik sal besef. In Markus 8:34 sê Jesus dat jy bereid moet wees om ook jou kruis op te neem as jy Hom wil volg, en bereid moet wees om ook te ly vir die evangelie.
Hierdie gedagte druis natuurlik lynreg teen ons menslike wese in. Om te ly beteken vandag natuurlik nie noodwendig meer om as martelaar te sterf nie, tensy jy iewers bly waar Christene vandag nog steeds wreed vervolg word. Dit beteken om die evangelie onbevange uit te dra en uit te leef, ten spyte daarvan dat ek dalk gespot gaan word daaroor, of dat ek selfs verwerp kan word deur my vriendekring! Om te ly beteken dat ek dalk bereid moet wees om die nederigste take te verrig.
Ek wil jou uitnooi, liewe leser, om die pad wat Markus vir ons uitgestippel het, met blymoedigheid te stap ter wille van ons Here, Jesus Christus, die Seun van die lewende God!
Gebed:
Here, dankie vir die heerlike getuienis van Markus, en die wonderlike boodskap wat dit vir ons lewe inhou. Dankie dat ons vandag kan weet: U is die Lewende, Regerende en Liefdevolle God.