Egskeiding?

27 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Egskeiding?

Markus 10:1-12

VIDEO * OUDIO

Die twaalfjarige meisietjie se ma kom opgewonde ingehaas: “Ek het baie goeie nuus vir jou!” Dadelik is die kind die ene ore: wat is dit wat Ma so laat babbel? Dit moet iets baie groot wees! “My kind, jy gaan trou!”

Die arme meisie se hart gaan amper staan. Sy begin dan nou eers die lewe geniet! Sy is in die fleur van haar kind-wees, en nou moet sy trou! “Wie is hy, ma?”

Dan moet sy hoor dat dit die seun is van ‘n welgestelde veraf familielid wat in Jerusalem bly. Sy het hom nog nooit met ‘n oog gesien nie, nie eers van hom gehoor nie. “Hy is nog maar sestien jaar oud, maar sy pa sal goed voorsien,” babbel Ma opewonde voort. Die arme meisie het nie ‘n keuse nie! Pa het alreeds die onderhandelinge gedoen, en sy het géén sê daarin nie. Sy móét noodgedwonge voortgaan met die huwelik, al is daar géén sprake van liefde of romanse nie.

So het die meeste huwelike afgeskop in ou Israel, en so word dit, terloops, nog steeds gedoen in sommige van die Oosterse lande. En dit was seker ook een van die groot redes waarom mense in daardie tyd wou skei. Onpas paartjies is teen hulle wil saamgegooi in ‘n huwelikskookpot. Om só ‘n huwelik te maak werk, het baie harde werk gekos.

Jesus en die twaalf manne was van Kapernaum af op reis na Jerusalem, die plek waar Jesus geweet het Sy grootste probleme sou wag. Hy het egter nie weg van God se plan vir Hom weggeskram nie, maar doelbewus na die plek van Sy veroordeling gereis.

En dit is juis hier, op pad na Jerusalem, waar Jesus gekonfronteer word deur ‘n groepie Fariseërs. Hulle het ‘n eenvoudige vraag gevra, maar hulle het géénsins goeie bedoelings met hulle vraag gehad nie: “Mag ‘n man van sy vrou skei?” Hierdie is ‘n baie slim strikvraag, want daar was daardie tyd baie verskillende menings hieroor. Hulle wou Jesus dwing om standpunt in te neem, en wát Hy ookal sou antwoord, sou Hy op iemand se tone trap. Hulle het veral gehoop dat Hy Homself téén die tradisie van die Ou Testament sou uitspreek. En natuurlik was daar ook politieke motiewe, want die arme Johannes het kort tevore sy kop verloor omdat hy dit durf waag het om die onderwerp aan te roer in Koning Herodus se teenwoordigheid.

Maar weereens het die Fariseërs nie met Jesus rekening gehou nie. Hy het hulle geantwoord met ‘n teenvraag: “Wat sê Moses?” Die manne het die Wet goed geken: In Deuteronomium 24 het Moses geskryf dat ‘n man wél sy vrou mag skei as hy iets “onbetaamlik” aan haar sou vind. Maar die vraag is: wat presies beteken hierdie “onbetaamlik”? Die wetsgeleerdes het gestry dat die vonke spat oor wat Moses hiermee bedoel het. Die interpretasie het erg gewissel. Party het gemeen dat owerspel die enigste rede kon wees om te skei. Ander het geglo dat feitlik enige rede goed genoeg kon wees, soos as die vrou die kos verbrand het, of selfs as sy nie vinnig genoeg kinders kon voortbring nie, was dit vir sommige genoeg rede om te mag skei. Wette, wette en nogmaals wette! Dit is waarop hierdie manne se ganse lewe geskoei was.

Jesus se antwoord aan hulle was dat Moses egskeiding toegelaat het as gevolg van die hardheid van menseharte. En dan beklemtoon Hy hoe ontsettend belangrik God die huwelik ag.

As Jesus eenmaal deel van jou lewe geword het en jy Sy vryspraak ervaar het, mag jy nie meer toelaat dat jou lewe oorheers word deur allerlei reëls, regulasies en wette nie. Dan doen jy wat vir God aanneemlik is, om Hom te eer. En omdat God die huwelik as so belangrik sien in ‘n gelowige se lewe, sou dit verkeerd wees om te skei, nie omdat Moses of die een of ander wet so sê nie, maar bloot omdat dit vir God belangrik is.

Wat beteken dit in die praktyk vandag?

Vir ‘n begin moet ongetroudes baie versigtig wees oor die kies van ‘n lewensmaat. Dit mag nie sommer ligtelik gedoen word nie. As ons nie van ons huweliksmaat hou nie, skei ons mos maar net weer en kies iemand anders! Almal doen dit mos.......

Wanneer jy eenmaal getroud is, kos dit harde werk om die huwelik te maak werk. Ons moet ernstig en positief daaraan werk om God se bedoelinge vir ‘n huwelik na te streef en uit te leef.

Wat daarvan as daar probleme kom, en ‘n egskeiding dreig? ‘n Gelowige skei alleen as daar géén ander uitweg is nie. Gaan vir berading, en gaan woon ‘n huweliksverrykings geleentheid by. Doen alles moontlik in jou vermoë om die huwelik te red. Hou altyd in gedagte wat God se gevoel is oor die huwelik.

En wat daarvan as jy reeds geskei is? Vergeet van die verlede. Ja, dit is verkeerd om te skei. Net so is dit verkeerd om ‘n leuen te vertel of te skinder. Dit is nie ‘n onvergeeflike sonde nie! Aanvaar God se vergifnis en gaan aan met jou lewe. Hiermee wil ek nie sê dat ’n egskeiding sommer ligtelik opgeneem kan word nie! Inteendeel, enige beplande sonde is ernstig. Jy kán weer van voor af begin en ‘n nuttige Koninkryksburger word onder leiding van die Heilige Gees, al is jy geskei.

Gebed:

Here, gee my asseblief die krag en wysheid en wil om my huwelik lewendig te hou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026