Galasiërs 1:1-5
Dink jy ooit wat jy sê wanneer jy iemand groet? Dit is dikwels sommer ‘n formaliteit wat so vinnig moontlik afgehandel moet word, want dit het nie rêrag betekenis nie. Maar hoe belangrik is ‘n groet werklik?
Vir Paulus was dit ‘n baie belangrike deel van sy brief. En het jy al mooi geluister hoe die leraar die gemeente groet voor die Erediens? Ja, inderdaad is daar die enkeles wat sommer so woerts-warts iets mompel, maar die meeste leraars doen groot moeite om daardie groet iets baie spesiaal te maak. Eers is daar die votum, wat ‘n Latynse woord is wat iets beteken tussen “gebed, begeerte en verlange.” Hiermee word God aangeroep, Sy Naam word uitgeroep en die Heilige Gees word ingeroep. Terselfdertyd word die gemeente opgeroep tot ‘n belydenis van God se teenwoordigheid, en ons afhanklikheid en toewyding aan Hom. Daar word ook ‘n afwagting geskep vir die Woord. Na die votum volg die seëngroet wat basies sê: “Die Here seën julle.”
Jy sal dus verstaan dat hierdie ‘n baie komplekse groet is wat baie diep dinge sê. Wanneer ons Paulus se groet aan die begin van die Galasiër-brief lees, dan kom ons agter dat dit ewe kompleks is. Daar is baie meer in opgesluit as wat jy met die eerste oogopslag raaksien.
Die gewoonte daardie jare was, dat wanneer jy ‘n brief skryf, dan sê jy eers wie jy is. Daarna sê jy aan wie jy jou brief rig en dan groet jy die persoon. Dit is dan ook presies wat Paulus doen in hierdie brief, maar hy besluit dat die boodskap wat hy wil oordra so belangrik is, dat hy sommer al met die groetslag ‘n paar gedagtes ingooi sodat almal die boodskap behóórlik moet kry reg van die eerste woorde af.
Dit is baie belangrik dat die lesers nie alleen moet weet wie die skrywer is nie, maar waarom hy gekwalifiseer is om sekere goed vir hulle te mag skryf. So dikwels eet jy alles wat iemand skryf vir soetkoek op sonder dat jy eers iets van die skrywer af weet. Iemand wat goed is met woorde kan die grootste snert vir jou skryf en jou daardeur meevoer.
Vandag oorstroom blatante onwaarhede op Whatsapp dikwels ons pos, en dit word voorgehou as die heilige waarheid. Jy word dan dringend versoek om dit vir al jou kennisse aan te stuur. Dikwels word daar op jou gevoel as gelowige gespeel. Een so ‘n boodskap is dat die Pous besig is om die Bybel te herskryf! Die stories wat opgedis word is soms hartroerend. Hulle skroom ook nie eers om kindertjies uit te buit nie. 'n Algemene een is van die een of ander pragtige dogtertjie met 'n engelgesiggie wat 'n rare siekte het en miljoene rande benodig om behandeling te kry en wanneer daar dan werklik so 'n geval plaasvind, wil niemand dit meer glo nie! Iemand wat sulke blatante leuens versprei is diensknegte van die duiwel!
Terwyl die persoon ‘n “gesant van Satan” is, stel Paulus dit baie duidelik dat hy ‘n gesant van God is, deur Jesus persoonlik aangestel op die pad na Damaskus waar hy daardie traumatiese belewenis gehad het wat sy lewe, en dié lewens van baie miljoene mense deur die eeue dramaties verander het. Hy praat dus met gesag wanneer hy hierdie brief skryf, en elke leser sal presies weet wie en wat hy is.
Sommer so met die intrapslag begin Paulus al preek. Hy vertel van wat Jesus alles gedoen het vir ons verlossing. Hulle sê mos: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.” Jesus Christus is vir Paulus so opwindend en sy hele lewe is so vol van Hom dat dit net eenvoudig nie anders kan as dat hy oorborrel van Jesus en alles wat Hy gedoen het nie. Dit is soos ’n sterk fontein wat jy eenvoudig nie kan toestop nie, want druk jy die een gat toe, dan spuit die water by ’n ander gat uit. Vir Paulus is die héél belangrikste ding in die lewe Jesus, en niks, maar niks kan hom keer om van Jesus te praat nie. Mense het hom selfs met klippe probeer stilgooi, maar toe hy half-dood daar opstaan, is hy klaar weer aan die praat!
Gewoonlik is iemand wat so baie praat net vol van homself. Daar is ‘n hele paar sulke mense wat ek ken. Paulus is egter hier totaal anders, want alhoewel hy aan die begin vertel het dat hy persoonlik deur Jesus sélf aangestel is as apostel, gaan dit nie oor Paulus nie, maar oor Jesus, en hy gee aan God ál die eer: “Aan God kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid!” (v5)
Wat vertel jou groet van jou? Ek ken mense vir wie ek eintlik bang is om te groet, want “bedruk en bedroef” drup van sy gesig af, en die laste van die lewe druk swaar op sy skouers. ‘n Ander weer kan nie ophou praat van homself en wat hy of sy kinders in die lewe bereik het nie. Maar gelukkig ken ek ook ‘n paar ware sonstraaltjies, waar die geluk en liefde van Jesus só van sy gesig afstraal dat jy net eenvoudig nie kan help om sélf ook aangeraak te word bloot deur sy groet, en ‘n positiewe inspirasie te kry vir die dag.
Jy kan vandag mense se lewens verander eenvoudig deur die manier waarop jy hulle groet!
Gebed:
Here, maak my asseblief vandag ‘n sonstraaltjie en ‘n inspirasie vir mense wat dit nodig het!