Genesis 3:8-13
Het die aarde geskud? Het die sterre uit die hemel geval? Is die twee mense wat teen God in opstand gekom het, deur ‘n weerligstraal getref sodat hulle dood neergeslaan het?
Nee!
God het bloot soos gewoonlik in die tuin gewandel op die gewone tyd, in die koelte van die vroeë aand. Hierdie was sékerlik die gebeurtenis waarna Adam gereeld uitgesien het. Dit was heerlik om só saam met die Here te verkeer. Nou het alles egter totaal verander vir dié twee mense. Adam en Eva het verskrik weggekruip toe hulle van Hom bewus word. Maar God het hulle geroep. Nie woedend nie, maar vriendelik: “Waar is julle?” Alles was nog presies dieselfde. Van God se kant af het absoluut niks verander nie.
Maar vir Adam en sy vrou Eva was dit ‘n totaal ander saak. Hulle was bang vir God want hulle het bitter skuldig gevoel oor hulle verfoeilike verraad. Dus het hulle gaan wegkruip in die hoop dat God hulle nie sou raaksien nie. Toe hulle egter begin besef dat dit niks help nie, kom Adam met ‘n stortvloed van woorde om homself te probeer verontskuldig: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. En toe het ek weggekruip!”
As Adam maar net sy skuld bely het: “Here, ek het teen U gesondig. Vergewe my asseblief!” Maar nou probeer hy sy sonde wegpraat met allerhande onbenullige dinge.
Wanneer jy iets het om weg te steek, raak die teenwoordigheid van iemand baie naby aan jou vir jou ‘n verleentheid. So kan dit selfs beteken dat dit vir jou ‘n verleentheid kan wees om in God se teenwoordigheid te wees. Dan probeer jy allerhande verskoninkies uitdink.
Steeds probeer die Here vir Adam net sover kry om te bely dat hy skuldig is. “Hoe het jy besef dat jy kaal is? Het jy tog nie van die verbode vrug geëet nie?” Weereens het Adam die volle geleentheid om om vergifnis te vra en te bely dat hy verkeerd was, maar hy doen dit nie. Hy pak dadelik die skuld op “die vrou wat U my gegee het.” Hiermee wil hy eintlik dan sê dat dit indirek God se skuld is dat hy oortree het. “Daardie vrou” het hom verlei om te eet.
Wanneer die Here vir Eva vra: “Wat het jy nou gedoen?” is haar antwoord verontskuldigend: “Die slang het my mislei.” In haar woorde lees ons dat sy voel dat sy eintlik totaal onskuldig is. Sy is nie werklik jammer oor wat sy gedoen het nie, maar sy voel jammer omdat sy nie gekry het wat sy verwag het nie.
Ag, ons wil so graag eerder die skuld vir ons dade pak op ons omstandighede, die slang, “daardie vrou,” die versoeking waarin God my laat beland het. Eintlik het dit alles te make met die verkeerde keuses wat ons maak. Josua het die volk ook voor ‘n keuse geplaas in Jos. 24:15 toe hy gesê het dat hulle moes kies watter God hulle wou dien. “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien,” het hy dit baie duidelik gestel. Dit was sy keuse!
Adam en Eva het die verkeerde keuses gemaak. Daardeur is hulle verhouding met God versuur. Hulle het selfs vir Hom probeer wegkruip, wou nie meer met Hom praat nie, wou Hom nie meer sien nie! Hy het sóveel mooi drome vir hulle gehad. Hulle was dan die kroon van Sy skepping! Hy het dan soveel vir hulle gedoen, vir hulle die mooiste tuin in die heelal spesiaal ingerig. Hy het selfs elke aand uit die hemel neergedaal om saam met hulle te kuier. Hy het selfs Sy eie asem in hulle geblaas om hulle lewe te gee. Hoe kon hulle dit so gou al opgemors het? Hulle het Hom bitter seer gemaak. Sal Hy hulle ooit hiervoor kan vergewe? Sou dit nie dalk beter wees om hulle te vernietig en oor te begin nie?
Maar dit is nie net die verhouding met God wat skade gely het nie. Adam het nie alleen die Here blameer nie maar ook vir Eva. Hy was baie gewillig om daardie vrug te neem sonder om eers enige navraag daaroor te doen. Maar nou is dit kwansuis háár skuld dat hy van die vrug geëet het. Hy kon só maklik “nee dankie” gesê het, maar hy het nie. Daardie wonderlike verhouding tussen hulle was gebreek. Weg was die totale verwondering waarmee hy haar daardie eerste dag aangekyk het. Weg is die loflied wat hy oor haar gesing het. Het hy al vergeet dat Hy sélf in ekstase vir die Here gesê het dat sy onlosmaaklik deel van hom is, want sy is uit hom gemaak? Vlees van sy vlees? Nou is dit “daardie vrou!”
Dit gaan egter verder, want daar het selfs ‘n skeuring gekom tussen die mens en die natuur. Die vrou beskuldig die slang.
Vandag is dit steeds so. Sonde bring skeuring. Wanneer ek sondig, dryf dit ‘n wig in tussen my en God. Nee, dit is eintlik gladnie Hy wat wegstaan nie, maar my eie skaamte wat maak dat ek Hom nie meer in die oë kan kyk nie. Dan is ek te bang of dalk te hoogmoedig om my voor Hom te verootmoedig en om vergifnis te vra. Ek pak die skuld vir my sonde op omstandighede. Ek kruip eerder vir Hom weg. Ek kom al minder en minder by ‘n erediens, totdat ek naderhand heeltemal wegbly.
Sonde dryf ook ‘n wig in tussen man en vrou. Hoeveel huwelike gaan jaarliks te gronde, en dit net deur sonde? Dit is tragies. En dit kan voorkom word as mense net bereid is om mekaar te vergewe. Dit kan soveel huwelike red!
Gebed:
Here, My hart is bitter seer oor soveel huwelike wat op die rotse beland.