Romeine 11:25-36
“Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.” So sluit Paulus die hartseer hoofstuk uit sy brief oor Israel af. Alles is nie verlore nie. God is steeds in beheer!
In die laaste deel van hoofstuk 11 wil Paulus vir sy lesers die versekering gee dat sy geliefde volk, Israel nie totaal verlore is nie. Inderdaad het ons in die vorige hoofstukke gelees hoedat Israel Jesus verwerp het en hoedat hulle die Hoeksteen waarop die ganse geloof gevestig is, afgekeur het. Buiten vir ‘n klein handjievol wat hulle hele lewe gewy het aan Jesus, het die res hulleself verhard teen die evangelie. Paulus verduidelik nou dat hierdie verharding van hulle harte sal voortduur tot nét voor die wederkoms van Jesus, “'Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, "totdat die volle getal van die heidene ingekom het.” Dan, sê Paulus, sal die hele Israel gered word.
Hoe moet ons dit verstaan? Sommige mense glo dat ons Paulus se woorde hier letterlik moet opneem en dat fisies elke Jood gered sal word. Ek dink nie dit was sy bedoeling nie, want net so min as wat elke heiden gered sal word, so min sal elke Jood tot redding kom. Slegs die uitverkorenes van die Jode, met ander woorde dié wat in Jesus glo sal gered word. Ons lees egter wél hierin dat daar kort voor die wederkoms ‘n groot bewuswording onder die Jode sal wees van Jesus en dat baie Jode tot geloof sal kom. Ons sien hierdie dinge alreeds gebeur en talle Jode is reeds gelowiges. Jews For Jesus doen byvoorbeeld wonderlike evangelisasiewerk onder die Joodse volk.
Paulus noem egter verder ook dat Jode en nie-Jode mekaar bevoordeel. In die begin het ons gesien hoedat God se seëninge op die Jode oorgedra is na die heidene deurdat Joodse gelowiges net eenvoudig nie kon stilbly oor wat met hulle gebeur het nie. Sendelinge soos Paulus het die boodskap oor die ganse heidenwêreld versprei. Die wiel het egter gedraai en nou is dit weer die nie-Jode se beurt om die evangelieboodskap aan die Jode te bring sodat hulle óók kan deel in God se wye genade.
Hoe gaan hierdie misterieuse ontplooiing van God se genade in die toekoms ontvou? Ons weet nie. Dit is deel van God se groot raadsplan. Wat ons wél weet is dat ek en jy deel is van hierdie raadsplan en dat ons ‘n roeping het wat ons moet uitleef. Dalk kan ons ook maar net saam met Paulus sing: “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken?” (Rom. 11:33,34).
Inderdaad is Paulus hartseer omdat sy geliefde volk nie wil glo nie. Hulle bly die evangelie verwoed verwerp. Maar dan gaan hierdie hartseer oor in ‘n loflied. Eintlik wil ons vir Paulus vra: “Maar Paulus, hoe is dit dan moontlik om jou bittere hartseer so in ‘n loflied te laat oorgaan?” Hierdie massabekering van die Jode wat hy voorspel, is nog maar net ‘n gedagte. Die hier-en-nou is dat die Jode harte van klip het. Hoe moet ons vir Paulus verstaan? Die groot geheim is dat Paulus sy loflied kan sing omdat hy vasgryp aan die Godheid van God. Nee, hy hoef sélf nie al hierdie dinge te verstaan nie. Dit is vir hom gladnie deel van die voorwaarde vir sy geloof in God nie. Die reuse troos is dat God getrou en alwetend is en dat HY alles verstaan. Paulus besing dan juis die ondeurgrondelike rykdom en wysheid en kennis van God!
Ja, ek en jy beleef dikwels ook baie hartseer oor dierbares in ons lewe wat steeds hulle harte verhard teenoor die evangelie. Dikwels is daar ouers wat bittere lyding deurgaan oor hulle kinders wat totaal afgedwaal het van die mooi pad waarop hulle grootgemaak is. Ek ken menige ouers wat baie huil oor hulle kinders. ‘n Mens wil totaal hoop verloor, want hoe sal hulle ooit gered kan word?
Maar dit is juis in hierdie skynbare onmoontlikheid van hulle redding dat ‘n mens moet vasgryp aan God. Sy weë is totaal ondeurgrondelik! Wat vir ons menslik onmoontlik lyk is vir God baie moontlik. Dink byvoorbeeld maar aan jouself en hoedat jy op ‘n wonderbaarlike manier gered is. Die wonder-verhale van mense se redding is legio. Ek het self al situasies aanskou waar redding gans onmoontlik gelyk het, maar waar God die wonderwerk tóg laat gebeur het. Inderdaad gebeur wonderwerke nog elke dag! Om die waarheid te sê is elke redding van ‘n siel ‘n wonderwerk op sy eie en ons kan maar net in aanbidding voor die grote en almagtige God neerval daarvoor!
Ja, ek en jy moet so aan God se genade vasklou en vertrou dat ons nooit sal ophou om te glo en te bid vir daardie dierbares van ons wat steeds ongered is nie. Ons moet aanhou om ‘n voorbeeld vir hulle te stel en vir hulle ‘n spieël te wees wat God se helderwit lig weerkaats sodat hulle Hom in ons kan sien. Dan sal jy ook saam met Paulus vanoggend hierdie loflied kan sing - die loflied van God aan Wie die heerlikheid tot in alle ewigheid behoort!
Gebed:
Here, uit U en deur U en tot U is alle dinge - aan U behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid!