Openbaring 14:1-5
‘n Tinteling van opgewondenheid tril deur my liggaam. Voor my, die bek van die treintonnel wat ou President Paul Kruger by Waterval Boven deur die granietrotse laat kap het vir die spoorlyn na Lourenço Marques. Ek is ‘n jong seuntjie, propvol energie, en altyd ‘n bok vir avontuur. Anderkant die tonnel druis die waterval. Ek was al menigmaal by hierdie aanskoulike waterval, maar hierdie keer is dit anders, want die Elandsrivier is in vol vloed.
Om deur hierdie spokerige tonnel te loop, is opwindend. Vir die eerste klompie treë hardloop ons kinders die misterieuse donker gat opgewonde binne, totdat jy naderhand nie meer jou hand voor jou oë kan sien nie. Waterval Boven se beroemde ou tonnel maak ‘n draai deur die berg, gevolglik is dit pikdonker binne. Boonop lê daar ook nog allerhande soorte rommel in die tonnel rond, stukke treinspoor, klippe, dwarslêers, gemors, gate. ‘n Man moes maar katvoet loop, en as jy oor een van hierdie goed val, dan wil die stofdampe jou verstik. Boonop is daar allerhande stories van spoke en grillerige goeters, mense wat jare gelede in die tonnel deur ‘n trein papgery is!
‘n Yskoue rilling hol agter my ruggraat af, as ‘n vlermuis by my oor verby swiep. Na wat soos ‘n ewigheid voel, begin daar ‘n effense ligskynsel voor in die tonnel kom. Dit word helderder en helderder, totdat ek daar voor die skitterende lig van die tonnelopening sien deurbreek. Die laaste entjie hardloop ons uitbundig uit pure rammetjie-uitnekgeit, totdat ek in die helder sonskyn staan, met die gedonder van die waterval nou sommer baie groot.
Ons klouter oor reuse rotse teen die steil berghang af. Dan is die waterval skielik voor ons in al sy glorie, ‘n skouspel van mag en majesteit. Die voetpaadjie af na die Elandsrivier toe is nou en besaai met reuse rotse en brandnetels wat jy soos die pes moet vermy, anders sê jy sommer lelik les op. Die dreuning van die waterval word al harder en harder, totdat dit uiteindelik, wanneer ons aan die voet van die waterval staan, ‘n oorweldigende, dreunende gedonder is wat deur jou hele liggaam ruk. “Awesome!” sou vandag se jongmense sê. Maar ten spyte van die geweld, speel ‘n sagte mis met my gesig. God se nabyheid is so geweldig sigbaar, tasbaar.
Ek weet presies hoe Johannes gevoel het in hierdie visioen, waar hy die 144’000 uitverkorenes op die Sionsberg gesien het. Teenoor die gesig van die draak en sy trawante, wat dood en verwoesting saai, word hierdie toneel nou van die Lam geskets. Sommer dadelik kry jy weer nuwe moed vir die lewe. Die Sionsberg is natuurlik die plek waar die tempel gestaan het. Daar het God gewoon, só het die Jode geglo, en dáár, sou die Messias eendag, aan die einde, verskyn.
Die geluid wat Johannes beskryf is intensief-dramaties, soos ‘n waterval in vloed. Of donderweer, gekombineer met die sagte, rustige klanke van siterspelers. En dan, die grootse oomblik wanneer ‘n magtige koor met sy 144’000 koorlede ‘n splinternuwe lied sing. Ek het al ‘n koor met 1’200 stemme beleef, en dit was aangrypend. Kan jy jou so ‘n reuse koor voorstel? Hemelse klanke het die hele lugruim gevul!
Daar is ‘n paar vrae oor hierdie skaar van mense: Is dit net mans? Is dit slegs mense wat nooit getrou het nie? Sommige wil wel so dink. Dit moet egter teen die agtergrond van ‘n manlike leër gesien word. Terwyl daar oorlog gemaak is, was die manne verbied om selfs by hulle eie vrouens te slaap. Dit sou dui op onverdeelde trou aan die land. Op dieselfde wyse sien ons die trou van hierdie 144’000 mense aan Christus, wat hulle nie met goddelose afgodery besoedel nie. Hulle kuisheid lê juis in hulle onverdeelde trou aan die Lam, en hulle volg die Lam. Hulle gehoorsaamheid aan die Lam word sigbaar in hulle navolging deur woord en daad.
Hierdie mense is losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam (vers 4). Eerstelinge in hierdie sin dui op die eerste vrugte van die oes wat aan God geoffer is, om hierdeur te sê dat die hele oes eintlik aan God behoort. Uit hulle monde het daar nooit ‘n leuen gekom nie. Dit beteken dat hulle God nooit verloën het nie. Hulle het aan die Waarheid vasgehou en in die Waarheid geleef. Terselfdertyd was hulle onberispelik (vers 5). Net soos ‘n offerlam onberispelik moes wees, sonder enige gebrek en geskik vir God se offer, so was hierdie 144’000 in alle opsigte geskik en bruikbaar vir God.
Die vraag is vanoggend, of ek en jy kan aanspraak maak op ‘n plek in daardie koor. Hoe leef ons die Waarheid uit? Hoe onberispelik is ons lewens? Is ons werklik geskik en bruikbaar vir God?
Gebed:
Here, ek moet bely dat daar nog talle tekortkominge in my lewe is. Dikwels kyk ek anderpad wanneer u Naam beswadder word, en soms tree ek liefdeloos op teenoor u kinders. Vergewe my daarvoor, Here, en maak my asseblief bruikbaar vir U Koninkryk.