Dink Gróót

29 August, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Dink Gróót

Romeine 15:22-33

VIDEO | OUDIO

Dink gróót! Dit was al dikwels die begin van ‘n reuse aksie wat die wêreld geskud het. Die beroemde evangelis, Billy Graham het klein begin maar groot gedink. Terwyl hy in Florida studeer het, het hy dikwels na 'n eilandjie toe geroei en daar gaan "preek" vir die eende en krokodille in die rivier. Dit was in 1937. Toe hy tien jaar later, op 28 jarige ouderdom sy eerste "crusade" hou, het nie minder nie as 6'000 mense dit bygewoon. In 1973 besoek hy Suid-Afrika en in Durban woon 'n verstommende 100'000 mense die eerste groot gemengde byeenkoms in die land se geskiedenis by. Later sou daar nog báie groter byeenkomste volg soos byvoorbeeld die een in 1992 in Moskou in Rusland waar 'n asemrowende 155'000 mense 'n byeenkoms bygewoon het! Tydens daardie geleentheid het 'n kwart van die reuse skare agterna 'n oorgawe aan Jesus gemaak!

Van Paulus kan ons presies dieselfde sê. Hy was absoluut gehoorsaam aan die stem van God. Hy het sy eie Joodse vooroordele prysgegee om die evangelie na die heidennasies toe te neem. Maar Paulus se sendingveld het nie maar gebly by een enkele streek nie. Nee, sodra hy mense in ‘n stad of gebied oortuig het van die evangelie het hy verder gegaan na waar die evangelie nog nooit voorheen verkondig is nie. Al wyer en wyer het sy sendinggebied uitgekring en al verder en verder het Paulus gedink en beplan. Die grense wat hy aan homself gestel het was die verste uiteindes van die bekende wêreld, naamlik Spanje. Of hy ooit by Spanje uitgekom het, is nie seker nie maar daar word beweer dat hy wél daarheen gereis het nadat hy die eerste keer uit die tronk in Rome vrygelaat is.

Daar word beraam dat Paulus sowat 26’000 kilometer te voet afgelê het tydens die drie sendingreise wat in Handelinge vir ons beskryf word. Totaal onbevrees het hy voortgestoom! Waar sy mede-Christene hom dikwels probeer keer het wanneer die gevaar te groot lyk, het hy hulle bloot geïgnoreer en onverskrokke verder gegaan!

Hy skryf byvoorbeeld hier aan die gemeente in Rome van sy plan om na Jerusalem te gaan. Almal het hom probeer keermaar in Handelinge lees ons hoedat hy nogtans rég in die kake van die leeu ingeloop het en so byna-byna met sy lewe geboet het! Maar God het hom selfs deur hierdie krisis gedra en in Rome gebring waar hy wou en móés wees.

Vanoggend is die vraag wat die Here vir jou en my vra: Hoe groot is ek en jy bereid om te dink in terme van die Evangelie? Natuurlik is hier ‘n groot aantal leunstoel-Christene wat hierdie oordenking lees, mense wat absoluut niks doen om die evangelie verder te neem nie maar net die byvoordele wil geniet. Dit het tyd geword dat jy uit daardie gemakstoel opstaan en iets daadwerklik doen! Gelukkig is daar ook baie van ons lesers wat wél bereid is om die moue op te rol. Die probleem is egter dat ons totaal te klein dink en beplan. As ek een persoon besoek het, is ek tevrede! Ek was byvoorbeeld heeltemal tevrede om hierdie dagstukkies vir slegs 40 mense aan te stuur. Toe die Here my oë oopmaak en ek groter begin dink, gaan die deure skielik wawyd oop en vandag is daar duisende mense wat dit elke dag ontvang!

Ek wil vandag begin om gróót te dink. My droom is dat nóg baie meer mense hierdie oordenkinge te lese kry en daarvoor het ek egter jóú hulp nodig. Dit werk so: gaan bid daaroor en dan gaan maak jy 'n lysie van almal op jou selfoon se adreslys en stuur die skakel vir hulle aan, verkieslik op 'n permanente basis. Op hierdie manier kan jy dalk die evangelie besorg aan iemand wat nog nooit ‘n ontmoeting met Jesus gehad het nie.

Daar is ook ander maniere om groot te dink. Het jy al ooit oorweeg om op ‘n uitreik te gaan na een van die lande waar die Evangelie haas nie bestaan nie? Daar is talle sulke geleenthede, soos die Masedonië Projek. Hier plaaslik werk ons gemeente saam met 'n arm Indiërgemeente in Shakas Kraal aan uitreike na Djabula in Mosambiek waar die nood baie groot is en waar met groot vrug gewerk word.

Wanneer ons vanoggend se Skrifgedeelte lees, sien ons dat Paulus ook ‘n ander, baie dringende versoek rig aan sy lesers: “Stry saam met my deur vir my te bid.” Inderdaad het Paulus baie voorbidding nodig gehad juis omdat hy so groot gedink het, want sy beplanning het hom dikwels in groot gevaarsituasies laat beland.

Vandag het enige evangeliebedienaar ook baie voorbidding nodig. Inderdaad is die gevare vandag totaal anders maar hulle is steeds daar. Die persoon wat bereid is om die Woord uit te dra, verduur gedurig aanvalle van die bose, soms om hom moedeloos te maak en hom te laat tou opgooi. Vanoggend wil ek jou vra om ernstig te bid vir diegene in jou lewe wat bemoeid is met die uitdra van die evangelie, jou predikant/pastoor, sendeling ens. Maar ek vra ook dat jy vir my sal bid. Ek het dit baie nodig om die Woord suiwer die wêreld in te stuur en ywerig die dagstukkies te skryf!

Gebed:

Here, ek dank U vanoggend vir elkeen wat bereid is om die evangelie uit te dra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026