Einde Van Die Pad

12 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Einde Van Die Pad

Genesis 29:1-12

By Bet-El ontmoet Jakob vir die eerste keer die Here. En dan is dit in werklikheid die begin van Jakob se lewensreis, ‘n reis wat begin met ‘n drie maande lange tog, stoksielalleen deur die dorre woestyn. Snags lê Jakob en droom van ‘n beeldskone meisie wat vir hom wag in Haran. Daar het Oupa Abraham sy vrou gekry, en hulle sê dat sy beeldskoon en begeerlik was, selfs toe sy al stokoud was. Moeilik om te glo! Ja, en Pa Isak het ook in Haran sy vrou gekry, ma Rebekka. En ook sy was ‘n beeldskone vrou, sy is vandag nog steeds! Hoe gaan die vrou lyk wat vir hom, Jakob, daar in Haran wag? Dit lyk asof al die meisies daar beeldskoon is! Natúúrlik gaan syne ook so mooi wees soos Pa en Oupa s’n!

Die pad sleep pynlik langdradig verby, en boonop is Jakob se sawwe voetjies nie gewoond aan ver loop nie. Die eerste week van die reis is, om die minste te sê, ‘n pyniging. Daarna begin dit so half beter gaan, en Jakob begin die stappery gewoond raak. Drie lang maande sleep verby. Gaan Haran dan nooit opduik nie? Jakob het geweet dat dit ver is, maar só ver! Dit het hy nooit kon droom nie.

En dan, skielik, as Jakob oor ‘n sandduin kom, is daar ‘n groenigheid hier vlakvoor hom. Hy loop hom vas in ‘n groot trop skape en bokke. En daar is ‘n put! Jakob is oorstelp van vreugde. Jy loop nie elke dag hier in die woestynwêreld in ‘n put vas nie. Maar snaaks genoeg is dit nog maar vroegmiddag, waarom sou die veewagters dan nou al hierdie tyd van die dag met hulle kleinvee by ‘n put sit en wag?

En dan merk hy dit: Op die bek van die put lê ‘n groot plat klip wat dit verseël. Die wagters verduidelik: “Ons wag tot al die vee van die omgewing hier is, dan maak ons die put oop en laat hulle suip.”

Simpele klomp!” dink Jakob in sy stilligheid “Waarom laat hulle nie die vee wei tot dit tyd is om die put oop te maak nie? Hulle verwaarloos mos hulle skape!”

Waarvandaan kom julle?” wil Jakob weet, en dan gee sy hart ‘n bokspring as hulle beduie dat hulle van Haran af is. “Haran!” juig dit in Jakob se binneste, “Haran! Ek het dit toe tóg uiteindelik gemaak tot by Haran!”

Julle ken nie dalk vir Laban nie?” vra Jakob uit. “Hy is ‘n kleinseun van Nahor.....”

O ja, almal hier rond ken hom maar al te goed,” lag hulle. “Dit is nou juis sy jongste dogter, Ragel wat daar onder aankom met sy vee.” Een van die manne beduie na ‘n trop skape wat stof opskop in die vlakte. “’n Mooie meisiekind,” sug een ou kêrel. “Sal nie omgee as sy myne was nie....”

Jakob vervies hom vir die manne wat rondlê en niksdoen, en dit terwyl hulle skape merkbaar nog nie genoeg kos gehad het vir die dag nie. Hy weet nie veel van boerdery af nie, maar hy kan duidelik sien wanneer dinge verkeerd gedoen word. “Laat suip julle vee, en gee hulle kans om nog te wei!” Jakob is omgekrap. “Nee, dinge word nie so gedoen hier rond nie,” protesteer hulle.

En dan daag Ragel op met haar pa se skape. Jakob kan sy oë nie glo as hy die skoonheid van hierdie skaapwagtertjie aanskou nie. Dit is liefde met eerste oogopslag. “Daar waar ek vandaan kom is daar nie sulke mooi goed nie,” dink hy. Drie maande van oorlewing in die woestyn het Jakob se sagte kombuishandjies hard en taai gemaak. Met brute krag rol hy vir Ragel die klip van die put se bek af sodat haar vee kan suip.

Jy is Ragel, Laban se dogter?” stamel Jakob. Sy glimlag en knik haar kop instemmend, en haar oë skitter betowerend soos sterre. Tot haar verbasing gryp hierdie vreemdeling haar, en nog voordat sy tot haar sinne kan kom, soen hy haar. En dan kan Jakob sy emosies nie meer beteuel nie, en hy bars in trane uit. “Uiteindelik het ek jou gekry,” snik die man dit uit, sodat Ragel half verleë daar staan en nie weet wat om te doen nie.

En dan, as Jakob sy stem terugkry, begin hy vir haar verduidelik. Hy kom van baie, baie ver af, en hy is naarstigtelik op soek na sy familie. En hier het hy hulle nou gekry. “Jou pa en my ma is broer en suster,” begin hy familie uitlê. “Sestig jaar gelede het my oupa Abraham iemand gestuur hier na Haran toe om vir my pa ‘n vrou te kom haal. Daardie vrou is jou pa, Laban se suster.”

Ragel gaap die man aan. Sy kan nie glo dat enigiemand soveel moeite sal doen vir familie nie. Sy spring op, los haar skape nét daar by die put en hardloop so vinnig sy kan om vir haar pa die nuus te gaan vertel. Jakob het aan die einde van sy reis gekom!

Ons het ook twee weke gelede aan die einde van ‘n reis gekom. die jaar 2017 lê op sy rug. Maar die einde van ‘n reis beteken ook die begin van ‘n splinternuwe reis. Vir Jakob het dit die begin van ’n totaal nuwe lewe beteken. Die nuwe jaar hou splinternuwe uitdagings vir jou en my in. Kom ons begin ons nuwe reis soos Jakob, saam met die Here. Kom ons pak ons 2018 reis aan met Jesus as ons reisgenoot. Jakob wou bitter graag die verlede vergeet, en met alle ywer die nuwe lewe aanpak. Ons kan dieselfde doen. Vergeet van wat verby is, en pak die nuwe lewe aan met die oog gevestig op Jesus.

Gebed:

Here, dankie dat U met my is op hierdie lewensreis. Laat elke dag asseblief vir my ‘n splinternuwe begin wees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026