Droogvoets Deur die See

27 June, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Droogvoets Deur die See

Eksodus 14:15-31

???? VIDEO | ???? OUDIO

Wat aanvanklik vir die Israeliete dalk na ‘n groot lekkerte gelyk het, word nou skielik ‘n soliede muur waarteen hulle hulle vasloop. Die Rietsee lê onoorbrugbaar voor hulle - géén deurkomkans! En agter hulle grom die magtige Egiptiese leër. Teen hierdie gedugte soldate het hulle géén kans nie. En hulle kerm: “Is daar in Egipte nie genoeg plek om ons te begrawe nie, en nou sleep jy ons woestyn toe om hier te sterf?” verwyt hulle vir Moses. Nét gister nog was hulle die ene opgewondenheid, en vandag......? “Ons het jou mos gesê......!”

Maar Moses het ook al deur hierdie paadjie gestap. Aanvanklik het hy ook heftig teëgestribbel en gemor en oral net mure gesien waarteen hy hom kon vasloop. Maar toe begin hy besef wie God werklik is. Toe hy begin agterkom dat God Sy Woord gestand doen, het hy begin vertroue kry in God. “Moenie bang wees nie.” probeer hy die volk kalmeer. “Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red!” Hy probeer hulle moed inpraat. Nee, hy het sélf nog nie eers die vaagste idee van hoe hulle gered gaan word nie, maar één ding staan vas: as God gesê het dat Hy hulle gaan red, dan sál Hy dit doen!

Dan kom God se bevel aan Moses: “Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek.” Dan draai Moses om na die volksleiers: “Manne, kom ons trek! Voorwaarts mars!” Hulle gaap hom in ongeloof aan: “Deur die see? Jy het nou beslis ál jou varkies verloor!” Agter hulle hoor hulle alreeds die strydkrete van die Egiptenare opklink. Dit eggo deur die klowe en rante. En dan gebeur daar ‘n asemrowende ding: Die kolom wolke wat nog die hele tyd voor hulle was, skuif skielik oor hulle koppe agter hulle in, en vorm ‘n soliede wolkbank tussen hulle en die Egiptenare. Hulle hoor hoe die strydkrete skielik opdroog. Wanneer die son sak, is hierdie wolkmuur helder verlig aan die kant van Israel, sodat hulle duidelik kan sien wat om te doen - so helder soos daglig.

Aan die kant van die Egiptenare is daar egter groot ongelukkigheid en frustrasie, want tussen hulle en die Israeliete daar onder is ‘n pikswart wolkmuur - ondeurdringbaar! Nie alleen kan hulle gladnie sien waar hulle prooi is nie, maar weldra word hulle in totale duisternis gehul.

Nou is die verhoog opgestel vir sekerlik die mees dramatiese skouspel óóit. Op God se bevel draai Moses na die see en strek sy staf oor die water. Op daardie oomblik steek daar ‘n oostewind op, en voor die verbaasde oë van die Israeliete begin die water van die see stadig oopkloof. Terwyl hulle oopmond staan en kyk, vorm daar ‘n wye pad voor hulle deur die see. Weerskante van hierdie pad staan daar twee mure water. Soos een man storm drie miljoen Israeliete die see in. Dwarsdeur die nag loop hulle so vinnig hulle kan, want agter hulle is die leër van Egipte. Voor hulle wink die beloofde land. Wanneer die son die volgende oggend sy kop uitsteek, stap die laaste van die reuse kolom Israeliete teen die anderkantste oewer van die see uit - almal droogvoets daardeur. In die kamp van Israel heers daar groot vreugde - hulle is gered!

Oorkant die water is dit egter ‘n perd van ‘n totaal ander kleur. Die Farao is woedend: “Hoe het julle dit reggekry om hulle te laat wegkom?” tier hy. Waar hy op die hoogte staan, voel dit vir hom asof sy oë hom bedrieg. ‘n Breë pad strek dwarsdeur die Rietsee. “Gaan kry hulle!” skree hy histeries op sy generaals. In ‘n groot stofwolk storm die strydwaens die afdraende af na die see toe. Die soldate is eers bitter huiwerig om dit op hierdie nuwe pad te waag. Bevrees kyk hulle na die mure water wat weerskante van die pad optoring. Maar hulle vrees vir die Generaal is groter as dié vir die onbekende, dus storm hulle blindelings die see in op droë grond.

Maar dan begin dinge verkeerd loop. Dit is asof die perde nie wil saamwerk nie - hulle is bang. En van die manne wil omdraai as die skrikwekkende waters te hoog begin raak. Voorlangs heers daar algehele chaos, en in die proses kom een kêrel se wiele af. Dit vorm ‘n hele kettingreaksie en binne ‘n kort tydjie is daar die moeder van alle verkeersknope in die middel van die Rietsee. “Draai om! Draai om!” skree hulle vir mekaar, maar dit is reeds te laat. Moses het reeds sy kierie, op God se bevel, geswaai oor die see. Beangs kyk die Egiptenare toe hoedat die pad begin toemaak van weerskante af. Angsgille styg op uit die see as die reuse mure water oor die elite-leër van Egipte stroom en hulle strydkreet vir ewig doodsmoor!

Later daardie dag sien die Israeliete enkele lyke uitspoel op die strand - ‘n stille herinnering aan God se redding en Sy almag. Daardie aand weergalm ‘n loflied oor die woestyn as Israel soos een man saam sing: “Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog en verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger. Die Here is my krag en my beskerming.” As die Egiptenare dit maar net kon gehoor het........

Gebed:

Here, U grote Naam wil ek loof en prys, en saam met Israel vandag ‘n loflied laat opstyg tot in die hemel. U is groot en goed en almagtig. U is my Redder!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026